Louw, Gerrit Stefanus

 

GEBORE

04 Mrt. 1972

OORLEDE

15 Sep. 2006

UNIVERSITEIT

BA, BA (Honneurs); BTh, MTh, (US)

GELEGITIMEER

1999

ORDEN

2004

STANDPLASE

2000 Sonstraal (Jeugwerker)

2004 Melville

EMERITEER

Gerrit Stefanus Louw is op 4 Maart 1972 in Pretoria gebore, die tweede oudste van vyf kinders, drie seuns en twee dogters. Hy beleef ‘n besonder gelukkige kindertyd en is ‘n sensitiewe kind wat reeds as klein seuntjie toon dat die dinge van die Here vir hom ems is. Stefan se vader is ds Willem of Willie Louw en sy moeder Louisa, twee geliefde kinders van die Here met ‘n leeftyd van diens aan die sending en Koninkryksdiens. Ds Willem is na voltooiing van sy teologiese opleiding in 1959 reisende sekretaris van die CSV en word in 1961 herder en leraar van die NG Strooidakkerk in die Paarl.

Ds Willem voel intens geroepe tot die sending, hy is elf jaar lank betrokke by die Dorothea Sen- ding in Pretoria, ‘n besondere tyd in die gesin se lewe waar hulle die seënende hand van die hemelse Vader beleef. Daama is hy sendeling in die Ring van Okahandja aan die kus van Suidwes-Afrika. Vanaf 1984 tot 1990 is hy organiseerder Godsdienstige programme by SWAUK en van 1992 tot 1999 leraar van die NG Gemeente Gochas in Namibië. Louisa is jare lank ‘n onderwyseres wat met oorgawe en blydskap kinders voorberei vir die lewe. In 1999 aanvaar ds Willie Louw sy emeritaat en die egpaar vestig hulle in Somerset-Wes.

In 1978 begin Stefan sy skoolopleiding aan die Laerskool Voorpos in Pretoria en sit in 1982 dit in SWA voort aan die Laerskole Walvisbaai en Pionierpark in Windhoek. ln 1990 matrikuleer hy aan die Hoërskool Academia in Windhoek waar hy as geestelike leier optree, veral in die ACSV. Hy leef hom uit in kampe en die buitelugskool. Daar ontwikkel hy ‘n besondere liefde vir die natuur van Namibië. Stefan voel van kleins af geroepe om predikant te word, dit was vroeg reeds sy passie om die evangelie te verkondig.

In 1991 word hy student aan die Universiteit van Stellenbosch en verlaat die Eikestad aan die einde van sy tweede jaar om in 1993 by Christelike Mobiele Lektuur in Windhoek te werk. In 1994 keer hy terug na Stellenbosch waar hy verder studeer en die BA-graad in 1995 verwerf, ook in 1997 die BA (Honneurs) in Filosofie. In 1998 doen hy sy praktiese jaar in die NG Moedergemeente Windhoek, onder leiding van ds Thijs van der Merwe. Hy is ook student aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch waar hy in 1999 die BD-graad verwerf en ook deeltyds as jeugwerker in die NG Gemeente Sonstraal werk. Aan die einde van 1999 word hy as proponent van die NG Kerk op Stellenbosch gelegitimeer. Hy doen met groot seën sy eerste uitreik met ongeveer 45 skoliere en studentehelpers in die NG Gemeente Gochas, die VGK- en Nama Lutherse gemeente. Van 2000 tot die winter van 2004 is hy voltydse jeugwerker in Sonstraal. Daar is baie dinge maar veral sy “Sorgweek” na hulpbehoewendes wat blywend en kosbaar is. Die uitreike met kinders in 2000 na Xanaxas in Botswana en jaarliks van 2001 tot 2002 na Leonardville in Namibië, is hoogtepunte in die kinders se lewe. In 2002 word die MTh-graad (cum laude) in Sistematiese Teologie aan hom toegeken. Stefan trou op 9 November 2002 met Brenda Burger, CFA in die finansiële wëreld. Daar is geen kinders uit die huwelik gebore nie.

In 2003 het dinge in die hart van Johannesburg so verander dat die gemeentes Melville en Aucklandpark nie net ‘n kerkgebou deel nie, maar dat die gemeentes saam funksioneer. In hierdie tyd roep die Here ‘n jong egpaar na die NG Gemeente Melville in die hart van die Goudstad in Ciauteng, waar hy op 25 Julie 2004 bevestig word. Die bevestigingsrede is gelewer deur ds Auke Compaan. Ds Stefan Louw lewer op 1 Augustus 2004 sy intreepreek met Jak 4:15 as teksvers. Hy het dinge in Melville op ‘n nuwe en vars manier hanteer, wat toe bekend geword het as die Melville Kruisgemeente. Hier het hy veral kerkloses na die gemeente gelok, selgroepe gestig en ‘n openheid gebring. Na slegs twee en ‘n half jaar, lees Suid-Afrika met skok in groot letters die koerantopskrifte: “Barbaarse moord. Vrou hoor gewonde dominee se laaste woorde” (Die Burger, 18 September 2006); “Ontsteltenis, hartseer oor moord op leraar” (Rapport, 24 September 2006); Dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk het gesê: “Die moord laat (‘n mens met) emosies van woede, verslaentheid en wanhoop. Hoe lank moet die inwoners van hierdie wonderlike land dit nog verduur? Die mense is moeg vir geweld”. Ds Johann Symington, kommunikasiehoof van die NG Kerk, reageer op die tragiese moord: “Hy was een van die kerk se knapste teoloë. Geweld en bekamping daarvan is nou nie meer net die verantwoordelikheid van die staat nie, maar ook van die kerk. Ons kan nie langer so leef nie. Die kerk sal die taak op hom moet neem om daadwerklik vir ‘n veiliger land te help sorg.”

Omstreeks om 23:00 op Vrydagaand 15 September 2006 het inbrekers ds Stefan Louw in die slaapkamer van sy pastorie in Melville geskiet, waama hy na die studeerkamer gekruip het om sy vrou Brenda, wat in die Kaap by haar ouers gekuier het te bel. Hy is kort daama op die toneel dood. Die inbrekers het waarskynlik toegang gekry deur ‘n oop skuifdeur waardeur die hondjie in die nag kon uitgaan. Na die dood was daar landwyd woede en verslaentheid oor die lafhartige daad en gebrek aan veiligheid in die land. Ds Stefan se begrafnis vind op Woensdag, 20 September 2006, vanuit die Melville Kruisgemeente plaas. Ds Andrê Agenbag bedien die Woord uit Job 38:18-25 in ‘n stampvol kerkgebou.

Stefan was ‘n kritiese denker met ‘n fyn aanvoeling vir die uitdagings van die kerk, ook koersaanpassings wat hy gedink het broodnodig is. Hy kon onafhanklik dink en het ‘n talent besit om die modeme samelewing binne die Bybelse konteks te verstaan. Met sy diep insig in mense het hy die gawe besit om ‘n nuwe geslag kerkmense te bereik en te bedien. Hy het baie simpatiek teenoor die gay-kwessie in die NG Kerk gestaan.

Uit talryke huldeblyke na ds Stefan Louw se dood, haal ons ‘n deel van Annalise Wiid se hartswoorde aan: “Sy r’e het soos lekkergoed in sy mond gerol as hy praat. Mooi. Hy was goed met woorde. En met mense. En met dink. En met verstaan. Sy oë was besonder blou. Sy hare vroegtydig grys. En hy is voortydig dood. Vrydagaand. Sommer net geskiet. Vir niks. Sinneloos! Want in hierdie land van ons het minagting vir en miskenning van die waarde van ‘n lewe ‘n vervloeking geword. Ons hark stukkies onthou nader. Stukkies kosbaarheid waarvan hulle ‘n mosakk gaan pak; ‘n heel gebroke beeld van wie hy was, hoe hy was: Die een wat goed was met versoening en liefhê. Die een wat betyds, die plek Ieer ken het waar God en mens mekaar ontmoet.”