Louw, Frans Van Zyl

 

GEBORE

25 Junie 1946

OORLEDE

10 Maart 2015

UNIVERSITEIT

BA, BTh (US)

GELEGITIMEER

1973

ORDEN

1974

STANDPLASE

1974 Venterstad

1977 Newtonpark

1982 Randburg

1995 Parksig

2007 Rand-en-Dal

2011 Oranjeville

EMERITEER

Frans van Zyl Louw is op 25 Junie 1946 in Kaapstad gebore. Sy pa, Johannes Abraham Nel Louw, werk in die staatsdiens en sy ma, Joan du Pré van Zyl, is ‘n maatskaplike werker wat in huweliksberaad spesialiseer.

Frans begin in 1952 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en matrikuleer in 1964 aan die Hoërskool DF Malan in Bellville. Op skool blink hy uit in rugby en atletiek. Na matriek doen hy ‘n jaar lank militêre diensplig.

Frans voel geroepe om predikant te word en word in 1966 student aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1969 die BA-graad verwerf. Hierna gaan hy Kweekskool toe waar hy die BTh-graad en die Lisensiaat in die Teologie verwerf en aan die einde van 1973 as proponent gelegitimeer word. Hy skryf sy BTh-skripie oor die “Jehovasgetuies”.

Op 26 Junie 1971 trou hy met Christine, wat hom tot aan die einde van sy lewe getrou in die gemeentebediening ondersteun. Uit die huwelik is ‘n dogter, Chrisna, gebore.

Frans ontvang ʼn beroep na die NG gemeente Venterstad in die Noordoos-Kaap waar hy op 25 Januarie 1974 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hier tussen die boeremense digby Oviston, waar die water van die Gariepdam met ‘n tonnel na die Visrivier by Cradock vervoer word, beleef hy sy eerste bedieningservaring.

Op 15 Julie 1977 word hy leraar van die NG gemeente Newtonpark in Port-EIizabeth. Op 14 Augustus 1982 word hy leraar van die NG gemeente Randburg, ‘n gemeente wat geweldig uitbrei. ‘n Nuwe kerkgebou word opgerig. Daarna word hy op 22 Januarie 1995 leraar van die NG gemeente Parksig (nou Parkkruin) in Johannesburg waar hy werk tot hy demissie in 2001 kry en in 2003 sy emeritaat aanvaar.

In 2004 word ds. Frans pastorale hulp in die gemeente Goedgegun in Swaziland. Hier werk hy met oorgawe totdat hy in 2007 leraar word van die NG gemeente Rant-en-Dal op Krugersdorp. Hier aanvaar hy verantwoordelikheid vir selbediening en die bediening van senior lidmate in die gemeente.

In 2011 word hy leraar van die NG gemeente Oranjeville langs die Vaaldam in die Noord-Vrystaat. Hier doen hy goeie werk, totdat hy op 10 Maart 2015 na die hemelhuis geroep word. ‘n Roudiens vind plaas op 14 Maart 2015 in die kerkgebou van Oranjeville. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM