GEBORE
04 Jul. 1895
OORLEDE
11 Des. 1990
UNIVERSITEIT
B.A., M.Th. (Princeton); D.Litt. (Stel.)
GELEGITIMEER
1921
ORDEN
1922
STANDPLASE
1922 Bloemfontein-Noord (Hpr.)
1924 Morgenster
1942 Pamushana
1947 Witrivier
EMERITEER
1959
Dis ‘n mooi Sondagoggend in April 1991, in die Mucheke-kerk in Zimbabwe. Die predikant kondig aan dat ons uit Eksodus 3 gaan lees. Onmiddelik gaan daar ‘n geruis en geritsel van papier op in die kerk soos die gemeente die Skrifgedeelte opsoek in hulle Shona-Bybels. Want om ‘n Bybel in hulle eie taal te besig, en om saam met ander die Woord van die Here in Shona te kan lees, is vir hulle ‘n kosbare voorreg.
Ons gedagtes gaan terug na ‘n dag 41 jaar gelede op Morgenstersendingstasie. Dit was op 27 April 1950 toe die nuut-gepubliseerde Shona-Bybel vir die eerste keer bekend gestel en te koop aangebied is. ‘n Skare swart en wit gelowiges droen saam rondom die Kersmonument – ‘n gedenkteken in die vorm van ‘n kers wat reeds in 1941 opgerig is om die vertalingswerk wat tot te gedenk. In 1950 is daar nog ‘n plaatjie op die monument onthul. Daarop staan: “Met dankbaarheid tot God is die Bybel in die volkstaal in gebruik geneem op 27 ApriL. 1950. U Woorde is . . . ‘n Lig op my pad (Ps. 119:105)” En langs die monumentjie staan daar twee persone vir wie dit ‘n onvergeetlike dag is: ds Andre Louw, die vertaler, en sy gryse vader, ds Andrew Louw, wat 59 jaar tevore reeds met die vertaling van die Bybel in die landstaal begin het. Die ou vader praat uit die diepte van sy hart: “Hierdie is ‘n dag om nooit te vergeet nie. Ons dank God wat die vertaler en sy helpers in staat gestel het om hierdie moeilike taak te voltooi . .” Ja, dit was ‘n reusetaak wat ds Andre Louw voltooi het. Want in die proses van vertaling moes by die Woord nie slegs in Karanga, die plaaslike dialek, laat spreek nie, maar ook in drie verwante dialekte, Zezuru, Manyika en Kore-Kore, sodat die Bybel oor ‘n groter gebied gebruik kon word. Ter erkenning van hierdie groot werk is aan hom deur die Universiteit van Stellenbosch ‘n eredoktorsgraad in die letterkunde toegeken. Self skryf hy: “Ongetwyfeld die grootste dag in my lewe was 27 ApriL. 1950, toe die Bybel (Shona) feestelik in Mashonaland in ontvangs geneem is, en ek die skat van die Woord van God aan die Vakaranga as ‘n nalatenskap kon oorhandig.”
Dit is hierdie “nalantenskap” wat vandag nog ‘n kosbaarheid in hierdie kerk en in die lewens van die gelowiges in Zimbabwe is. Geen enkele faktor sou meer bygedra het tot die vestiging van pie opbou van die kerk in hierdie land as juis die Woord in die volkstaal nie.
As die eerste sendingkind in Mashonaland, wat die volkstaal uit die mond van sy speelmaats geleer het, was Andre Louw besonder geskik vir die taak van Bybelvertaling. Sy studiejare te Stellenbosch, Princeton en Luisville, VSA het hom verder akademies toegerusvir sy vertalingswerk. Sy tien jaar as dosent in die Evangeliste-skool op Morgenster het ook bygedra tot sy verdere bekwaam making vir die taak. Hierna is by afgesonder vir voltydse Bybelvertaling, waaraan by 17 vrugbare jare gewy het.
Sy troue metgesel en lewensmaat oor al hierdie jare was Tannie Margaret (geb Ferreira) van Jansenville. Aan hulle is die vreugde van vier kinders gegee. In 1947 is die egpaar gelei om ‘n beroep na Witrivier, Oos-Transvaal, aan te neem, waar hulle hulle bediening van die Woord voorgesit het.
Op 11 Desember 1990 het ook hierdie dienskneg die woord van sy Meester gehoor: “Mooi so, goeie en getroue slaaf . . . kom in en deel in my vreugde . . .” en terwyl by ingegaan het in daardie Vreugde leef die Woord van sy Meester voort in die monde en in die harte van duisende en nogmaals duisende gelowiges in Zimbabwe-die Woord wat by as swakke instrument in die hand van die Heilige Gees bevoorreg was om te vertaal.