Louw, Andre

 

GEBORE

23 Okt. 1946

OORLEDE

1 Sep. 2008

UNIVERSITEIT

BA, BTh (US), MTh, DTh (UNISA)

GELEGITIMEER

1972

ORDEN

1973

STANDPLASE

1973 Middelburg, Kaap

1977 Paterson

1981 Jansenville

1983 Demissie

1985 Uit bediening

2007 Akasia

EMERITEER

André Louw is op 23 Oktober 1946 op Aliwal-Noord gebore as die enigste seun saam met twee dogters in die huis. Sy pa het by die SAS en H op Alice gewerk en André het in ‘n Godvresende huis grootgeword. Andre het op Aliwal-Noord gematrikuleer en graag rugby gespeel. Hy was lief vir studeer en het geroepe gevoel om hom op Stellenbosch as predikant te bekwaam.

Op Stellenbosch het André die BA-graad voltooi en is hy in 1969 tot die Fakulteit Teologie toegelaat. Hier het hy die BTh- en MTh-graad ontvang, en is hy aan die einde van 1972 as proponent gelegitimeer. Sy eerste beroep was na die NG Gemeente Middelburg (in die Kaap); waar hy op 3 Februarie 1973 met handoplegging ontvang en bevestig is. As jongman was sy arbeidsveld ook die Grootfontein Landboukollege buite die dorp, waar hy uitstekende werk gelewer het. Op 30 Julie 1977 het hy leraar van die NG Gemeente Paterson geword, waar hy weer die Woord in ‘n boeregemeenskap bedien het. Op 27 November 1981 het hy leraar van die NG Gemeente Jansenville geword. Andre was baie lief vir reis en het verskeie oorsese toere meegemaak.

Na twee jaar op Jansenville het hy demissie aanvaar om verder te studeer, en in 1985 het hy uit die bediening ge-tree toe hy ‘n pos in die Staatsdiens in Pretoria as demograaf aanvaar het. Daar het hy gewerk tot in 2007, toe hy op 60-jarige ouderdom afgetree en na die gemeentebediening teruggekeer het. Hy is op 18 November 2007 as tentmakerleraar van die NG Gemeente Akasia in Pretoria-Noord bevestig, ‘n gemeente wat saamgesmelt het met die NG Gemeente Wonderpark in Pretoria. Hy was lief vir studeer en sy doktorsgraad in die Teologie is na sy dood aan hom deur Unisa toegeken.

Dr André Louw was al die jare ‘n alleenloper. Hy is op 1 September 2008 in die arms van sy enigste oorlewende suster, Wilma, aan pankreas kanker oorlede. ‘n Roudiens is in die NG Gemeente Akasia gehou. -Dr Gerdrie van der Merwe VDM.