Lourens, Jacobus Hermanus

Ds. JH Lourens

GEBORE

18 Sep. 1904

OORLEDE

28 Nov. 1992

UNIVERSITEIT

BA, BTh (US) MDiv (Princeton)

GELEGITIMEER

ORDEN

STANDPLASE

1938 Barberton

1942 Emeritus

1945 Melmoth

1948 Voortrekkerhoogte (Kpln)

1951 Potchefstroom-Noord (Kpln)

1957 Eerste Vesting (Kpln)

EMERITEER

1965

Jacobus Hermanus Lourens is op 18 September 1904 op die plaas Groot Constantia, Bothaville, gebore. Hy volg sy laerskooljare in ‘n plaasskool en matrikuleer op Kroonstad. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en skryf ‘n skripsie oor die “Geestelike bearbeiding van die lidmate van die Ned Geref Kerk te velde, in krygsgevangene kampe en konsentrasiekampe gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (1899- 1902).” Aan die Universiteit van Princeton in die VSA verwerf hy die graad M-Div.  Tussenin was hy vir twee jaar lank aan die voortsettingsonderwys van die SA Spoorweë in Natal verbonde.

In die verenigingslewe op Stellenbosch dien hy as sekretaris en later as voorsitter van die Unie-debatsvereniging. Hy was ook lid van die Studenteraad.

Sy eerste gemeente was Barberton. Vir nagenoeg vier jaar lank dien hy tydens die Tweede Wêreldoorlog as kapelaan, in Italië, Egipte en die Midde-Ooste. Na vredesluiting word hy predikant in Melmoth. Vanaf 1948 tot 1965 was hy kapelaan in die SA Staande Mag, verbonde aan die gemeentes Voortrekkerhoogte, Potchefstroom-Noord en Eerste Vesting. Na sy emeritaat (1965) was hy steeds werksaam in die gemeentes Randburg, Marandellas (Rhodesië) en Sasolburg-Noord. Hy dien ook as hospitaalarbeider in Durban en Johannesburg.

Skoolmaats sal sy nuk om te “dig” onthou. In 1936 (na sy oorsese studies) verskyn daar ‘n kort reeks artikels deur hom oor besoeke aan bepaalde plekke in die buiteland in Die Saamwerk, lyfblad van die Saamwerk-unie van Natalse kultuurverenigings. In 1971 was hy mede-outeur van die saamgestelde werk oor humor in die bediening: Waardig bly, broer. Daarna behartig hy die draaiboek en kamera werk van die Carfo-film “Die Kapel aan in die Weermag.” In 1979 verskyn ‘n eerste eie publikasie: Mymeringe op vyf en sewentig en in 1982: Saam deur my lewenstuin.

Ds Lourens was getroud met Elma Roux, ‘n mede-Matie, wat op 4 Julie 1988 in die ouderdom van 60 jaar oorlede is. Drie dogters en ‘n seun is uit die huwelik gebore.

Hy skryf self dat hy as jongman “totaal onverskillig jeens God en sy gebod was,” maar dat God hom teen die verwagtinge van almal in 1924 tot die bediening geroep het. Hy het aan swak gesondheid gely en moes vir ‘n tyd lank sy studies staak. In sy eerste gemeente, Barberton, het hy swartwaterkoors gekry en hy moes daar, na 4 jaar, die eerste keer emeriteer. In 1924 begin sy 21 jaar as “predikant in uniform”, wat ook sy gelukkigste jare was.

As persoon was hy ‘n perfeksionis, stiptelik en baie netjies. Sy sin vir humor was bekend. Sy bynaam was “Coin.” Daarby het hy ‘n baie goeie geheue gehad. Al was hy ‘n terggees, was hy ook ‘n opregte vriend. In sy lewe was die natuur, die sending, die Weermag, musiek, sy volk, sy taal, fotografie en sport baie belangrik. Voorwaar ‘n besonder begenadigde mens.