De Bruijn, Louis

Gebore

11 Augustus 1932

OORLEDE

23 Januarie 2015

UNIVERSITEIT

Hugenote Univ Kollege

gelegitimeer

1954

ORDEN

1955

STANDPLASE

1955 VGK Sondagsrivier

1957 VGK Kirkwood

1961 VGK Uitenhage

1966 VGK HaAnover

1970 VGK Rawsonville

EMIRITEER

30 April 1995

Louis Jacobus de Bruijn is op 11 Augustus 1932 op Uitenhage gebore. Sy pa was Albert de Bruijn, ‘n bouaannemer en sy ma is Maria Mara Schwartz.

Hy begin sy skoolopleiding in 1939 aan die Laerskool Innes in Uitenhage en matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage.

Louis was geroepe om sendeling te word. So word hy in 1950 student aan die Hugenote Universiteitskollege op Wellington, wat hom in 1952 toegang verleen tot die Sendinginstituut op dieselfde dorp. Hier beleef hy vreugdevolle tye en word op 1 Desember 1954 as sendeling gelegitimeer. Op Wellington speel hy tennis, hokkie en tafeltennis.

Hy word op 23 Julie 1955 in die Sondagsrivier ontvang en bevestig as sendeling in die streek. Onder sy leiding vind die stigting van die NG Sendingkerk in Kirkwood in 1957 plaas. Hy bou skole in Uitenhage en Despatch, veral plaasskole in die distrik Uitenhage. In die winter van 1961 loop sy pad na die sendingkerk op Uitenhage, sy geboorteplek. In sy dienstyd hou hy verskeie evangeliese uitreike in die distrikte van Uitenhage en Despatch, tot groot seën vir mense in die gebied.

Ds Louis de Bruijn trou op 28 Maart 1959 met Susanna Helena Wagenaar.

Ds Louis begin met geestelike werk onder die Moslems wat op Uitenhage, Despatch en Port-Elizabeth woon en werk.

Na vyfjaar in die Oos-Kaap kom ‘n roepstem na die Groot-Karoo toe hy in die winter van 1966 sendeling op Hanover word. Daar langs die grootpad van suid na noord, is hy getrou aan sy roeping en blaas die basuin onder alle omstandighede.

Op 17 Januarie 1970 word hy leraar van die NG Sendingkerk Goudini op Rawsonville, digby Worcester. Hier werk hy baie hard en bou ‘n kerksaal en ‘n eerste tehuis vir bejaardes van die Sendingkerk op Rawsonville. Hy aanvaar sy emeritaat op 30 April 1995 en gaan woon later op Somerset-Wes.

Hier help hy as lidmaat van die NG gemeente Helderberg met geestelike werk onder die Moslems en gee volwassekategese aan huiswerkers wat binne die gemeentegrens werk. Tydens sy afsterwe op 23 Januarie 2015 is hulle woning die ouetehuis Hesperos in Beaufort-Wes. – Dr. Gerdrie van Merwe VDM