Loubser, Marthinus Petrus

Ds. MP Loubser

GEBORE

16 Sep. 1871

OORLEDE

9 Jun. 1942

UNIVERSITEIT

U.S.

GELEGITIMEER

1908

ORDEN

1909

STANDPLASE

1909 – 1914 Vergenoeg

1918-1921 Suidwes

1925 – 1935 Vergenoeg

EMERITEER

1935

Ds. Marthinus Petrus Loubser is op Vissershok, die historiese plaas in die Koeberg naby Kaapstad, gebore. Na sy skoolopleiding is hy na die ou Normaalkollege in Kaapstad om hom vir die onderwys te bekwaam en het op verskeie plekke skoolgehou. Daar hy die roeping tot die evangelie-bediening moes gehoorsaam, het hy na Stellenbosch gegaan om in die Teologie te studeer. Aan die einde van 1908 het hy sy studies voltooi en in 1909 is hy georden. In laasgenoemde jaar het hy na Oos-Afrika vertrek waar hy tot 1914 gebly het. Later het hy weer van 1925 tot 1935 onder die Afrikaners daar gewerk. Gedurende die tydperk van 1918 tot 1921 het hy in Suidwes-Afrika in die bediening gestaan. Ook die Afrikaners in Ghansieland is van tyd tot tyd deur hom besoek. Sy hele bediening was dusop die voorposte. Hy was by uitstek baanbreker en grondlêer van die werk buite die grense van ons eie land. Wat hy op die voorposte gedoen en beteken het kan in die bestek van hierdie paar reëls nie beskryf word nie. Op godsdienstige en onderwysgebied het hy oneindig veel gedoen. Sy invloed was groot en baie heilsaam, sy teenwoordigheid was altyd besielend. Met sy sterk persoonlikheid, stale karakter en toegewyde hart kon hy nie iets anders wees nie. In 1935 het hy sy emeritaat aanvaar en op 9 Junie 1942 het hy plotseling heengegaan.

Ekstra:

Ds. Marthinus Petrus Loubser (Koeberg, naby Kaapstad, 16 Sep 1871 –  9 Junie 1947) was ‘n baanbreker op kerklike gebied in Oos-Afrika en ‘n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Ná sy skoolopleiding het Loubser hom aan die Normaalkollege in Kaapstad vir die onderwys bekwaam en op verskeie plekke skoolgehou. Hy het hom egter tot die evangeliebediening geroepe gevoel en daarom is hy na Stellenbosch om aan die Kweekskool in die teologie te studeer. In 1909 is hy georden en het dadelik na Oos-Afrika vertrek waar hy gewerk het tot 1914, en toe weer van 1925 tot 1935.

Gedurende die tydperk van 1918 tot 1921 het hy in die destydse Suidwes-Afrika in die bediening gestaan. Ook die Afrikaners in Ghansiland, Betsjoeanaland, het hy gereeld besoek. Sy hele bediening was hy dusop die voorposte.

In Brits-Oos-Afrika het hy ‘n unieke plek ingeneem. Hy was die eerste leraar van die NG Kerk wat hom permanent in daardie deel van die wêreld gevestig het. Op alle terreine van die samelewing het hy hom met aansteeklike geesdrif beywer vir die Afrikaanse gemeenskap van dié afgeleë gebied. Hy was die spil waarom alles gedraai het.

Op opvoedkundige gebied het hy baanbrekerswerk gedoen. Hy het hom beywer vir die bou van skole en het onderwysers uit die Unie gelok. Die Van Riebeeckskool is egter eers ná sy dood op 6 April 1952 op Thomson’s Falls in gebruik geneem. Veral die skool op Broederstroom is veel aan hom verskuldig, asook die skool op Eldoret waar hy Afrikaans erken gekry het.

Op kerklike gebied was hy vir sy volk in die vreemde ‘n steunpilaar. Hy was verantwoordelik vir die bou die eerste NK kerk in Oos-Afrika, die NG gemeente Vergenoeg se kerkgebou op Eldoret. Die NG gemeente Loubser is in 1945 na hom vernoem. In Suidwes-Afrika moes hy dikwels per oskar reis om met die Afrikaners in aanraking te kom.

Weens verskeie aanvalle van malaria moes hy in 1935 na die Unie terugkeer. Hy het nooit getrou nie. Ds. Loubser was die skrywer van ‘n boekie, Onse uitgewekene.

Ds Marthinus Petrus Loubser is op Vissershok, die historiese plaas in die Koeberg, naby Kaapstad, gebore op die 16de September 1871.  Hy is die oudste seun van Marthinus Petrus Adrianus en sy vrou Anna Susanna Frederika (Catharina) van Niekerk en hy is een van ag kinders.  Na sy skoolopleiding is hy na die ou Normaalkollege in Kaapstad om hom vir die onderwys te bekwaam en het op verskeie plekke skool gehou. Daar hy die roeping tot die evangeliebediening moes gehoorsaam, het hy na Stellenbosch gegaan om in die teologie te studeer.

Daar het destyds na afloop van die Anglo Boereoorlog van 1839-1902  weer verskeie  “groot trekke” plaasgevind, nl na Argentinië, Angola (die Dorslandtrek)  en meer noordwaarts na die destydse Duits-Oos Afrika, (tans Tanganyika of Zambie) en na Brits-Oos Afrika of te wel Kenia.  Die redes vir die uittogte was:

Eerstens, persoonlik: mense was verarm na die oorlog; joiners en verraaiers wat moes vlug; sommer net treklus soos hulle vandag weer trek oor die wêreld heen;

tweedens was daar godsdienstig–ideologiese redes, en

derdens politieke redes – want hul wou nie onder die Engelse staan nie,  ens.

Eerstens het hulle hul heil gaan soek in die Duitse protektoraat en hulle gevestig by Meru aan die voetheuwels van Kilomandjaro en in die rigting van die groot Victoriameer. Dit het maar swaar gegaan en toe die Engelse goedkoop grond aanbied om meer witmense na Kenia te lok, het hulle maar weer in beweeg onder die Engelse bewind en hulle gevestig oor ‘n groot gebied by Nakuru, noord van Nairobi, tot by Thompson Falls in die Weste en  Eldoret in die Ooste.

Saam met ‘n aantal Doppers en Hervormers was daar teen 1908 ‘n hele klomp gereformeerdes in Kenia en die Transvaalse Kerk het periodiek predikante gestuur om die lidmate te besoek. So is Vergenoeg gemeente gestig op Nakuru deur ds J.M. Louw omdat hy gedink het die Trekkers het nou ver genoeg gekom. Die gemeente  het gestrek vanaf Eldoret in die Noorde tot by Meru in die Suide, ‘n gebied so groot soos die Vrystaat. Dis toe dat proponent M.P. Loubser in Pretoria georden is,  en bevestig  is as tydelike predikant van beide Vergenoeg en Meru vanaf 1909.  So vertrek hy na Kenia in Oos-Afrika.  Op 15 Aug tree hy op by die hoeksteenlegging en ook die inwyding van die nuwe gemeente Vergenoeg te Nakuru. Interessant genoeg vind die  hoeksteenlegging en inwyding gelyk plaas, maar mens moet in gedagte hou dat sommige van die kerkraadslede 120 myl moes reis oor bitter slegte paaie om teenwoordig te kon wees by ‘n diens.  Op die hoeksteen staan: Ef 2:20 JesusChristus is die uiterste hoeksteen. So ontsluit ds Loubser dan die eerste NG Kerk-deur in Oos Afrika.  Hier sou hy aanvanklik bly tot 1914 en hier in Afrika trap hy diep spore,  eers as  onderwyser en later ook as onderwyser-predikant.

As vriend en raadgewer, as siele-herder en geestelike leidsman is sy naam op die tong van groot en klein, oud en jonk, vriend en vyand in Oos-Afrika. Die geskiedenis van die kerk in Oos-Afrika en veral die gemeente Vergenoeg, sou anders geskryf gewees het sonder die arbeid, opoffering en toewyding van hierdie merkwaardige man van staal, moed en durf, geloof en gebed.  Hy was ‘n man met uitstekende talente, vaste en onbuigsame karakter, innemend en ook baie streng en beslis. Sy uithouvermoë en die volharding waarmee hy sy werk gedoen het, veroorloof ons die mening dat hy sy lewe onafskeidbaar verbonde sal bly aan die gekiedenis van die Afrikaners in Oos-Afrika, skryf een van sy kollegas. Hy self beskryf ook die trek van Afrikaners na Oos-Afrika as “een Christelijke Zending Trek” wat die arbeiders, wat in diens staan van die Afrikaners op plase en ander werksplekke, in aanraking laat kom met die Christendom daar.  Hy self het die arbeiders smiddae na werk aangekeer en, deur middel van ‘n tolk, vir hul die evangelie gebring.

Kort na die stigting van die gemeente Vergenoeg in Nakuru, het die nedersetting 105 myl noordwaarts verskuif na die Uasin Gishu-hoogvlakte, en hulle om en by by Broederstroom gaan vestig. Hierheen het ds Loubser hulle spoedig gevolg en ook daar sy onuitwisbare spore afgedruk. ‘n Begin is gemaak met die optrek van ‘n nood geboutjie wat Sondag as kerk sou dien en gedurende die week as skoolsaal. Dit was die eerste skool vir Witmense in Kenia. Hierdie eerste kerkie\skooltjie was van bamboes gemaak en het alleen op die groot vlakte gestaan, behalwe met nagmaalsgeleenthede wanneer die vlakte oortrek was waens en bokseile.

Later is ‘n permanente gebou opgerig, met ‘n steen in een hoek ingevoeg waarop staan: “Ebenhaeser.”  Nog later is in die onmiddelike nabyheid hiervan ‘n tweede geboutjie oopgetrek met twee vertrekke wat sou dien as pastorie vir ds Loubser.  Die plekkie was so klein, hy kon in een kamertjie die mure gelyktydig  aanraak  met sy 2 hande as hy sy arms strek, ongeveer 12 voet by 14 voet. Op die hoek is dan die woord “Bethel” ingegraveer. Dit was sy heiligdom, ‘n plekkie na aan sy hart.   En wie sal ooit te wete kom wat daar in sy lewe deurgemaak is?

Hy was baie ernstig in sy prediking. Die skoolgeboutjie in Broederstroom was klein. ‘n Sekere broeder was gereeld daar, maar sonder sy vrou.   Eendag, terwyl ds Loubser ernstig preek, wend hy hom na die broeder en sê  “En broeder B, wanneer sal jy jou vrou kerktoe bring?’  Die volgende Sondag was sy daar.

Die ouers van ‘n sekere seun het hom alles toegelaat, sodat die seun later baie parmantig met sy ouers gepraat het, sonder dat hulle hom bestraf. Dit was te veel vir die dominee. Hy het sy tent langs hul huisie gaan opslaan. Die bedorwe seun het dit eendag weer gewaag om so lelik met sy vader te praat. Toe hy hom kom kry, het ds Loubser hom net daar voor sy verdwaasde ouers, die pak slae van sy lewe laat kry.  Die vader, wat dit later vertel het, het daarby gevoeg: “As dit nie ds Loubser was nie, sou ek hom nie my kind so laat slaan het nie.”   Hy was maar lugtig vir die dominee!   Maar dit het gehelp, want die seun het dit nooit weer gedoen nie!

Hoewel self geen jagter nie, was hy onverskrokke. ‘n Beroemde skut vertel hoedat ds Loubser eendag saam was op ‘n leeujag, met die doel dat hy’n mooi kiekie van die leeu, wat vasgekeer was in ‘n bos, kon neem. Toe die leeu storm, vra hy die jagter kalm langs hom, om hom eers kans te gee om die kiekeie te neem onderwyl hulle in lewensgevaar verkeer.

Veral het hy hom toegelê op kerkskole en het hy onvermoeid onderwysers gewerf omdat hy die minderbevoorregte Voortrekkers op die hart gedra het. Wat hy beteken het vir die  mense in Midde-Afrika, sal net die ewigheid openbaar.

Nog later is ‘n koshuis gebou wat die kinders wat ver gebly het, sou huisves. Onvermoeid het hy hom besig gehou met die saak van die opvoeding van die jonger geslag, terwyl hy altyd gesorg het vir die geestelike heil van almal. Soms het hy selfs met die oog op die finansiële behoeftes van die onderneming ‘n rondreis in die Unie van Suid Afrika onderneem en aansienlike bedrae daarvoor gevind. Ook het hy hom gedurig beywer om die geskikte persone as onderwysers in die Unie te vind vir daardie skool.

Hy moes onuitputlike werkkragte besit het om te kon volhou met sy werk. Oor slegs die aller primitiefste vervoermiddels het hy beskik om sy dienste te verrig.  Soms moes hy te voet gaan waar hy wou wees; dikwels het hy ‘n muil of ‘n donkie gebruik. Ook het hy per oskar en ossewa die ronde moes doen en soms het ‘n fiets nogal vinniger vervoer verskaf.  Baie later het die motor hom diensbaar gemaak vir die werk van die verkondiging van die evangelie deur ‘n Afrikaner aan ander Afrikaners in hul eie taal in ‘n vreemde land. Dit alles het geskied in ‘n woeste wêreld met ongebaande weë, vol riviere, hoë reënval, tropiese son-hitte op die ewenaar, deur tropiese oerwoude en moerasse waar die gevreesde malaria-muskiet en tsetse-vlieg ‘n natuurlike tuiste gehad het. Vir jare het hy dit moedig volgehou totdat ‘n inwendige kwaal stadig sy kragte begin ondermyn het en roos, ‘n lastige velsiekte,   hom geen rusbesorg het nie.  In 1929 moet hy weens gesondheidsredes tydelik terugkeer na Suid Afrika.

Hy het ‘ n oog vir die skone gehad, die natuur bewonder, die avontuurlike geniet, gevare getrotseer, sy ongeriewe en swaar vergeet onder die inspirasie van die woorde van Paulus: “Die liefde van Christusdring ons.”  Met die destydse bestaande vervoermiddels het hy ‘n oppervlakte so groot as die hele Suid Arika bearbei!   Van plaas tot plaas, van huis tot huis het hy gedurig beweeg. Hy het meer as 400 myl deur Kenia gery en huisbesoek gedoen, nagmaal bedien, kinders aangeneem en gedoop en soms pare in die huwelik bevestig.  Maar daar was ook nog ander skape wat nie aan hierdie kraal behoort het nie wat hy onder sy sorg geneem het.  Van die Afrikaanse families het selfs na die Belgiese Kongo, noordwes van die Albertmeer deurgetrek en hulle daar gevestig.  Hy het hulle gevolg deur die Oeganda Provinsie vir meer as 900 myl, oor die groot Victoriameer en die Nyl.  Daarna is hy terug na Kenia en die suide en wel na die gemeente Meru in Tanganyika. Hy het tot by die Lupa goudvelde gegaan, ‘n afstand van meer as 1100 myl.  So het hy ver en wyd  oor die vasteland van Afrika gereis, soekende na hulle wat in die wildernisse vir die Kerk en volk kon verlore gegaan het.

Die arbeid van ds Loubser namens die kerk was ‘n bolwerk teen die vreemde sedes en invloede van ‘n omgewing en samelewing wat ons mense anders sou verswelg het. Dit is grotendeels aan sy liefde vir die  Kerk en ons Afrikanervolk te danke dat ons mense daar Afrikaners gebly het, getrou aan die Kerk van hul vaders. Hy is die geestelike vader van talle gemeentelede, terwyl verskillende lede van die susterkerke hom “Vader” genoem het.  Selfs van die staatsamptenare wat hom nie juis te vriendelik gesind was nie, het met lof van hom gespreek.  Verder het selfs die Indiërs met belangstelling gedurig na hom verneem.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog neem hy waar in verskillende gemeentes onder andere: Calvinia, Wellington, Piketberg, Malmesbury, Wynberg, Carnavon. Meer as een maal het hy ‘n beroep van die hand gewys, omdat, soos hy gesê het, hy nie gebonde wou wees nie.

As gevolg van die Eerste  Wêreldoorlog van 1914-18 kom ‘n groot vloed “Boere” Suid-Wes Afrika binne. Mans wat by Unie-troepe aangesluit het, leer ken die land en sien dis mooi en “beantwoord uitstekend  goed voor de veeboedery” en die Afrikaner Voortrekkers stroom Suid-Wes binne  –  hulle is baanbrekers, Volksbouers, die land is vir hul dierbaar, so ook hul Kerk, Taal en Volk. Die ring besluit om nog ‘n predikant beskikbaar te stel daar en na twee jaar se gesoek vind hulle ds M.P. Loubser, die baanbreker predikant van Oos-Afrika (Kenia en Tanganyika) – hy is die regte man vir Suid-Wes en hy sou daar bedien vanaf 1918 – 1921.    Energiek en dinamies, intelligent met ‘n fyn onderskeidingsvermoë, bedrewe in die gesproke en geskrewe woord!   Hy was ongetroud (nadat sy verloofde in Duits-Oos-Afrika gesterf het, het hy besluit om nie weer aan trou te dink nie!)   en dus minder gebonde en met ‘n wye ervaring in vergelykbare pioniersomstandighede in Oos-Afrika. Hy het onmiddelik die land in alle windrigtings deurkruis, tot selfs in Walvisbaai, wat nou vir die eerste keer deur ‘n leraar van Suid-Wes besoek sou word.

So ontmoet ds Loubser  “een ganse stroom van posmeesters, bankklerken, prokureurs, winkelklerken, onderwijzers, selfs kantoormeisjes, wat de land binnen dringen en waardoor de stedelike of liever de dorpsbearbeiding veel meer attentive en tyd van ons vordert.”   Na aanleiding van die geweldige getalle wat steeds instroom,  skryf hy op  23 Februarie 1919  sy opspraakwekkende artikel “Een Ernstige Aanklacht tegen Onze Kerk” wat in De Kerkbode gepubliseer word. Hierin ontbloot hy die “uiterst hachelijk toestanden” waarin die Gemeente van Gibeon in Suid-Wes verkeer en verwyt die Kerk sy skromelike onverskilligheid daarteenoor. Die artikel tref soos ‘n bom en in die Kerkbode alleen verskyn 40 berigte. Daarom spreek ds Loubser ook die wens uit dat die moderator of een van die moderatuurs-lede die land moet besoek, sodat “die kerk waardig en God verheerlijkend kan optree. De menschen doen vaak de vraag of sij wel noch in verband met de Ned. Geref. Kerk van Zuid Afrika staan.”  Ds Loubser reis persoonlik na die Vrystaatse en Transvaalse Sinodale kommissies om hul tot hulp betoon te beweeg. Aanvanklik is als vrugteloos, maar uiteindelik, met die Kaapse Sinode se hulp ook, lewer die gesamentlike uitreiking toe ses nuwe leraars vir Suid-Wes.

Ds Loubser saai ook aan ander waters.  Deur sy bemiddeling het ‘n deputasie die Eerste Minister besoek wat die regering daarvan laat afsien het om die Duitse sendelinge te repatrieer – en die drie wat reeds gerepatrieer was, te laat terugkom.  Daarvoor ontvang die NG Kerk die dank van die Rynse Sending.  Dieselfde doen hy met die onderwys. Toe die regering die Duitse skole wou sluit en die onderwysers wou repatrieer, pleit hy vir Christelike moedertaalonderwys om dit tot by die verste plattelandse ouer en kind te bring – so 12 leerlinge per skool.  Hy maak ook erns met die probleem van die plaaskinders – vra vir meer kleiner skole sodat kinders nie in hostelle hoef te bly nie en hy pleit  vir voorsiening vir daaglikse godsdiensonderwys op skool. Ook hierin slaag hy en verseker vir baie jare die voortbestaan van talle, selfs mobiele skole wat die onderwys in Suid-Wes gekenmerk het.    Hy verrig sy taak met ‘n passie en drang wat verbaas.  Openbare en sedelike lewe vind hy bedroewend:  “gemeente in Zuid-Wes Afrika hebben een flaauw besef van Zondagseerbiediging, die waarde van sabbatdag is gering.”

Hy wy hom so heelhartig aan uitdagings wat hul voordoen, dat hy selfs in die moeilikheid kom daaroor. Terwyl hy in die Gobabiswyk werk, kom die afgesonderde lidmate in Ghanziland onder sy aandag. Hy verdien sy passaat daarheen as drywer van ‘n transportwa deur die onherbergsame duine van Betsjoeanaland.  Daar is 20 wit gesinne wat Cecil John Rhodes daar geplant het met wonderlike beloftes waarvan daar niks gekom het nie.  Die mense leef in eensame isolasie, daar’s geen harde pad, geen put, geen skool, geen poskantoor en die naaste telegraaf is 75km ver.  Nadat hy die evangelie daar bring aan ‘n gesin in allertreurigste omstandighede – ‘n vader met 8 vuil kinders, die moeder oorlede, skryf hy:  “Hoe zalig en zoet om aan zulke onbevoorrechte, eenzame, arme, onkundigen van het kruis en Hem die er aan hing, te vertellen. Liewe lezer, bid gij soms voor de uitgewekenes? Is de arme blanke voor u een voorwerp van afskuw of van erbarming?”

‘n  Skreiende onmiddelike behoefte wat ds Loubser in Ghanzis raakgesien het, was die gebrek aan onderwys. Daar was geen skole en koshuisinrigtings nie en hy oordeel dat twee  eenmanskooltjies gestig moet word, een in bo-Ghanzis en een in onder-Ghanzis sodat al die kinders kan skooltoe loop. Hiervoor benodig hulle twee  onderwysers en ‘n proponent vir die geestelke beaarbeiding.  ‘n Basaar word georganiseer om geld in te samel.  Die 20 gesinne van Ghanzis het onder andere 20 beeste, 7 hoenders en 7 bokke gebring en ds Loubser se tafel dra aanloklike snuisterye wat hy van Windhoek af saamgebring het; spieëltjies, knipmesse, seep, laventel, ‘n horlosie, ensovoorts!   Die poging bring die fenominale bedrag van R700 byeen! Ds Loubser skryf namens die gemeente aan die Algemene Armsorgkommissie in Kaapstad en vra vir geestelike arbeiders  en hulp met die voorgenome skole.   Trou aan sy aard, tref hy solank sy eie reëlings terwyl hy wag op ‘n antwoord.  Op 5 Julie 1920 het hy reeds twee Suid-Wes onderwysers gewerf en per ossewa na Ghanziland gestuur.  Hulle was mnre C. Coetzee en J.H. de Villiers. Vroeg die volgende jaar is die skole mooi op dreef.  In die twee skole is saam 32 kinders en die isolasie met die buitewêreld is ook verbreek, want ‘n Boesmansposdraer is op ‘n maandelikse roete in diens gestel!  Mooi werk word gelewer in die nederige kerk en die Direkteur van onderwys bring in 1935 ‘n verslag uit met waardeering vir die kerk se werk: “Warm congratulations upon what has been achieved at this, one of the most remote European Schools in Africa, situated as it is, more than 2000 miles from the nearest rail head.”

Op pad terug uit Ghanziland het ds Loubser in die grensstreke weer pionierswerk verrig.  Met ‘n geleende oskar het hy lidmate in die wildernis gaan besoek.  By een huis het hy die blanke mens-sku kindes met moeite uit die Boesmansstrooise gehaal om met hulle te kon gesels. Die moeder is ‘n invalide met “geen verpleging, geen laken of sloop, geen medicijnen..De Vreuge en dankbaarheid van een leeraarsbezoek by zulke lijders laat sich miscien danken maar niet beschrijwen.”   Op Kersdag span hy in die veld uit en stap na ‘n Damarahut om melk in die hande te probeer kry. Hy merk basterkindertjies op wat daar rondspeel.  En toe kom die vader te perd daar aan. – ‘n gesiene blanke uit Gobabis, oorspronklik van ‘n bekende Wes-Kaapse familie.  Sy nie-blanke “skoonfamilie” noem hom Mister B en hy vergas hul op sy ghitaar en Kaapse liedjies.

Hierdie bediening lewer een van die mooiste bladsye oor die Kerk se pioniersbedieninge in huisbeoek, Woord- en sakramentbediening, barmhartigheidsuitreikings en onderwys aan hierdie mense,  waar hy vir vyf maande lank tussen Augustusen Desember 1919 gebly het.  Hiervoor het hy nie die Kerkraad of die Ring geraadpleeg nie en dit laat hom in die warm water beland, want Ghanzi was toe nog nie deel van die gemeente nie.

Met sy sterk persoonlikheid, karakter van staal, en eenvoud van lewe en geaardheid, het hy diep ingang gevind en baanbrekerswerk gedoen op hierdie voorposte.

H.P. Steyn skryf uit Luderitz: “Ds Loubser is ‘n waardige apostel van Jesus Christus met sielsdeursoekende preke en dit het bygedra om my nader aan die Here te bring.  Dit was nie die uitsondering nie, maar vaste reël: as ds Loubser in Windhoek preek, dan is die saal te klein en moet vele mense tevrede wees om by deure en vensters te staan en luister.  Deur sy boeiende preke het hy bekeerdes en onbekeerdes na sy dienste getrek. Ek glo dat ds Loubser byna elke Afrikaner geken het wat in Windhoek gewoon het of daar aangekom het.  Of so ‘n persoon vir behandeling hospitaal toe gekom het of uit die Unie gevlug het, om sonde te kom wegsteek, ds Loubser het almal opgespoor. In die kerk het hy gewoonlik kennis gemaak met vreemdelinge deur onmiddelik na die diens by die deur te gaan staan en elk ‘n handdruk te gee.”

Later het hy weer van 1925 tot 1935 onder die Afrikaners in Kenia gewerk.  Sy hele bediening was dusop die voorposte. Hy was by uitstek baanbreker en grondlêer van die werk buite die grense van ons eie land. Wat hy op die voorposte gedoen en beteken het, kan nie in die bestek van ‘n paar reëls beskryf word nie. Op godsdienstige en onderwysgebied het hy oneindig veel gedoen. Met sy sterk persoonlikheid, vaste karakter en toegewyde hart kon hy nie anders nie.

Sy invloed was groot en baie heilsaam, sy teenwoordigheid was altyd besielend. Hy word beskryf as ’n onvergeetlike vriend, wie se naam diep gegraveer is in die nagedagtenis van die Voorste Voortekkers van ons volk in Midde Afrika. Sy spore onder ons mense in Kenia, Tanganyika is onuitwisbaar,  sy groot roeping onder die stoere Boeregeslag wat die moed  gehad het om na Midde-Afrika te trek en daar ‘n nuwe begin te soek. As enkellopende was hy in staat om ‘n werk te doen onder die verstrooie lidmate van die gemeente Meru en Vergenoeg wat hy anders nie sou kon doen nie. Sy gemeentelede het na hom opgesien as vader, en as sulks kon hy dinge sê en doen wat ander nie kon waag nie.

In 1933 toe die Bybel in Afrikaans vertaal word, versprei hy die nuwe vertaling onder die jongmense wat reeds voeling verloor het met die Hoog Hollandse Bybel.  Ook bevel hy aan dat seuns in Nairobie opleiding moet ondergaan, terwyl die dogters as verpleegsters opgelei moet word.

Hy ontvang sy emeritaat in 1935 en tree af op sy geboortedorp, Durbanville by die rusoord Die Rus.

Een van die dinge wat hy gereeld gedoen het wanneer hy op Vissershok, sy geboorteplaas, gekom het, was om saam met die familie ‘n diens te gaan hou by die Laubscher\Loubser begraafplaas op die plaas, daaronder langs die Dieprivier.  Dan was die soet klanke van die Psalms en Gesange ver hoorbaar oor die koringlande en weivelde.

Op  9 Junie 1942, terwyl hy in Middelburg  in ‘n hotel oornag, sterf hy onverwags weens hartversaking.  Berigte uit Kenia meld dat die nuus van sy afsterwe soos ‘n veldbrand in die gemeentes versprei het.  Op Eldoret is die preekstoel in rou gehul en ‘n spesiale roudiens deur ds B.J. Britz waargeneem. “Die  kerk is armer aan ‘n man. Hy is dood, maar sy werke sal nog lank voortleef. Ons dank die Here vir so ‘n man.”

Hy word begrawe in Durbanville en die grafsteen word geskenk deur die gemeente Vergenoeg. Daar was groot belangstelling toe die grafsteen op Saterdag 5 Augustus 1942 te Durbanville onthul is. Die verrigtinge wat weens slegte weer eers in die kerkgebou gehou is, is gelei deur ds Jac Conradie van Kaapstad. Ds A.D.Luchoff het een en ander meegedeel in verband met sy kinderjare en opvoeding terwyl ouderling W.L. van Blerk van Vergenoeg gemeente ook die woord gevoer het.  Hy het 4,000 myl ver gekom en was “so bly om melding te kan maak van wat ds Loubser in daardie verre dele vir ons mense op godsdienstige gebied sowel as op onderwysgebied gedoen het.”  Ook het ouderling  W.A.C. Bouwer, eweneens van  Vergenoeg,  in dieselfde gees gespreek –  dat ds Loubser altyd gesoek het na mense wat sy hulp nodig gehad het en dikwels groot afstande self te voet afgelê het om diesulkes op te spoor. Hy was ‘n kragtige prediker, gebedsman en leier. Hy het skole gestig en gebou en onder God’s leiding fondamente gelê  waarop vandag nog in die gemeente gebou word. Aan ons Afrikaanse kultuur het hy groot dienste bewys deurdat hy die Afrikaners daar volksbewus gemaak het en hulle geleer het om hul taal lief te he.

By die kerkhof is die onthulling deur ouderling van Blerk waargeneem wat die woorde op die grafsteen afgelees het –“ In liefdevolle herinnering aan ds M.P.Loubser oorlede  9 Junie 1942 – opgerig deur ‘n dankbare gemeente vir toegewyde diens. Kol. 4: 2  Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging en  1 Kor. 9: 19 Ek het my aan almal diensbaar gemaak om soveel moontlik te win. Aan die einde het mnr Evert Loubser, broer van die oorlewende, die aanwesiges bedank vir hul belangstelling en ds P.J. vd Merwe het die seën uitgespreek. Wyle (oom) Tienie,  soos hy alom bekend was, was ‘n nederig dienskneg van die Here, ‘n getroue arbeider en vriend.  Hy het nie verniet geloop of verniet gearbei nie.

Op  28 April. 1945, drie jaar ná sy dood, toe die derde gemeente afgestig word van Vergenoeg, word besluit om die gemeente met standplaas op Thompsons Falls na hom te vernoem as die gemeente Loubser,  die mees noordelike gemeente van die NG Kerk in Afrika.

In sy testament het hy £1,200  bemaak  aan die kerkraad van die gemeente Vergenoeg “alleen vir die opvoeding van gemeentekinders.” Dit is geld wat hy ingesamel het vir onderwysdoeleindes in die Gemeente Vergenoeg, en op hierdie wyse en op talle ander, spreek hy selfs na sy dood nog.

 

Die res van sy 7 bladsye lange testament lees kortliks soos volg;

 

2 peetkinders erf onderskeidelik £20 en £28.

£29 aan sy suster Elizabeth

£300 aan Teologiese Kweekskool vir ‘n behoeftige student

£200 aan Sending Instituut Wellington

£100  aan “Friedenheim” die inrigting vir sendingdames in Wellington

£20 elk aan nog 7 peetkinders

£20 elk aan nog 2 kinders in Kenia

£100 aan Binnelands Sending van NGK

£100 aan Buitelandse Sending van NGK

£200 aan Church Missionary Society, Kampala Uganda

£200 aan Africa Inland Mission van America werksaam in Kenia

£320 aan die Kerkraad van gemeente Vergenoeg om as volg gebruik te word:

£100 aan die 10 oudste mense in die gemeente

£220 aan Sendingwerk van die gemeente

£50 aan broer Evert J. Loubser wat hy moet bestee aan die begrafnis, stukkie grond en ondernemers

£25 ook aan broer Evert wat sy boeke en klere moet verwyder.

£25 aan broer Mike

£25 aan suster Kitty

£20 aan Else, dogter van broer Evert

£100 aan Inrigting “Die Rus,” Durbanville.

Die hele restant aan Vergenoeg gemeente vir Sendingwerk onder Naturelle daar en by Broederstroom

‘n Kamera aan ‘n seun,  Theodorus van Heerden

‘n Stel  “Biblical Encyclopedia” aan Teologiese student op Stellenbosch wat daardie jaar swakste vaar.

“Chain Reference Bible” aan die eerste jaar Teologiese Student wat daardie jaar hoogste staan in klas

“New Analitical” Engelse Bybel aan Teologiese student op Stellenbosch wat daardie jaar die eerste proefpreek lewer.

‘n Horlosie-ketting aan Martin, oudste seun van broer Evert.

Vir 26 jaar vanaf 1909 tot 1935 het Marthinus Petrus Loubser in die evangelie bediening gestaan en byna die hele tyd op voorposte van die kerk.  Sowel in Suid-Wes Afrika as onder Boere in Midde-Afrika  waar hy 15 jaar lank werksaam was, bring hy grootse offers vir sy volk, kerk en Gods’ Koninkryk. In 1909 was daar min georganiseerde werk van die kerk daar. Met liefde en offervaardigheid het hy hom egter aan die onderwys en geestelike sorg van ons mense in die gemeentes Meru en Vergenoeg gewy.  En veel tot stand gebring. By uitstek baanbreker en grondlêer van die werk buite ons grense.  Sy spore staan onuitwisbaar gedruk in die herinneringe en liefde van die mense in díe dele. Die grootste ontberings en ongerief het hy hom in die gemeentes getroos. Ons dink aan sy geniale, romantiese geaardheid wat hom by kennisse en vriende so bemind gemaak het, ons dink aan sy sterk karakter, deursettingsvermoë van staal, waardeur hy alle hindernisse trotseer en oorwin het.  Ons dink aan sy volksliefde, toegewyde hart wat gebrand het vir minderbevoorregtes, vir hulle wat van die seëninge van die beskawing en die gereelde evangelie bediening verstoke was. Waar hy ookal as prediker opgetree het, kon gevoel word dat hy vol van die Woord en die Gees was om met oortuigende krag ongekunsteld die evangelie te bring.  Hy het in al sy doen en late groot liefde teenoor sy medemens gekoester, veral dan ook teenoor kinders. Vir hulle was hy altyd die geliefde  “Oom Tienie.”

 

Bronne

MOOC 6\9\9056 Ds A.C. Loubser

Voorligter Augustus1962

Jaarboek 1943, p 383

Acta Transvaalse Sinode 1944, p 238

Acta Kaapse Sinode 1945, p 201

Burger 01.09.1972

Kerkbode 1 Mei 1929, p 681

Kerkbode 2 Desember 1931, p 1024

Kerkbode 17 Junie 1942, p 828

Kerkbode 1 Julie 1942, p 8

Kerkbode 22 Julie 1942, p 102

Kerkbode 12 Augustus1942, p 210

Kerkbode 9 September 1942, p 319

Gedenkboek Otjiwaronge 1902 – 1952, p 43

Kerkbode 24 Maart 1943, p 236

Kerkbode 6 September 1944, p 211