Loots, Josua Benjamin

 

GEBORE

24 Mrt. 1926

OORLEDE

15 Jul. 2004

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1958

ORDEN

1959

STANDPLASE

1959 Swartland

1962 Somerset-Wes

EMERITEER

Ds Josua Loots (BA) 24/03/1926 – 15/07/2004

Josua Benjamin Loots is op 24 Maart 1926 gebore, ‘n nasaat van oupa Kootjie en ouma Ella Loots. Hy het sy skoolopleiding aan die Hoërskool Douglas ontvang waar hy einde 1943 gematrikuleer het. N skool het die jong Josua hom as tegnikus by die poskantoor bekwaam, maar die roeping om predikant te word, het steeds in sy hart bly brand. Josua het deeltyds aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer en die BA-graad in 1955 behaal wat hom toelating tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gegee het. Die jong teoloog het met Susie Botha van Trompsburg ge- trou, ‘n Kindertuinonderwyseres wat haar opleiding in Bloemfontein ontvang het.

Uit Josua en Susie se huwelik is drie kinders gebore: Ronelle, Kobusen Josua.

Josua het wonderlike tye in die Eikestad beleef en is aan die einde van 1958 as proponent in die Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer. Prop JB Loots het ‘n beroep na die NG Kerk Swartland op Malmesbury aanvaar waar hy in 1959 met handoplegging bevestig is. Dit was ‘n groot voorreg vir hom as jongman om sy voete in so ‘n historiese gemeente te vind. Sy kollega was aanvanklik ds. Lafras Moolman en met sy vertrek ds. Luther Delport – twee kollegas met wie hy in ‘n besondere verhouding gestaan het.

In 1962 is ds. Loots na die NG Moeder- kerk op Somerset-Wes beroep, ‘n gemeente langs die Strand in die Helderberg kom. In 1967 het hy en sy gesin na die NG Gemeente Kroonstad-Noord vertrek waar hy gedien het tot met sy vertrek in 1974 na die NG Gemeente Middelburg-Suid in Transvaal. Vyf jaar later het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Meyerspark in Pretoria aanvaar, ‘n gemeente waar hy tot met sy emeritaat op 22 September 1991 met vreugde gewerk het.

Ds. Josua Loots was ‘n kleurryke predikant wat 32 jaar in die bediening was en vyf gemeentes bedien het. Die laaste stilhou- plek van hierdie egpaar was Kroon-en-dal, ‘n aftreeoord waar hulle met liefde en deernis versorg is. Die egpaar was besonder geheg aan mekaar en het niks sonder mekaar ge- doen nie, ook in hulle dood. Ds. Josua het net twee weke na Susie gesterf. Die laaste paar jaar was ds. Josua sieklik, maar hy het dit met waardigheid gedra tot met sy dood op 15 Julie 2004.

‘n Rou- en verassingsdiens is op 20 Julie 2004 van uit die NG Kerk Meyerspark in Pretoria gehou. Ds. Isak Liebenberg het die boodskap gebring uit Ps. 46 en ds. Loots se seun Josua het die bedankings gedoen.

Die redakteur van Rapport, mnr Tim du Plessis, het in ‘n huldeblyk geskryf: “In hierdie familie van merkwaardige mense, elkeen ‘n besondere individu in eie reg, was daar nie ‘n karakter soos oom Josua nie – iemand van wie ‘n mens kan se: hy was waarlik groter as lewensgroot. Hy was een van daardie mense wat, as jy hom een keer in jou lewe ontmoet het, jy hom eenvoudig nooit sal vergeet nie. Hy het ‘n blywende indruk op mense gelaat. Hy het ‘n gawe van persoonlikheid gehad. Sy persoonlikheid was groter as elkeen van die kerkgeboue waar hy ‘n predikant was. Oom Josua het ‘n magnetiese persoonlikheid gehad. Almal van ons was in een of ander stadium getuie van sy merkwaardige vermoë om mense na hom aan te trek. Hy het charisma gehad, in oorvloed. As hy met jou gepraat het, kon hy jou laat voel asof jy iemand spesiaals was, dat hy tyd en aandag net aan jou gee wat hy gewoonlik nie vir ander gee nie. Om saam met hom in die straat te loop van die dorpe en gemeenskappe waar hy predikant was, was iets om te beleef. As kind het ek dikwels gewonder: ken almal dan vir oom Josua en ken by al die mense?

“Oom Josua het ‘n passie gehad vir die lewe. Vir sy werk, vir sy vriende, vir sy familie. Elke gemeente waar hy gedien het, het volgens hom die fynste, die mees vooraanstaande en die mees begaafde mense in die land gehad. Hy was van meelewing en onderskraging aanmekaar gesit. Daarvan sal elkeen van ons getuig wat ooit by hom aangeklop het vir ‘n bietjie raad en leiding. Hy het empatie beoefen voor die meeste van ons geweet het daar bestaan so ‘n deftige woord. Sy lojaliteit was grensloos. Veral aan sy vriende, sy familie, die mense, sy oortuigings. Hy het, soms heel naak, geglo jy bou mense deur goed te praat oor hulle. Sy mense was in sy eie oë presteerders. Soms het sy lojaliteit die grense van logika en die maatstawwe van objektiewe werklikheid oorskry.

“Oom Josua het van homself gegee. Mildelik en onvoorwaardelik, sonder om iets in ruil te verwag. Soms dink ek hy het soveel gegee, aan sy familie, aan sy vriende, aan sy roeping as predikant, dat daar min oor was vir homself en sy gesin. My ma herinner my gisteraand aan iets wat my pa jare gelede oor oom Josua gesê het: ‘Hy is so vol liefde dat sy hart eintlik te groot is vir sy liggaam. Sy nalatenskap leef in ons almal se harte. En omdat dit so groot en so kosbaar is, weet ons dat ons daardeur getroos sal word.” – Dr Gerdrie van der Merwe.