Linde, Johannes Frederik

Ds. Linde Johannes

gebore

08 Aug. 1902

OORLEDE

21 Jun. 1999

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1932

ORDEN

1932

standplase

 1932 Edenville (Hpr.)

1933 Witzieshoek

1936 Durban

1940 Wakkerstroom

1943 Riviera

1954 Sondagskoolsekretaris (Tvl.)

EMERITEER

Ds Johannes Frederick Linde (BA BD) 08/08/1902 – 21/06/1999

EK wil graag vyf foto’s van “Oom Hannes” (soos ons almal hom geken het) uit die album van sy lewe uithaal.

Foto 1 beeld Oom Hannes as seun uit. Hy is op 8 Augustus 1902 op Swellendam gebore (dusnet nâ. die Anglo-Boere-oorlog); Hier het hy ‘n plaasskool bygewoon tot standerd 6. Hy het toe begin boer. Daar agter die voersnyer het hy die roeping ontvang om predikant te word. Hy het op 18-jarige ouderdom terug skool toe gegaan en vir standerd 7 by die Hoër Jongenskool op Stellenbosch ingeskryf.

Die tweede foto is van Oom Hannes se studentejare. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer en in 1928 sy BA-graad behaal. Hy was leier van die Christen-Studentevereniging. In daardie tyd het hy Anna Christina Olsen ontmoet, ‘n dame wat pas opgelei was as predikant in die Methodist Church ofAmerica. Haar kerk het haar vir sendingwerk na die Kongo gestuur, maar om daar uit te kom, moes sy eers per skip na Kaapstad reis. Deur haar invloed, besluit Hannes om aan die Presbyterian Seminary te Louisvale Kentuckie in die VSA te gaan studeer. Voor sy vertrek, het hy per trein na die Kongo gereis – ‘n tog wat tien dae heen en tien dae terug geduur het – om haar te gaan groet! Na sy studies (waartydens hy die BD-graad verwerf het) het hulle op 7 Mei 1932 getrou en het sy saam met hom na Suid-Afrika gekom om haar by hm en sy kerk aan te sluit.

Hy is op 1 Januarie 1933 op Stellenbosch gelegitimeer. (Mev Linde was dusdie eerste dame in die NG Kerk wat volledige teologiese opleiding gehad het. Sy kon natuurlik nog nie beroep word nie, maar het haar volle gewig by haar man se kerk en werk ingegooi.)

Foto 3 is van Oom Hannes as gemeentepredikant. In 1933 is hy as hulpprediker in die NG Gemeente Edenville in die Vrystaat georden. Nog in dieselfde jaar het hulle na Witsieshoek gegaan waar hy in die Sendinggemeente gearbei het. In 1936 het hy ‘n beroep aangeneem na die gemeente Durban en daarvandaan, in 1940, na Wakkerstroom. In 1943 het die gemeente van Riviera hom na Pretoria beroep. Hy het byna elf jaar lank hier gearbei en diep spore in die gemeente getrap.

Ten spyte daarvan dat elke lid van die gesin ‘n besonder bedrywige program gehad het, was hulle as gesin baie heg en het hulle ‘n geordende huishouding gehad. Oom Hannes was altyd netjies geklee. Selfs toe hy reeds oud en in die versorgingseenheid was, het hy nog elke dag ‘n pak klere en das aangehad. Hy was ‘n gedissiplineerde mens – sy uiters netjiese studeerkamer het daarvan getuig. Destyds het hy elke oggend voor ontbyt sy Chev uitgetrek en afgevee, want hy wou nooit met ‘n vuil kar ry nie. So was hy ook uiters getrou in sy huisbesoek en siekepastoraat. Hy was veral baie gesteld daarop om betyds vir afsprake te wees.

Mev Linde, bekwaam soos sy was, was toe al baie bedrywig in die kerk, onder andere jare lank as voorsitter van die sustersverening/vrouehulpdiens en talle ander kommissies. In hierdie tydperk is hulle twee kinders, Louise en Hans, gebore.

Die vierde foto is van Oom Hannes, die Sondagskoolsekretaris. Hy is in 1954 deur die Gefedereerde Sondagskoolkommissie beroep as die Sondagskoolsekretaris vir Transvaal, Natal en Suid-Wes Afrika – ‘n pos wat hy vir byna twintig jaar beklee het.

Oom Hannes staan in die ry van “groot manne” op hierdie Sondagskoolakker, manne soos Oom PK Albertyn, Anton Stegman, dr Dwight Snyman, dr Eben Greyling en ds Jean du Plessis – almal reeds oorlede. Dit is nog net dr Danie Malan van die Sondagskool-era wat oorgebly het.

In hierdie tyd het Oom Hannes gemeentes dwarsoor ons land besoek, kinders en ouers ontmoet, kursusse aangebied en predikante geinspireer. Hy het die redakteurskap van Kindervriend en Morelig behartig. Die Sondagskoollesse het destyds gereeld in Kindervriend verskyn. Weliswaar het talle ander persone met die opstel daarvan gehelp, maar hy was die koordineerder en “siel” daarvan. Hy het duisende briewe van kinders ontvang wat hy in Morelig beantwoord het. Hy was op talle gebiede bedrywig onder andere as voorsitter van die Sinodale Jeugkommissie (SJK) van Transvaal en stigterslid van die KJV op die Kongres van Wellington. Hy het verskeie groot Sondagskoolkongresse gereël of daaraan deelgeneem. Hy was ook een van die opstellers van die eerste Katkisasieboek van die Gefedereerde Sondagskoolkommissie.

Hy het op 70- jarige ouderdom afgetree. Sedert sy aftrede het dinge baie verander: Die Sondagskool-gedagte het uitgebrei tot dooplidmaat bediening en kategese. ‘n Stewige fondament vir die wesenlike onderrigtaak van die kerk is egter deur hom en sy kollegas gelê ‘n fondament waarop vandag nog ten spyte van al die vernuwing voortgebou word.

Foto 5 wys Oom Hannes na sy aftrede. Dit was destyds byna ondenkbaar dat hy sou ophou om in diens van sy Here te staan. Tien jaar na sy emeritaat het hy nog voortgegaan om geestelike werker vir die NG Gemeente Riviera te wees onder NG Kerk-1idmate by Ons Tuis-oord van die Ned Hervormde Kerk. Hy was dusvir bykans vyftig jaar in diens van die kerk.

Na sy “eerste aftrede” het hulle in Minorca-woonstel in Arcadia gaan woon. Daar beleef hy in 1980/1983 jare van diepe smart: hulle skoonseun, ds Bennie Richard is skielik oorlede, mev Linde sterf in 1981 en Louise in 1983. Wie sal kan dink wat alles in sy sensitiewe hart omgegaan het?

Gelukkig trou hy kort daarna met Bessie Cronje wat hom pragtig bygestaan het toe hy na Sheraton Court, waar sy gewoon het, trek.

In 1994 skuif hulle na ‘n meenthuis in Huis Herfsblaar, maar na twee jaar het hy sodanig verswak dat hy in die versorgings afdeling opgeneem moes word. Hy verswak verder en sy geheue en verstand begin ook agteruitgaan totdat hy op Maandag 21 Junie 1999, na ‘n longaandoening, oorlede is.

Hy rusnou. Hy is by sy Vader wat ook vir hom ‘n woning berei het. Ek is seker hy sal die woorde hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg ”

Ons almal sal hom mis. Dit sluit die duisende mense in wat destyds kinders was en sy briewe gelees het. Veral sy familie sal hom mis. Ons dink spesiaal aan Tannie Bessie, Hans en Susan, die sewe kleinkinders en die vyf agterkleinkinders. By hulle behoort daar net ‘n gevoel van oorweldigende dankbaarheid te wees vir so ‘n dienaar van God, so ‘n man, vader en grootvader. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat deur Bessie Linde ingevul is.