
Mary Liebenberg (geb. Doyle), 1901—1918.
Mary Doyle het as onderwyseres uit Kanada gekom vir die Hugenote-Seminarie, Wellington. Later het sy in die huwelik getree met Eerw. A. J. Liebenberg, en het hom in 1901 vergesel na Nyasaland. Iemand daar het van haar gesê: “Sy was ‘n ware ster in die sending gewees.” Vir jare het hulle op Kongwe gewerk, waar daar veel vrug op haar arbeid onder die vroue en kinders gesien was. Sy was seer begaafd en toegewyd, en haar groot strewe was na ‘n heilige lewe. Later het sy met haar man, wat ‘n gebore pionier~sendeling was, gegaan om die weg te open in Portugees Oos-Afrika, en op Benga het hulle gearbei. Sy het haar so verenig met ons werkers, en het hier weer getoon hoe sy haar kon skik na alle omstandighede. Die hoof van die Sending het na haar dood van haar geskrywe: “Sy was een van Gods edeles. Om haar te ken was om haar hoog te ag. Almal het haar baie liefgehad. Haar verstandelike bekwaamheid was geheilig deur die liefde van haar Heer in haar hart. Om siele vir Hom te wen was haar lewensdoel.” In 1918 moes sy om gesondheidsredes die land verlaat. Toe het sy te Wellington as eerste huismoeder van Kwatu ageer. Op 17 Mei het die Heer haar na Homself geneem. Haar laaste woorde was: “Ek gaan na Huis.” (Bron: Murray, A.C. 1931. Ons Nyasa-akker – geskiedenis van die Nyasa sending van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. p. 312)