gebore
01 Jun. 1919
OORLEDE
05 Apr. 1999
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1952
ORDEN
1953
standplase
1953 Petrusville
1957 Brakpan-Suid
1960 Algoapark
1963 Steynsrus
EMERITEER
–
Ds Jan Petrus Gabriël Liebenberg 01/06/1919 – 05/04/1999
Jan Liebenberg is op 1 Junie 1919 op Piketberg gebore. Sy vader (Andries) was ‘n boer en sy moeder (Reina) ‘n onderwyseres. Hy het in die laer- en hoërskool op
Piketberg (1926-1936) skoolgegaan, maar slaag matriek deur middel van ‘n korre-spondensiekursusin 1946. Van 1938 tot 1945 het hy as klerk op die spoorweë gewerk.
Vir sy teologiese opleiding het hy na Stellenbosch (1947-1952) gegaan waar hy die Diploma in Teologie behaal het. Hy is op 4 Desember 1952 gelegitimeer.
Sy gesinslewe het op 17 Februarie 1951 begin toe hy in die huwelik getree het met Engela Elizabeth le Roux. Hulle het later drie kinders gehad: Andries (03 April. 1953); Le Roux (14 September 1955) en Jan (02 Desember 1960); Op 2 Januarie 1981 het ‘n verskriklike ramp die huisgesin getref toe twee van hulle seuns, Andries (28) en Jan (20); in die Drakensberge omgekom het nadat ‘n skielike wolkbreuk ‘n rotsstorting veroorsaak het.
Ds Liebenberg is op 16 Mei 1953 op Petrusville georden en bevestig. Hier het hy vir vier jaar gearbei. Hy is toe na Brakpan-Suid waar hy op 25 Mei 1957 bevestig is. Vandaar het sy bediening suidwaarts na Algoapark, Port Elizabeth, verskuif waar hy in Junie 1960 ontvang is. Uiteindelik het sy pad na die Vrystaat gelei waar hy op 9 Februarie 1963 op Steynsrusbevestig is. Hy het tot in 1980 (17 jaar) daar gearbei.
Op 8 Maart 1980 moes hy weens swak gesondheid aftree. Hulle het in Steynsrus gaan woon, waar hy nog soms eredienste in die plaaslike en buurgemeentes waargeneem het. Sy gesondheid het egter verswak sodat hy reeds in 1997 in die Onze Rust-huis vir bejaardes opgeneem is, terwyl sy vrou nog in hulle huis gebly het.
Hy het veral op Steynsrus’n aktiewe bediening gehad. Hy het die voortou geneem in die bou van ‘n pastorie, ‘n skoolkoshuis en pastorie en kerksaal vir die Sendingkerk. Hy het ook al die aanvoorwerk vir die daarstelling van die huis vir bejaardes gedoen. Vir hom was sending en jeugbediening baie belangrik. Hy het ‘n lewendig belanggestel in die plaaslike gemeente van die NG Kerk in Africa gehad en het jaarliks vir hulle ‘n nagmaalsdiens gaan hou. Hy het ook in die jeug-, sending- en evangelisasiekommissies gedien. As een negatiewe ding van hom gesê kan is, dan is dit dat hy te veel aandag aan sy gemeente geskenk het ten koste van sy gesin. Hy het altyd gesê dat hy vier en twintig uur per dag aan diens is.
Ses j aar gelede het hy ‘n beroerte-aanval gekry en sedertdien was daar erge verkalking van die are. Hy het ook chroniese bronchitis gehad en sy oë se sig het skerp afgeneem. Hy het geleidelik agteruitgegaan. Hy is op 5 ApriL. 1999 oorlede. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat op 15 Maart 1997 ingevul is.