
gebore
1875
OORLEDE
20 Jan. 1939
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1909
ORDEN
1910
standplase
1884 S.W.A (moedergemeentes)
1932 as Predikant gelegitimeer
1932 Gibeon
EMERITEER
–
Ds. Edward Johannes Leonard is gebore in 1875. Hy was reeds 34 jaar toe hy na volbragte studie aan die einde van 1909 as sendeling van ons Kerk toegelaat is. Die volgende jaar is hy deur die gemeente Richmond gestuur na Suidwes-Afrika om in die blanke Ned. Geref. gemeente Gibeon werksaam te wees, en vanaf 1912 het hy vir ‘n tyd die hele Suidwes-Afrika as arbeidsveld gehad. Hy kan die vader van ons Ned. Geref. Kerk in Suidwes-Afrika genoem word want gedurende die 29 jaar van sy bediening was hy gedurig aan die spits van haar hele ontwikkeling op kerklik-godsdienstig gebied. Keetmanshoop, Windhoek, Warmbad en Bethanie het hy as aparte gemeentes sien ontwikkel en ‘n aktiewe leiding in die afstigtings geneem. Oral deur die land lê sy voetspore gegraveer en staan kerke en kerksale as monumente van sy onvermoeide ywer en reuse-werkkrag. Hy was ‘n organiseerder by uitnemendheid en moes altyd op vele plekke buitekerke hou en nagmaalsdienste waarneem. Hy was meestal op reis en iemand het tereg gesê: Hy het in die gemeente gewoon, tuis het hy slegs gekuier. In al die werksaamhede is hy trou gesteun deur sy eggenote. As blyk van erkenning van sy dienste aan ons Kerk in Suidwes is aan hom in 1932 die status van predikant deur die Kaapse Sinode toegeken. In die ouderdom van 64 jaar is hy op 20 Januarie 1939 na ‘n bitter lyding te Stellenbosch oorlede en in sy geliefde gemeente Gibeon ter ruste gelê.