Le Roux, Gerrit Conradie

Ds. GC Le Roux

GEBORE

08 Aug. 1928

OORLEDE

18 Mei 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1932

ORDEN

1933

standplase

1933 Jeppestown (Hpr.)

1937 Jeppestown

1938 Hanover

1942 Middelburg, Kaap

1947 Tulbagh

1952 Zastron

1957 Worcester-Oos

1960 Aliwal-Noord

1964 Luckhoff

EMERITEER

‘n Minsame man en ‘n egte pastor wat groot erns met die versorging van sy gemeentelede gemaak het. Dit was Gerrit Le Roux. Gebore op 8 Augustus1928 te Robertson, het hy eers skoolgegaan in die Agter-Vinkvallei in die Robertson-distrik (1914-1919) en daarna by die Hoër Jongensskool op Robertson (1920-1924); Op skool het hy deelgeneem aan atletiek en rugby.

Vir sy teologiese studies het hy in 1925 Stellenbosch toe gegaan waar hy in 1928 die BA-graad verwerf het. Na nog ‘n jaar van studie het hy by die Kweekskool ingeskryf en op 19 Desember 1932 is hy gelegitimeer. Tydens sy studiejare op Stellenbosch het hy Sondagskool gehou en deelgeneem aan sendingwerk, sosiale bedrywighede en veral rugby. Hy het in 1927 in die onder-19A-span gespeel en in 1931 en 1932 in die universiteit se tweede span.

Wat sy gesinslewe betref, het hy op 24 ApriL. 1935 in die huwelik getree met Hester Gertruida Jacomina Jacobs, ‘n nooi van Philippolis en ‘n onderwyseres in die Boland. Uit hierdie huwelik is vyf kinders gebore: Jan (15 Februarie 1936); Pieter (14 November 1938); Catharina (22 Desember 1942); Judith (20 Februarie 1945) en Christelle (12 Augustus1947).

Hulle is almal getroud en in 1997 was daar alreeds sestien kleinkinders.

Sy bediening het in 1933 as hulpprediker by Jeppestown begin waar hy in 1937 as tweede predikant georden is. In 1938 is hy na Hanover beroep en in 1942 na Middelburg in die Kaap. Hy het met veel seën in hierdie gemeentes gewerk. Daar was groot opgewondenheid toe Gerrit en Hester se dogtertjie, Catharina, gebore is omdat dit die eerste kindjie was wat weer na drie en dertig jaar in die pastorie van Middelburg gebore is! Interessant genoeg het ‘n geweldige haelstorm Middelburg in daardie tyd getref. Die pastorie se skoorsteen is deur ‘n weerligstraal afgeslaan en het in die voorportaal beland. Gelukkig het niemand seergekry nie.

In 1947 het Gerrit se bediening in Tulbagh begin. ‘n Uitstaande gebeurtenis tydens sy verblyf op Tulbagh was toe hy op 21 Augustus1949 die voorreg gehad het om vyf van sy swaers se kinders, wat deur die vyf susters (onder andere sy eggenote) ingebring is, te doop. Die unieke doopplegtigheid is gehou by die Philippolis-gemeente waar die vyf broers en hulle vyf susters ook deur die loop van jare gedoop is.

By sy pastorie op Tulbagh het Gerrit die restourasie van die huis onderneem in die oorspronklike ou Kaaps-Hollandse boustyl. Deur sy toedoen is jaarliks op Hervormingsdag Bybelsondae gehou, wat ‘n gesamentlike diens van die moeder- en die sendinggemeente was.

Nadat hy vyf jaar in Tulbagh gearbei het, is hy in 1952 te Zastron bevestig. Daarvandaan is hy in 1957 beroep na Worcester-Oos en in 1960 na Aliwal-Noord. In 1964 het hy predikant te Luckhoffgeword en in 1970 het hy sy bediening in Jeffreysbaai afgesluit. In daardie stadium was Jeffreysbaai nog ‘n klein gemeente en hy kon al die lidmate getrou versorg en in die besonder aandag aan die siekes gee. Sy prediking was opreg en innig.

Tydens sy bediening het hy in die ringskommissies van sewe verskillende ringe gedien. Hy was ook lid van die Algemene Sendingkommissie, sowel as die Sinodale Jeugkommissie (SJK); Sinodale Sendingkommissie (SSK); SKAE en die Anti-Kommunisme-kommissie. Hy is beskryf as ‘n knap, toegewyde, ywerige en innemende dienskneg van die Here.

Hy het sy emeritaat op 2 September 1973 aanvaar – onder andere omdat hy die groot getal proponente wat werkloos was, in ag wou neem. Die gesin het na Vrede verhuis waar hy aflos-preekbeurte en Pinksterdienste by onder andere die Arlingtongemeente waargeneem het. Sy vrou het hom intussen ontval. Op 20 ApriL. 1985 het hy weer getrou met Dina Carolina Badenhorst (geb Van Rensburg).

Vroeg in 1998 het hy vir ‘n reunie Kaap toe gegaan. Kort na sy terugkeer, het hy geval waarna hy al swakker geword het. Sy tweede vrou het hom ook ontval, maar hy het nog ‘n tyd lank in sy woonstel by Avondvrede op Vrede aangebly. Hy is later na die siekeboeg oorgeplaas word waar hy op 18 Mei 1998 oorlede is.

Gerrit le Roux was ‘n liewe mens met ‘n heerlike humorsin. Almal was werklik lief vir hom. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat hy op 09 Februarie 1997 ingevul is en ‘n gesprek met matrone Coetzee van Avondvrede.