Le Roux, Claudi

 

GEBORE

22 Januarie 1988

OORLEDE

23 Januarie 2015

UNIVERSITEIT

BTh, MDiv

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Claudine le Roux (Opperman) is op 22 Januarie 1988 in Pietersburg gebore. Haar pa, ds. Rudolph Opperman, was toe leraar in die NG gemeente Potgietersrus-Suid. Haar ma, Antoinette Christa Nel, dien die Here as onderwyseres.

Haar grootouers aan vaderskant was Barend Johannes Opperman, ‘n onderwyser, en Susanna Claudina Grove, ‘n maatskaplike werker.

Haar grootouers aan makant was Johannes Antonie Christoffel Nel, ‘n boer, en Susanna Blondina van Heerden, ‘n tuisteskepper.

Claudi begin haar skoolopleiding aan die Laerskool Krugerpark op Potgietersrus. Sy was later ‘n leerling aan die Hoërskool Piet Potgieter op die dorp en matrikuleer aan die Hoërskool Overkruin in Pretoria.

Oor sy dogter, skryf ds. Roelf Opperman: “Toe Claudi nog klein was het sy saans in die bed gesit en Bybel lees. Sy was altyd saam op kerkkampe en toe haar pa in haar gr 10-jaar Kameeldrif toe beroep is, bring sy in die nuwe gemeente ‘n jeuggroep op die been. Sy noem dit Sout: Spesiale Oulike Unieke Tieners. In haar matriekjaar het sy sekerheid gekry dat sy dominee wil word. Ek het haar aangemoedig.”

Na matriek skryf Claudi in as student in Teologie aan die Universiteit van Pretoria en geniet haar teologiese opleiding. Sy behaal die BTh- en die M Div-graad. Sy was deel van die studentelewe, twee termyne lank op die joolkomitee en haar koshuis se huiskomitee. Dr Roelf skryf: “Teenoor die Fakulteit Teologie by Tukkies is ek baie dankbaar. Hulle het vir Claudi geleer om te dink.”

In 2010 tot 2011 werk Claudi as ‘n laboratoriumassistent by die RGT Laboratoriums aan die Universiteit van Pretoria.

Sy word in 2011 jeugwerker by die NG gemeente Stellastraat, waar sy ‘n studente-Bybelstudiegroep stig en as jeuggroepleier staptoere, jeugkampe, matriekmentorsgroepe en studentestaptoere organiseer. Sy is ook deel van die predikantspan se preekbespreking en gemeente-administrasie.

In 2012 word sy assistent-lektor in Inligtingsgeletterdheid en Praktiese Rekenaargeletterdheid aan Tukkies en doen ook haar praktiese jaar in die NG gemeente Stellastraat. Sy werk hard en doen uitstekende ervaring op in die gemeentebediening.

Toe sy na legitimasie nie ‘n beroep kry nie, het sy in 2012 en 2013 ‘n onderneming met die naam Valutrix begin. Sy het jeugontwikkeling in skole gedoen, waar sy kinders in leierskap en die vestiging van waardes begelei het.

Claudi Opperman het met Ewald le Roux getrou, ‘n man wat haar voete op die aarde hou en haar heelhartig in die bediening ondersteun. Ewald behaal sy BSc (Hons)-graad in Konstruksiebestuur en werk tans as konstruksietydsbeplanner.

Op 2 Februarie 2014 word Claudi leraar van die NG gemeente Valhalla. Sy is aanvanklik beroep met die oog op die jeugbediening in ‘n 20-persentleraarspos. Binne twee maande na haar bevestiging as leraar, neem haar kollega ‘n beroep aan en neem sy die volle bediening van die gemeente oor.

Op 23 Januarie 2015 sterf ds. Claudi le Roux in ‘n fratsongeluk. Een van die slegste dinge wat met enige ouer kan gebeur, is die dood van ‘n kind. Dr Roelf skryf: “‘n Stuk metaal val van ‘n vragmotor af, deur haar voorruit en tref haar teen die kop. Ek was binne tien minute en voor die paramedici op die toneel. Claudi het bygekom, wou weet wat gebeur het en hoe ernstig haar beserings is. Ek het vir haar gesê daar is bloed, dit lyk ernstig, sy moet rustig wees. Die ambulans is op pad. Later by die hospitaal wou sy weet of sy sou doodgaan. Die beserings is ernstig, maar sy moet bly veg. Later die aand is sy dood.”

By die diens ter viering van Claudi se lewe het ds. Lizl-Louise Schoeman, haar mentor en vroeëre kollega in Valhalla, ‘n boodskap verkondig wat rustigheid gebring het. Aan die einde van die diens het ‘n skare dominees vorentoe gekom om saam die seën uit te spreek.

Neels Jackson van Kerkbode skryf dat Claudi altyd aan die “underdog” se kant was, iemand met ‘n hart vir die verontregte en afvlerk-mense. Haar pa, Roelf, getuig: “En te midde van die seer klink die klanke van die evangelie telkens uit die gebeure op. Getuienisse oor ‘n jong dominee wat deur God in so baie mense se lewe gebruik is. Dit is die verhaal van ‘n hartseer gesin wat toegevou word in die liefde en ondersteuning van die kerk. Dit is hierdie evangelie, die boodskap van liefde wat sterker bly as die dood, wat Claudi se nagedagtenis voortdra.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM