Latsky, Christoffel Hermanus

 

GEBORE

13 Sep. 1906

OORLEDE

3 Okt.  1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1934

ORDEN

1937

standplase

1937 Beaufort-Wes (Hpr.)

1938 Alexandria

1943 Bredasdorp

1948 Parow-Oos

EMERITEER

Ds Christoffel Hermanus (Christo) Latsky (13.9.1906 – 3.1O. 1985) sal veral onthou word as die getroue en algemeen geagte leraar vir meer as 25 van die eerste 31 bestaansjare van die gemeente Parow-Oos. Hy was die jongste van wyle eerw en mev C H E Latsky se drie predikantseuns. die ander twee was ds S J Latsky wat na ‘n bediening van slegs ses jaar in Strydenburg weens verswakte gesondheid uit die diens moes tree en ds P S Latsky wat, met ‘n onderbreking van ses jaar toe hy organiserende sendingsekretaris van Kaapland was, sy hele bediening van 39 jaar aan die St Stephensgemeente in Kaapstad gewy het. Hy is op Stellenbosch gebore, waar sy vader meer as 40 jaar lank as eerste leraar van die NG Sendinggemeente ‘n baie groot werk gedoen het, en daar ontvang hy ook sy skool- sowel as sy universiteits- en teologiese opleiding. In 1931 is hy ‘n lid van die grootste groep – 43 stuks – wat tot op daardie datum tot die Kweekskool toegetree het en einde 1934 – net n die verskriklike droogte en die swaar depressie – word hy saam met 33 ander gelegitimeer. Nadat hy in De Aar gehelp het, word hy begin 1936 hulpprediker vir die hooggeagte ds Johannes Rabie van Beaufort-Wes en op 3 April die jaar daarna volg sy plegtige ordening en bevestiging. Tot in 1938 toe hy ‘n beroep na Alexandria aanvaar, doen hy hier in die oudste gemeente van die Groot-Karoo ‘n besonder vrugbare werk. Terwyl sy bevestigingsrede op Beaufort-Wes deur sy vader gehou is, tree sy skoonvader, ds David Botha van Koffiefontein, by sy bevestiging op Alexandria as prediker op. Tydens sy bediening daar gaan die gemeente ook op tydelike gebied vooruit en o.a. word daar ‘n groot skoolkoshuis vir seuns, later die Dirkie Uys-Hostel genoem, gebou. As groot sendingvriende doen die pastoriepaar baie om die sendingwerk van die gemeente tydens ‘n lang vakature aan die gang te hou. Na ‘n dienstyd van vyf jaar in Oos-Kaapland gaan hy na Bredasdorp, waar hy in Junie 1943 bevestig word en toe ruim vyf jaar lank eers saam met ds J Z Eloff en toe saam met ds F J B Malan staan, totdat hy in September 1948 leraar van die jong gemeente Tierberg (later Parow-Oos) op die Kaapse Skiereiland word. Onder die hoogtepunte van sy lang bediening in die gemeente wat in sy tyd vinnig begin groei, tel die afstigting van Tygerberg (1956) en Oostersee (1967); die hoeksteenlegging van Parow-Oos se laerskool in Maart 1957 en die oprigting van die ruim kerkgebou digby die Voortrekkerweg. Na sy aftrede op 17.3.1974 verrig hy tot Desember 1984 gewaardeerde hulpdiens in Rondebosch waar hy grotendeels vir die geestelike versorging van die bejaardes in Huis Luckhoff en Huis Piet du Toit verantwoordelik is. Daarna doen hy dieselfde werk in die SA Vervoer- dienste se SASSAR-Aftree-oord in Parow-Panorama. Van hom is daar gesê dat hy by uitstek ‘n man vir die sending was en hy dien dan ook in die Skiereilandse Sendingraad van sy ontstaan af en 23 jaar lank in Kaapland se Sinodale Sendingkommissie (ook voorsitter van die Bantoesubkommissie hiervan); Voorts was hy ‘n lid van die besture van die Ramot-Sentrum vir alkoholiste en die Jan Krielskool vir epileptici, sowel as van die eerste skoolraad van Parow (12 jaar) en die komitees van die J J du Preez Hoër- en die Parow-Oos-Laerskool (voorsitter van albei) en die Westcliffe Middelbare Skool, Bellville. Hy was opgeruimd van aard en vriendelik en mensliewend teenoor alle bevolkingsgroepe. Daarby was hy baie lief vir die jeug – oud en jonk het sy kinderdienste geniet – en vir sang, veral kore. Sy leuse was: `Hoe meer ‘n mens doen, hoe meer wil en kan jy doen’. Sy vol en ryk aardse lewe loop ten einde toe hy in ‘n ambulans op pad na die hospitaal beswyk, nadat hy skynbaar weens ‘n hartaanval agter die stuur van sy motor teen ‘n boom vasgery het.