Lategan, De Wet Botha

Ds. DB Lategan

GEBORE

2 Jul

OORLEDE

4 Des. 1983

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1930

ORDEN

1931

standplase

1931 Willowmore (Hulppr.)

1931 Warmbad, Tvl.

1946 Postmasburg

1962 Vanstadensrus

EMERITEER

Ds De Wet Botha Lategan (2.7.1902- 4.12.1983) se voorname het die tyd van sy geboorte – kort na die Anglo-Boereoorlog waarin generaals Christiaan de Wet en Louis Botha so ‘n groot rol gespeel het, aangedui. Hy is op Burgersdorp in Noordoos-Kaapland gebore, maar matrikuleer op Ficksburg, OVS. Met ‘n BA van die toenmalige Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein gaan hy in 1927 Stellenbosch toe om einde 1930 tot die bediening toegelaat en op 5.9.1931 as leraar van Warmbad Tvl. bevestig te word. Hoewel die gemeente nog lank daarna moet worstel, breek daar met sy koms tog ‘n tyd van groei en vooruitgang aan. Gedurende die 15 jaar van sy dienstyd daar word Thabazimbi in 1943 afgestig en die drukkende kerkskuld in 1942 gedelg, sodat die gemeente teen 1945 ook sy hulpbehoewendheid te bowe kom. Buitendien samel hulle sedert 1938 onder die leraar se leiding nog £7 000 in vir die bou van die kerk wat hulle ‘n paar jaar na sy vertrek in gebruik kan neem. In sy volgende gemeente, Postmasburg in Noord-Kaapland, verg kerkbou ook sy aandag en daar word die skuld vyf dae na die gebou se inwyding begin Desember 1956, afbetaal. Hier dien hy van 1958 tot 1962 as voorsitter van die Ring van Griekwastad, terwyl hy ook ‘n leidende aandeel neem in die stigting in 1958 van die Mangaansendinggroep wat ‘n belangrike bydrae tot die totstandkoming van die Phororo-Streeksinode van die NGKA in 1966 sou lewer. Die laaste ongeveer vyf jaar van sy bediening tot sy aftrede op 2.7.1967 val in die klein Vrystaatse gemeente Vanstadensrus. Daarna woon hy en sy gade onder andere in Pretoria en – in sy eie woorde – `van die mooiste natuurskoon in die land’, op hul eie hoewe in Magoebaskloof, Noord-Transvaal. Hy was ook as kunsskilder bekend en het verskeie uitstallings gehou. Met die werk het hy voortgegaan selfs nadat sy regterhand verlam is deur ‘n beroerte-aanval wat hy in Junie 1968 op Burgersdorp gekry het terwyl hy daar in die moeder- en sendinggemeente behulpsaam was.