
GEBORE
25 Feb. 1906
OORLEDE
6 Aug. 1978
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1933
ORDEN
1934
standplase
1934 Lady Grey
1940 Riversdal
1943 Kuilsrivier
1948 Theunissen
1953 Riversdal
EMERITEER
1974
Ds Jan Hendrik Lange (25.2.1906 -6.8.1978); een van ons bekendste en aktiefste predikante, het betreklik onverwags die tydelike met die ewige verwissel, nadat hy na ‘n ernstige siekbed wonderlik herstel het. Hy is in die distrik Kenhardt gebore en gaan eers op Kenhardt en Britstown en toe op Upington skool. Sy universiteits- en teologiese opleiding geniet hy op Stellenbosch en einde 1933 word hy gelegitimeer. Op 4.8.1934 word hy in die gemeente Lady Grey bevestig en daarna bedien hy Riversdal (1940); Kuilsrivier (1943); Theunissen (1948) en sedert 1953 weer Riversdal tot die aanvaarding van sy emeritaat 22.1.1974. Hierna word hy skakelbeampte van die Hugenote-Kollege op Wellington en in die hoedanigheid besoek hy talle gemeentes in verskeie dele van ons land en samel hy groot bedrae veral met die oog op die kollege se beursfonds, in. Hy was ‘n diep toegewyde leraar, wat groot erns met sy prediking en sy herderlike arbeid gemaak het. As gevolg van sy deeglike voorbereiding vir sinodale en ander kerklike vergaderings, kon hy met gesag en welslae aan besprekings en debatte deelneem. Veral in sinodale vergaderings het sy optrede altyd lewendige belangstelling uitgelok. Nooit het hy geskroom om sy vaste oortuigings onomwonde uit te spreek of op skrif te stel nie. Vanselfsprekend is dit dan ook dat hy in talle belangrike sinodale kommissies gedien het. Onder meer was hy lank lid en in 1961-1971 ook voorsitter van Kaapland se SKDB, ‘n aantal jare lid van die Proponents eksamenkommissie vir die Kweekskool op Stellenbosch en verskeie kere voorsitter van die Tydelike Regskommissie van die Kaapse Sinode. Vir die kerklike barmhartigheidswerk en veral vir die versorging van bejaardes het sy hart warm geklop en op Riversdal dra so ‘n tehuis ook sy naam. Ook was hy vaardig met die pen, soos dit duidelik geblyk het uit sy gereelde briewe in Die Kerkbode en dagblaaie. Onder die skuilnaam Jik het daar ‘n boekie van hom oor drankmisbruik onder die Bruinmense verskyn en Die Voorligter se lesers het selfs ‘n kortverhaal uit sy pen onder die oë gekry. Origens het sy liefde vir die Grieks van die Nuwe Testament hom deur die jare heen bygebly. (Jaarboek 1979/268).