GEBORE
12 Des. 1919
OORLEDE
1 Okt. 2004
UNIVERSITEIT
BA; MA (US)
gelegitimeer
1945
ORDEN
1946
standplase
1948 Kuilsrivier
1958 Stanford
1962 Clanwilliam
1966 Tulbagh
1974 Robertson
1979 Strand-Noord
EMERITEER
14 April 1985
Ds Hennie Lambrecht (BA-Hons, MA) 12/12/1919 – 1/10/2004
Hendrik Adam Albertyn Lambrecht is op 12 Desember 1919 in die Swartland gebore en groei op in hierdie pragtige omgewing met sy groen koringlande. Deur die jare sou hy bekend staan as Lampies, wat later meer afgewissel word met die noemnaam Hennie. Hy deurloop sy hele skoolloopbaan op Moorreesburg waar hy in die eerste klas matrikuleer. ln hierdie tyd het Lampies reeds die begeerte om vir die Here te werk.
Hy vertrek na Wellington waar hy vanaf 1938 tot 1941 ‘n kursus aan die Sending Instituut op die dorp aan die voet van die Groenberg voltooi. lntussen verwerf hy die BA-graad wat hom toelating tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad gee, waar hy vanaf 1942 tot 1954 studeer en terselfdertyd ook die MA-graad in Sielkunde op Stellenbosch verwerf. In die Pinkster van 1945 help Lampies in Gordonsbaai wat toe nog ‘n wyk van Somerset-Wes was, terwyl hy aan die einde van die jaar na sy legitimasie hulpprediker word van ds AGE van Velden. Hy breek nooit bande met die Teologiese Seminarium nie, ds Hennie Lambrecht is 25 jaar lank voorsitter van die eksamenkommissie vir teologiese opleiding in Stellenbosch.
Hennie raak in die tyd goed bekend in die Helderbergkom, word op 1 Julie 1946 beroep na die NG Gemeente Somerset-Wes. Hier word hy op 17 Augustus 1945 ontvang en bevestig, negentien leraars neem aan die handoplegging deel. Na twee jaar as alleenloper trou Hennie op 16 Augustus 1947 met mej Truida Maree van Caledon, wat met haar BA-graad onderwys gee op Kingwilliamstown, Somerset-Oos en Bellville.
Die naweek van 6 November 1948 word ds en mev HAA Lambrecht in die NG Gemeente Kuilsrivier ontvang en bevestig, die begin van ‘n besondere dienstyd van tien jaar. In 1953 word die halfeeufees van die gemeente gevier, ‘n besondere geleentheid vir elke lidmaat wat saam met die herderspaar terugkyk. In sy dienstyd word ook ‘n kerksaal op Eersterivier gebou en ‘n nuwe pastorie op Kuilsrivier waarin ds Stoffel Colyn sou woon. Op 21 Junie 1958 word ds Hennie en Truida Lambrecht die leraarspaar in die NG Gemeente Stanford, waar die egpaar die volgende vier jaar goeie werk verrig, onder meer word ‘n nuwe kerksaal op Stanford gebou.
Op 19 Mei 1962 word ds Hennie na die NG Gemeente Clanwilliam beroep, ‘n roepstem waaraan hy gehoorsaam. In sy dienstyd word ‘n nuwe kerkgebou en kerksaal op 17 Oktober 1964 ingewy. Die gebeurtenis val saam met die 150-jarige bestaan van die dorp Clanwilliam. Hy lewer goeie werk en die toegewyde wyse waarmee hy die Woord bedien en die kerklike administrasie behartig spreek boekdele.
Spoedig loop die herderspaar se pad na die NG Gemeente Tulbagh waar hy die naweek van 11 Maart 1966 ontvang en bevestig word. In hierdie skilderagtige dorpie beleef hulle wonderlike Iief en leed, ook die skrikwekkende gebeure op Maandagaand 29 September 1969 vier minute na tien, toe ‘n verwoestende aardbewing die hele gebied tref. Op Tulbagh is die Lambrecht’s bevoorreg om die oudste bewoonde pastorie in die land te bewoon, dit is reeds in 1769 ingewy en ‘n groot feesviering is vir die naweek van 11-12 Oktober 1969 gereël wat weens die aardbewing afgestel is. Gelukkig word die pastorie herstel, maar die kerkgebou is onherstelbaar beskadig en ds Hennie is net soos in sy vorige gemeente weer geroep vir die bou van ‘n nuwe kerkgebou. Met groot vreugde word ‘n nuwe kerkkompleks die naweek van 29-30 September 1973 ingewy.
Op 18 Januarie 1974 word ds Hennie Lambrecht die nuwe leraar van die NG Gemeente Robertson, met medeleraar ds AGS Gous. Hulle bewoon die ruim pastorie met ‘n appelkoosboord wat een jaar meer as twee ton appelkose lewer. Hier is hy ook betrokke met bouwerk, die vergroting van die historiese kerkgebou se konsistorie. ln die gemeente was hulle baie gelukkig, daarom was die beroep na die NG Gemeente Strand-Noord ‘n swaar slag. Vanaf 12 Oktober 1979 tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 14 April 1985 bedien hy die gemeente Strand-Noord waar die leraarspaar uitstekende werk lewer. Johan Lambrecht skryf oor sy vader se persoonlikheid: “Hy was ‘n persoon met deernis en respek vir sy medemens. Sy openhartige omgang, belangstelling in mense se lief en leed en wonderlike humorsin het hom baie geliefd gemaak. Elke gemeente was vir hom ‘n nuwe uitdaging van die Here”.
Die egpaar koop ‘n aftreehuis in Kerkstraat 24, Strand, digby die Moedergemeente se kerkgebou waar die egpaar nege gelukkige jare beleef. In 1994 verhuis die egpaar na die aftreeoord Ametis in die Strand, waar hy die laaste dekade van sy lewe woon en agt jaar lank voorsitter is van Ametis se huiskomitee en ook op die Raad van Trustees dien. Onder sy leiding word die noordelike ingang en die siekeboeg verbeter en uitgebrei. Hy doen prostaatkanker op en sterf op 1 Oktober 2004 in die ouderdom van 84 jaar en ‘n roudiens word deur ds Gerhard Stoffberg van Suider-Strand gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Truida, drie seuns Johan, Kobus, Hennie en agt kleinkinders. – Dr Gerdrie van der Merwe.