GEBORE
29 Mei 1921
OORLEDE
21 Nov. 1986
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1945
ORDEN
1946
standplase
1946 Clarens
1948 Nuwerus
1950 Woodstock
1954 Kamieskroon
1962 Delmas
1964 Alexanderbaai
1969 Potchefstroom-Oos
EMERITEER
–
Ds Gerhardus Johannes Labuschagne (29.5.1921 – 21.11.1986) is op 29 Mei 1921 op Ladysmith, Natal gebore. As gevolg van die historiese gebeure naby sy geboorteplek het hy altyd ‘n lewendige belangstelling in die stryd van die Afrikaner gehad en sterk emosionele bande met Natal behou. Van jongs af het hy die Here gedien en sy besluit om hom op Stellenbosch vir die bediening te gaan voorberei, was geen verrassing vir sy familie nie. Hy was ‘n toegewyde student wat ook Zoeloe by sy kursusingesluit het. Hy word op 5.10.1946 op Clarens bevestig nadat hy tydelik as hulpprediker in Noorder-Paarl gedien het. Op 31.1.1948 word hy op Nuwerus bevestig. Daarna dien hy sedert 10.6.1950 in Woodstock, 10.7.1954 in Kamieskroon en 13.4.1962 op Delmas. Op 16.1.1965 word ds Labuschagne op Alexanderbaai ontvang. Alexanderbaai onthou hom as ‘n pastor by uitnemendheid. Hy het ‘n passie gehad vir huisbesoek. Dit is dan ook op rekord dat hy in ses maande 242 gesinne besoek het. Ds. Labuschagne was baie lief vir die Noordweste en sy mense. Op 19.12.1969 word hy in Potchefstroom-Oos bevestig, waar hy tot sy afsterwe sou dien. Hier word hy onthou vir sy gawe om met mense te werk en veral vir sy kontak met die bejaardes. Soos ‘n vriend dit uitgedruk het: “Hy was nie net die predikant van sy lidmate nie, maar as’t ware die kapelaan van Huis Anna Viljoen.” Ds. Labsuchagne was nougeset en presies in alles wat hy aangepak het. In 1984 het hy sy Bybel begin lees van Genesis 1 af. Elke dag het hy in sy netjiese handskrif die datum neergeskryf en onderstreep. So het hy gevorder tot by 8 November 1986, tot hy klaar was met Openbaring. Dit was die laaste inskrywing. Op 10.11.1986 is hy in die hospitaal opgeneem en elf dae later is hy in Bloemfontein oorlede. Sy Bybel was klaar gelees. Sy werk is afgehandel, sy boeke is afgesluit en gebalanseer. Hy laat sy vrou, Marietjie van Zyl, en kinders agter.