GEBORE
11 Apr. 1926
OORLEDE
05 Mrt. 1995
UNIVERSITEIT
B.A. (US)
GELEGITIMEER
1951
ORDEN
1952
STANDPLASE
1952 Gordonsbaai
1963 Memel
1966 Gamka-Oos
1979 Karatara
EMERITEER
1964, 1973 en 1981
Ds Matthys Kritzinger het sy kinderjare deurgebring in Joubertina in die Langkloof. Hy is reeds op vierjarige ouderdom skool toe omdat hy nie alleen by die huis wou bly toe sy ouer boetie skool toe is nie. Sy latere skooljare was in die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch toe sy vader die eienaar van L’Avenir was. Daarna studeer hy aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch.
Hy word aan die einde van 1951 gelegitimeer en word in sy eerste gemeente, Gordonsbaai, bevestig op 22.11.1952. Daarna bedien hy die volgende gemeentes: Port Elizabeth-Sentraal (20.09.1958) en Memel (09.02.1963); In hierdie stadium was hy siek en het baie aan migraine gely. Hy het ook in daardie tyd vier groot maagoperasies gehad. Gevolglik moes hy soms lank siekverlof neem. Sy pligsgetroue geaardheid het veroorsaak dat hy nie kon aanvaar dat hy siek kan wees en nog ook traktement kon ontvang nie en hy het dus op 12.12.1964 geëmeriteer
Hy sit egter sy werk weer op Memel voort en word later op 30.07.1960 in Gamka-Oos bevestig. Op 04.02.1973 aanvaar hy weer emeritaat. Op 06.04.1979 is hy weer in staat om ‘n beroep te aanvaar na Karatara. Daar emeriteer hy finaal op 06.12.1981.
In al die gemeentes waar, hy gedien het, was hy ‘n geliefde leraar. Hy was iemand wat aanpasbaar was by die behoeftes van die lidmate en wat met groot toewyding die pastorale versorging waargeneem het. Saam hiermee was die prediking vir hom van uiterste belang en het hy groot erns daarmee gemaak.
As predikant en as vader was hy iemand wat nooit moedeloos geword het nie. Van kla het ‘n mens baie min by hom gehoor – al was sy gesondheid soms so dat hy nie werklik kon voortgaan nie. Hy was met verskillende gawes bedeeld. Hy kon byna enige musiekinstrument bespeel en het ‘n pragtige sangstem gehad. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie en sy vaardigheid met gereedskap was in sy latere lewe vir hom ‘n geleentheid vir diens aan ander, veral in die aftree-oord waar hulle gebly het.
As pa van drie kinders, ‘n tweeling seun en dogter vier jaar later, nog ‘n seun, was hy een van die beste voorbeelde van ouerskap om na te streef. Albei seuns, Emil en Kotie, is predikante van die Ned Geref Kerk. Ondanks al die jare van siekte en probleme met inkomste, het hy tog gesorg dat al drie kinders grade of diplomas aan tersiêre inrigtings behaal.
Na sy finale emeritaat het Matthys en Mien hulle gevestig in die La Provence Aftree-oord in Welgelegen, Parow. Daar het hy nog vir twee jaar as die bestuurder waargeneem. In Augustus 1994 het hy skielik moeilik begin praat. Na toetse is vasgestel dat hy ‘n gewas op die brein het. Dit is deur ‘n operasie verwyder, maar was kwaadaardig. Bestraling is gedoen, maar die resultaat was van tydelike aard. Na drie maande in die siekeboeg van La Provence, is hy op 5 Maart 1995 daar oorlede. – Ds Emil Kritzinger, verwerk en aangevul deur DJ Viljoen.