Kotze, Pieter Paul Adriaan

Gebore

03 Jun. 1925

Oorlede

31 Mrt. 1996

Universiteit

B.A., D.D (UP)

Gelegitimeer

1953

Orden

1954

Standplase

1954 Lyttelton

1956 Belfast

1960 Gravelotte (Sendingopdrag)

1961 Phalaborwa

1964 Oos-Londen-Noord

1968 Birchleigh

Emeritus

Prof Pieter Paul Adriaan “PPA” Kotze is op 31 Maart 1996 aan sy huis oorlede aan longkanker en longontsteking. Die 70 jaar wat aan hom gegun is deur die Hemelse Vader, was mooi jare met groot hoogtepunte.

Hy is op 3 Junie 1925 in die suide van Namibië as jongste seun van Willem en Chrissie Kotze gebore. Sy vader het aanvanklik uit die Swartland en Namakwaland gekom en het as diaken help bou aan die pragtige klipkerk van Nieuwoudtville, waar sy naam op die gedenkgraniet in die tuin van die kerk verskyn. As jongman was `Oom Willie’ een van genl. Delarey se veldkornette in die Rebellie. Later het hy hom in die distrik Karasburg gevestig en ‘ n groot veekudde opgebou. Met die groot droogte het hy egter alles verloor en as arm man na Kanoneiland getrek waar hy ‘n klein plasie bewerk het.

Pieter (PPA) het skape opgepas tot op ongeveer 9-jarige ouderdom voordat hy skool toe is op Upington en daar het hy op 17-jarige ouderdom (nadat hy verskeie standerds gespring het) gematrikuleer. Hy is daarna na Pretoria en begin met buite¬muurse studie vir ‘n B Comm-graad. In sy derde jaar het hy die roeping tot die bediening ontvang en skakel hy oor na BA (aanvanklik ook buitemuurs); Aan die einde van 1953 is hy gelegitimeer.

Gedurende sy studiejare het hy by Frans en Muriel van der Merwe geloseer en op 29 Augustus 1953 is hy met hulle jongste dogter, Yvonne, getroud. Vyf kinders is uit die huwelik gebore: Annelise, Adriaan, Francois, Pieter-Paul en Johan. Twee van hierdie kinders, die enigste dogter, Annelise, en die naamgenoot-seun, Pieter-Paul Adriaan, het later in twee afsonderlike motorongelukke in Augustus 1976 en Mei 1988 verongeluk. Ten tye van sy afsterwe was daar reeds twee kleinkinders.

Hy was ‘n baie skrander student en dit was sy ideaal om sy doktorale studie in die vak Nuwe Testament aan te pak. Teen hierdie agtergrond het die kerkraad van Birchleigh, uit eie inisiatief, aan hom ses maande ten volle betaalde studieverlof aangebied. Hy het sy studies onder prof EP Groenewald begin en later voortgesit onder prof AB du Toit. Tydens hierdie studieverlof is hy na die Teologiese Skool op Turfloop as professor in Nuwe Testament beroep. Later het hy na die Universiteit van die Noorde gegaan en het hy uiteindelik dekaan van daardie Teologiese Fakulteit geword het. Sy proefskrif vir sy DD wat intussen voltooi is, het gehandel oor hoe die Johannes-evangelie die verbondsbegrip teen ‘n Ou-Testamentiese agtergrond hanteer. In 1980 is hy as professor in Bybelkunde na die Universiteit van Pretoria beroep en hy het hierdie pos beklee totdat hy in 1991 afgetree het.

PPA het op teologies-wetenskaplike vlak besondere werk gelewer. Hy het sy lewe lank bly studeer en het gedurig nuwe rigtings van ondersoek onderneem saam met ander lede van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap. Hy het ook die buiteland besoek en onder andere seminare in die Verenigde Koninkryk en die VSA gelewer. Hy was van mening dat die hele Nuwe-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika op ‘n baie hoë vlak bedryf word en dat dit in meer as een opsig voor ander lande is. Hy was trots om deel van hierdie saak te kon wees – veral in die eksegetiese veld van struktuur-analise en later die resepsie-teorie. As deel van ‘ n reeks Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentiese kommentare wat op hierdie metode gebaseer is, het hy die Jakobus-gedeelte geskryf. Dit kan beskou word as een van die hoogtepunte van sy loopbaan. Talle ander teologiese artikels, boekies en Bybelstudies het ook uit sy pen verskyn.

Op gemeentevlak het Pieter, soos sy vader, baie `bouwerk’ gedoen. Hy het eiehandig die pastorie op Meetsi-A-Bophelo en die kerk en pastorie op Phalaborwa gebou. Dit het beteken dat hy in die nagte onder gaslamplig fondasies moes gooi, leiklip moes gaan uitkap op die vlaktes, messel, elektriese kabels insit, verf en selfs die hoeksteen lê en onthul.

Hy was ‘n baie veelsydige mens. Onder sy stokperdjies tel die restourasie van klassieke motors, die opbou van motorenjins, vervaardiging van leer-artikels, meubels maak, houtdraaiwerk, houtsneewerk, maak van matte, droog van blomme en versameling van half-edelgesteentes en ou muntstukke.

Ook op kulturele vlak het hy ‘n besondere bydrae gelewer. Met die taalstryd in die jare sestig in Oos-Londen het hy ‘n toneelgeselskap op die been help bring en as verhoogakteur presteer met stukke soos `Die rooi lêer’ en `Die jaar van die vuuros’.

Op verrassende wyse het hy ook op middeljarige leeftyd die rekenaar bemeester en op die voorpunt van al die nuwe programme gebly. Hy het selfs nuwe programme geskryf. Al sy latere publikasies het hy self op sy rekenaar gereed gemaak.

As mens was PPA stil en nederig. Hy het die gawe van wysheid ontvang en kon met diep insig, rigting aanwys. Baie van sy vriende en studente praat met groot lof van die besondere indruk wat hy op hulle lewens gemaak het.

Ons dank die Here vir die lewe van ‘n man soos Pieter Kotze en weet dat sy heengaan groot leemtes gelaat het, veral by sy eggenote, kinders en groot vriendekring. – sy seun, ds Adriaan Kotze, effens verwerk deur Dirk Viljoen.