Kotze, Jacobus Cornelius Gideon

Ds. Kotze Jacobus

Gebore

8 Aug. 1901

Oorlede

29 Okt. 1979

Universiteit

BA (US); D.D (Princeton)

Gelegitimeer

1928

Orden

1929

Standplase

1929 Stanford 

1933 Charl Cilliers

1936 Roodepoort

1937 Spesiale Evang. Pred. Tvl.

1944 Pretoria

1950 Sekretaris vir Evangelisasie (N.G. Kerk, K.P.)

1954 Woodstock

1956 Prof. Teol. Sem. Stellenbosch

Emeritus

1969

Prof Dr Jacobus Cornelis Gideon (Kolie) Kotze, voormalige hoogleraar aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, alombekende en gevierde prediker en seker een van die merkwaardigste manne wat ons kerk in hierdie eeu opgelewer het, is na ‘n ernstige siekbed in die hospitaal op Somerset-Wes oorlede. Hy was uit Nieuwoudtville in Noordwes-Kaapland afkomstig en het die laaste paar jaar van sy lewe in die Strand gewoon waar hy ‘n tyd lank hartmoeilikheid ondervind het. Met sy geboorte – dit was in die Anglo-Boereoorlog tyd was sy moeder uiters siek en vir die lewe van die seuntjie was daar weinig hoop. Toe sy vader in die tronk op Calvinia, waar hy weens die oorlogsomstandighede verkeer het, hierdie tyding kry, kniel hy daar neer om die gelofte te maak dat hy, as die Here hierdie eersgeborene van hom en sy eggenote tot die evangeliebediening sou roep, alles in sy vermoë sou doen om dit vir hom moontlik te maak om hom daarvoor te laat bekwaam. Opvallend was dit dat hy jare daarna heel onverwags juis op Calvinia vir die eerste keer op die preekstoel sou gaan. Ook weens die beperkte onderwysgeriewe in die Noordweste van die dae word die seun byna 14 jaar oud voordat hy kan begin skoolgaan, maar toe reeds leef daar in sy hart die oortuiging dat die Here hom na die kansel roep, Hy vorder fluks en in weerwil van die erg moeilike omstandighede doen sy vader sy gelofte gestand deur sy enigste kind na die Jongenshoërskool op Stellenbosch te stuur. Nadat hy in die kandidaats- sowel as proponentseksamen met die hoogste lof geslaag het, begin hy 7.12.1928 sewe dae na sy legitimasie – onder die bekwame leiding van wyle ds D J Viljoen met hulpdiens in die gemeente Bredasdorp. Hiervandaan aanvaar hy ‘n beroep na Stanford, waar hy 25.5.1929 georden en bevestig word. Gedurende die vroeë dertigerjare is daar in ons land ‘n “atmosfeer van geestelike verwagting” en so breek, nadat hy self einde Junie 1930 ‘n heel besondere en onvergeetlike ontmoeting met God gehad het, die kragtige geestelike herlewing in sy gemeente uit wat in sy eie woorde “elke dag en stukkie van my bediening verderaan ingrypend bepaal en beinvloed”. Uit hierdie ondervinding spruit ook later die verskyning van Terug na Pinkster uit sy pen. Hy noem dit “my eerste naiewe poging om ‘n boekie te skrywe”, maar binne ‘n jaar is die hele oplaag van 2 000 daarvan uitverkoop. In 1933 vertrek hy na Charl Cilliers in Transvaal en drie jaar later na Roodepoort, waar hy bly totdat hy einde Julie 1937 spesiale evangelieprediker van die Transvaalse kerk word, toe hy nog student was, het iemand hom al “die onstuimige dienskneg van die Here” genoem en hier trek hy nou met sy vurige prediking, sy salwing met die heilige Gees, sy onverskrokke oorspronklikheid en sy skitterende beelde uit die alledaagse lewe groot skares, terwyl hy ook langs die weg, sowel as deur sy persoonlike gesprekke en met sy diepe aanvoeling vir die menslike nood, vir talle mense die weg tot ‘n lewende geloof in Christus wys. Origens word hy tydens die simboliese Ossewatrek van 1938 die vader van die Geestelike Eeufeesmonument (GEM); wat vandag nog sy geseënde werk in Zoeloeland voortsit. Van 1944 tot 1950 bedien hy die gemeente Pretoria en ook daar in die middestad – Burgerspark was voor afstigting sy besondere verantwoordelikheid – oefen hy ‘n geweldige invloed ten goede uit. Nadat hy reeds onder die leiding van wyle prof G M Pellissier aan die Universiteit van Pretoria in die rigting gestudeer het, word sy droom van 18 jaar werklikheid toe hy vir verdere studie in die Dogmatiek, die Filosofie en die Sielkunde na Princeton, VSA, gaan, waar hy na drie jaar (1946-1948) sy doktorsgraad met die proefskrif The Divine Charge to the Christian in the Church met lof verwerf. Meer as ooit werk hy nou in die oortuiging dat die weg tot kerkherstel veral in die aktivering van die gelowige gesoek moet word en met verloop van tyd verskyn daar verskeie boeke oor die onderwerp – uit sy pen. As Sekretaris vir Evangelisasie in Kaapland 1950-1954 pas hy die gedagtes – met nog groter nadruk op die skolings- en vormingskarakter van die kerklike diensverder in die praktyk toe, onder andere deur die hou van streekkursusse om veral kerkrade evangelisasiebewus te maak en hulle aangaande die groot saak voor te lig. Na twee jaar van geseënde diens in die gemeente Woodstock by Kaapstad, word hy 1956 hoogleraar aan die Kweekskool, waar hy gedurende 14 jaar deur sy besielde voordragte en met sy dinamiese persoonlikheid en sy borrelende geesdrif ‘n onuitwisbare indruk maak op die meer as 600 studente wat in die tyd deur die inrigting gaan. Einde 1969 tree hy af, maar toe doen hy nog ‘n paar jaar lank met onversaagde ywer evangelisasie spreekkamerwerk in Kimberley waar hy ook vir die skoling van kerkraadslede en ander gelowiges verantwoordelik is en jaarliks ‘n predikantekursus reël, aan die Wes-Rand. In die laaste paar jaar van sy vol en ryke lewe word hy die vader van Transwêreldradio (TWR) in Suider-Afrika en byna tot sy dood behartig hy die onderneming se program, “Stuur u Lig.” Verskillende sinodes wat ten tyde van sy heengaan in sitting was, het op gepaste wyse hulde aan hom gebring as ‘n man wat die kerk van Christus en by name die Ned Geref Kerk met onvermoeide ywer en met die verskeidenheid van die besondere gawes waarmee hy begunstig was, gedien het. Die besluit van die Kaapse Sinode lui onder meer: “As vriendelike en geharde seun van die Noordweste, as besielende hoogleraar, as nederige gelowige, as vaardige skrywer, as oorspronklike en boeiende prediker het hy langer as ‘n halwe eeu van sy stempel afgedruk op sy kerk, sy volk en sy tyd. Met sy besondere kennis van die Skrifte en die menslike nood, het hy deur die genade van God vir duisende vensters na die ewigheid oopgemaak. As prediker kan sy naam geplaas word onder die name van die prinse van die predikers van ons tyd”. Treffend is daar later van hom gesê dat hy uit sy passie vir siele en deur die Heilige Gees gedryf, “net Jesus Christus gelewe en verkondig het en dat hy “‘n sonderlinge liefdebode van die reddende genade van God” was. (Jaarboek 1981/255)