GEBORE
5 Mei 1936
OORLEDE
20 Julie 2022
UNIVERSITEIT
BA, MA, BD, DD (Unisa, UOVS, UP)
gelegitimeer
1962
ORDEN
1963
standplase
1963 Lyttelton
1966 Sesmylspruit
1966 Snr Lektor
1975 Prof in Sistematiese Teol Unisa
EMERITEER
1996
- PROF ADRIO KÖNIG (BA, MA, BD, DD) 5 Mei 1936 — 20 Julie 2022
Adrio König is op 5 Mei 1936 gebore in die distrik Vereeniging. Sy vader is Ferdinand. Genis König, ‘n onderwyser, en sy moeder is Catharina Cornelia Mouton, ‘n huisvrou met ‘n oop hand wat haar gesin met liefde versorg. Adrio begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Lydenburg en in 1953 matrikuleer hy in die .Eerste klas aan die Hoërskool Lydenburg met ‘n onder skeiding in geskiedenis. Adrio is reeds in die tyd ‘n bekende seëlversamelaar. Op skool blink hy uit in tennis en is ‘n bekende langafstandatleet. Na skool vertrek hy in 1954 na die Bybelskool van die Nuwe Protestantse Kerk buite Bloemfontein op die pad na Brandfort, waar hy twee jaar lank in die teologie studeer. Die “De Vos-kerk” is op 21 April 1944 gestig toe ds. DJJ de Vos en 44 kerkraadslede die NG Gemeente Durban verlaat weens die geestelike doodsheid in die NG Kerk, waarna ‘n onverkwiklike kerkstryd onder die groep ontwikkel wat diep letsels laat. So word die Nuwe Protestantse Kerk gebore, wat in 1986 die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika word.
In 1954 skryf Adrio terselfdertyd in vir die BA-graad by Unisa, wat hy later in 1957 aan die UOVS verwerf. In 1957 en 1958 werk hy deeltyds vir die staatsdiens. Sy pad loop in 1958 na die Universiteit van Pretoria, waar hy die MA-graad in Filosofie behaal. Sedert 1959 is hy ‘n ernstige diabeet, wat hom soms kniehalter maar wat hy ‘n leeftyd lank hanteerbaar beheer. In 1959 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan TUKS, waar hy in 1961 die BD-graad verwerf en ook die ontvanger van die Webb-beurs is. Adrio trou op 14 Januarie 1961 met Hermina Aletta Catharina Scholtz, ‘n lewensmaat wat hom met liefde bystaan al die jare. Aan die einde van 1962 word hy as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy lewer sy proefpreek in die NG Bosmanstraat se kerkgebou oor die “Sesde Bede” met Lukas 22: 31-34 as teksvers en die Heidelbergse Kategismus Sondag 52. Professore EP Groenewald en HDA du Toit en paranimfe Phillip Venter en Marthinus Prinsloo is betrokke.
Op 16 Februarie 1963 word prop Adrio König met handoplegging in die NG Gemeente Lyttelton ontvang en bevestig. Ds. DA Louw doen die ordening en die bevestigingsrede word gelewer deur ds. WJM Janson van die gemeente Lynnwood. Na drie jaar met die afstigting van die NG Gemeente Sesmylspruit in 1966 word hy as eerste leraar bevestig, maar verlaat op 17 Oktober 1966 die gemeente en die amptelike gemeentebediening toe hy senior lektor word in die Departement Dogmatiek, Etiek en Praktiese Teologie aan Unisa en op 1 Mei 1975 word hy bevorder tot professor. In sy tandesnytyd by die akademiese wêreld, ontvang hy verskeie studiebeurse van die RGN na bekende Europese universiteite, waar hy met sy vlymskerp brein en gawe om die teologie volledig te omarm, iemand was met wie in alle teologiese seisoene rekening gehou moes word.
Prof Adrio het van die begin afhard gewerk in sy vakgebied by Unisa en gesorg dat dit ‘n oop ekumeniese departement moet wees. Hy doktoreer in 1969 in Dogmatiek aan TUKS onder leiding van prof AB du Preez, met die proefskrif: “Jesus Christus die Eschatos”.
Hy was ook in 1972 ‘n stigterslid van die Dogmatologiese Werkgemeenskap, ‘n staatmaker en grondlegger. Hy het uitgeblink as begaafde skrywer of redakteur oor aktuele teologiese temas en het gewone lidmate se belangstelling vasgevang deur ingewikkelde sake van die dag duidelik en helder in verstaanbare Afrikaans te verwoord.
Dr Gustav Claassen skryf: “Prof Adrio König het ‘n besondere gawe gehad om soms moeilike, abstrakte en teologiese begrippe vir gewone lidmate toeganklik te maak. Hy het ‘n hart gehad vir moeilike vrae in lidmate se lewe en het dit op ‘n baie verruimende wyse vir mense verstaanbaar gemaak. Hy het ook met sy vinger op die pols van gewone lidmate geleef. Prof Adrio was ‘n goeie en sterk prediker en sy dagboek vir preekbeurte was dikwels ver vooruit bespreek. Hy is bestempel as ‘n man wat ‘n manier gehad het om dinge te doen en te sê.” ‘n Jarelange vriend Jan Opperman beskryf hom as ‘n briljante akademikus: “Hy was deurentyd besig met die skryf van boeke en het in die akademiese milieu gefloreer.”
Prof Adrio was ‘n stigterslid van Reforum, ‘n inisieerder in 1982 van die “Ope Brief aan die NG Kerk, waarin ernstige kritiek teen die destydse beleid van apartheid in kerk en staat uitgespreek is. As bekende anti-apartheids-teoloog was sy teenkanting van apartheid altyd godsdienstig gemotiveerd en nie polities nie. In sy jong dae is hy deur die NG Kerk as teologies-liberaal beskou, maar in die resente tyd is hy weer gebrandmerk as konserwatief wat teologiese sake van die dag betref, Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur by Kerkbode, skryf: “Prof König was teoloog wat hom deur niemand in ‘n betrokke kamp wou laat jaag nie en ‘n uiters gedugte teologiese redenaar —of ‘n mens met sy teologie saamgestel het of nie.”
Met die heengaan van prof Adrio K45nig (86) op Woensdag 20 Julie 2022 in Centurion, verloor die kerklike gemeenskap in Suid-Afrika ‘n voetsool vlak teoloog en ‘n briljante denker met ‘n passievolle liefde vir die Here se Woord. Hy het oor die vermoë beskik om in gewone omgangstaal die diepe geheimenisse van die Bybel te verwoord en verstaanbaar oop te breek vir gewone mense. Terselfdertyd is hy ‘n briljante teoloog van wêreld gehalte, wat ‘n leeftyd lank in die akademiese omgewing sy merk kon maak. Hy het die buitengewone gawe besit om met integriteit en buitengewone teologiese insig sy man te kon staan teen teoloë en Bybelse wetenskaplikes oor die aardbol heen.
Prof Adrio König was ‘n meelewende lidmaat van die NG Kerk en ‘n staat-maker in die gemeente Kerksondermure in Centurion, waar hy intens betrokke was by die Bybelskool en bekendheid verwerf het oor sy doop gesprekke wat ‘n ongelooflike verrykende ervaring was vir ouerpare. Met sy heengaan op 20 Julie 2022 word prof Adrio gehuldig as nuutdenkend, ‘n voorloper en ‘n man met visie. Sy grootste belangstelling is die Bybel self en hy het Bybellees as sy lewenstaak beskou. Hy het die Bybel ook deur ander mense se bril gelees wat die Woord anders verstaan het as hyself en dit het sy oë oopgemaak v din.ge wat hy nooit self besef het Hy was 40 jaar lank betrokke by Universiteit en het dit as ‘n voorreg beskou om teoloë van ander kerke saam te werk, wat die ruimheid geskep het vir ander se oortuigings.
Dr André van Niekerk skryf: “Hy het alles met ywer en genoegdoening gedoen. Tot byna aan die einde het hy sy perskebome, die heerlikste vrugdraers in Centurion, versorg. Ons sal hom graag as ‘n geskenk van die Here aan die kerk in Suid-Afrika onthou.” Hy word oorleef deur sy vrou Hennien, drie kinders Mari, Carina en Friedrich, en vyf kleinkinders, Guillaume, Helet, Wiets, Ilani en Joy. ‘n Gedenkdiens is op Maandag 25 Julie 2022 om 11:00 by Kerksondermure in Centurion gehou. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 376)