Kocks, Jacobus Frans

Ds. Kocks Jacobus

GEBORE

20 Des. 1918

OORLEDE

29 Jun. 2011

UNIVERSITEIT

US; UP

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

standplase

1953 Bezuidenhoutsvallei

1961 Livingstone

1966 Vereeniging-Suid

EMIRTUS

1985

Ds Frans Kocks (BA, MA) 20 Desember 1918 – 29 Junie 2011

Jacobus Frans Kocks is op 20 Desember 1918 op Cradock gebore. Sy skool loopbaan begin ook daar. Later word hy ‘n leerling aan die Hoër Jongenskool op Stellenbosch, waar hy matrikuleer. Frans voel geroepe om die Here as onderwyser te dien en bekwaam hom hiervoor aan die Universiteit Stellenbosch. Onder leiding van prof Willem Kempen behaal hy ‘n MA in Afrikaans-Nederlands, cum laude. Hierna loop sy pad na die destydse Rhodesië, waar die jong Frans ‘n Afrikaans-onderwyser op Gwelo en Bulawayo word. Die Here beskik dat Frans in ds Charles Murray se dienstyd die roeping ontvang om predikant te word. Hy bedank in 1949 as onderwyser en keer na Stellenbosch terug om predikant te word. Hy voltooi sy proponentsjaar aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit Pretoria; van sy klasmaats word later bekende rolspelers in die NG Kerk. Dit was ‘n formidabele finalejaarklas, glo een van die bestes wat ooit aan Tukkies afgestudeer het. Onder die groep ontluikende teoloë was latere bekendes soos Willie Jonker, Murray Janson, Nico Smith, Jan van Rooyen, Johan Heyns, Gert Erasmus, Carel Boshoff en Karel Struwig.

Aan die einde van 1952 word Frans gelegitimeer en in 1953 met handoplegging in die NG Gemeente Bezuidenhoutsvallei in Johannesburg bevestig. In 1961 loop sy pad na die NG Gemeente Livingstone (Zambië); waar hy in ‘n moeilike tyd die Woord van die Here aan mense in nood bring. Die onafhanklikheidswording van die Afrikastate vra vir ‘n versigtige benadering en Frans se diplomasie en die korrekte optrede is opbouend – en word siele vir die koninkryk gewen. In 1966 loop sy bedieningspad terug na die Republiek van Suid-Afrika, wanneer hy leraar word by die NG Gemeente Vereeniging-Suid. Sy dienstyd word gekenmerk deur sy onvermoeide ywer dat lidmate geloofsekerheid moet kry. Hy was altyd konsekwent in die uitlewing van sy geloofsroeping en het geglo dat die gereelde aanhoor van die gepredikte Woord onontbeerlik is. Almal het altyd geweet waar hulle met hom staan en hy het met waardigheid, eerlikheid en billikheid opgetree. Sy vrou, Denise, skryf: “Sy eerlike ingesteldheid het meegebring dat hy besonderuitgesproke was. Dit het ingesluit dat hy voortdurend gewaarsku het teen moontlike politieke verbintenisse en die ondeug van die apartheidsfilosofie. Hy was veral gekant teen die Groepsgebiedewet met sy verderflike verskuiwings, asook die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike. Die sogenaamde Cottesloe-kerkeberaad was vir hom ‘n waterskeiding. Hy was ontsteld oor die voelbare benvloeding na regs en die verbete weiering van die NG Kerk om sy aandeel in rassediskriminasie te erken. Hy het drie keer sy teenstem laat aanteken, wanneer hy skerp met van die besluite verskil het. Hy het egter nie kans gesien vir die totale oorheersing van een kultuur deur ‘n radikaal vreemde kultuur nie. Eintlik het hy, in soveel woorde, voorspel presies wat Suid-Afrika nou beleef. Daarom het hy selfs vanaf die kansel gepleit dat Abraham en Lot se oplossing sou geld: Een groep bepaal die grensafbakening, terwyl die ander groep die keuse maak.” In ooreenstemming met sy wese was hy konsekwent streng: Hy het nooit sy gereformeerde beginsels eenkant toe geskuif nie. Almal het geweet presies hoe hy sou reageer. Selfs mense wat destyds hieroor aanstoot geneem het, onthou hom vandag met waardering – juis as gevolg van sy eerlikheid, billikheid en eenvoudige lewenstyl. Ds Frans Kocks het sy werk in Vereeniging met ‘n fiets gedoen en altyd almal langs die pad gegroet. Hy was lief vir die gereformeerde kerklied, vir klassieke musiek en romantiese sang – soos diê van Frank Sinatra. Frans het drie voorliefdes gehad: sy vrou, kinders en kleinkinders, die handhawing van die waarheid en taalsuiwerheid. Hy het in 1950 met Denise Ferreira getrou en uit hulle huwelik is drie talentvolle kinders gebore. Die oudste seun, Charl, is ‘n deskundige in belastingreg; Herman is ‘n prokureur; en hulle dogter, Elda, is ‘n medeprofessor in Onderwysreg. Denise skryf: “Voor ds Frans Kocks se dood het sy seun, Charl, ‘n `Kocks-Stigting’ aan die Universiteit Stellenbosch geinisieer – met ‘n studiebeurs vir ‘n kandidaat wat hom/haar beywer vir die gebruik van suiwer Afrikaans en die uitlewing van: `Gee my ‘n man wat sê wat waar is as die duiwel daar is, wat doen wat reg is as die regter weg is, wat trou by sy gewete bly, al sou hy straf pleks van beloning kry.’ (Langenhoven); So lewe die nalatenskap van Kobus (Frans) Kocks tot eer van God voort!” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM