Kleynhans, Evert Philippus Jacobus

 

GEBORE

18 Feb. 1924

OORLEDE

16 Mei 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

standplase

1949 Kensington, P.E.

1953 Brandfort-Oos

1959 Hartbeestfontein

1964 Stellenbosch

EMERITEER

Prof Evert Philippus Jacobus Kleynhans (BA, MTh, PhD, D.Th.) 18/02/1924 – 16/05/1998

Met die dood van prof Evert Kleynhans op 16 Mei 1998 in Bloemfontein het die NG Kerk een van sy stoere kerkleiers verloor. Hy was iemand wat daagliks inhoud en gestalte gegee het aan begrippe soos nederigheid, opregtheid, hoflikheid, beskeidenheid, onkreukbaarheid en, bo alles, Geesvervulde Christenskap. Prof Kleynhans het as predikant, prediker, pastoor, professor en skrywer waardigheid aan sy lewensroeping verleen as ‘n Godsman op die kansel en agter die kateder. Hy was ‘n warm en gemoedelike mens, netjies en korrek, afgerond en sistematies. In hom het ‘n patriotiese boerehart geklop en was hy ‘n volksman. Hy het ‘n fyn humorsin gehad en met spitsvondigheid kleur aan gesprekke en voordragte verleen. Daarby het hy sy hele lewe deur verknog gebly aan sy studeertafel. By hom was vroomheid ‘n opregte en deurleefde gemeenskap met die Here Jesus.

Evert Kleynhans is op 18 Februarie 1924 op die plaas Moedersdeel in die distrik Ventersburg gebore. Sy eerste skoolj are was hy in twee plaasskole, Twyfelaar en Kalkfontein. Sy vader was ‘n boer en jare lange kerkraadslid, wat sy liefde vir sy kerk aan sy seun oorgedra het. Vanaf 1938 was Evert leerling aan die Hoërskool Ventersburg. Dit was die jaar van ontwaking op kulturele en godsdiensti¬ge gebied, onder andere deur die historiese Ossewatrek. Die jong Evert is sterk hierdeur be’invloed en het onder andere die Taalbond-eksamen met lof afgelê.

Vroeg in 1939 het hy ‘n duidelike roeping ontvang om evangeliedienaar te word. In sy matriekjaar was hy hoofseun, slaag in die eersteklas en verwerf die Victor Ludorum-toekenning van sy skool. Geen wonder dat hierdie skool later aan hom ‘n oorkonde oorhandig het nie.

As student aan die UOVS in Bloemfontein het hy ook as sportman uitgeblink. Hy het ook in die Studenteraad gedien. Hy het hom vir vier jaar aan die UOVS in sy studies en toerusting vir die bediening verdiep. Daarna het hy na die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gegaan waar hy sy Kandidaatseksamen in 1947 met lof afgelê het en aan die einde van 1948 gelegitimeer is. In Matieland het hy die kitaar en banjo in Oom Pietie le Roux se boereorkes gespeel het sodoende deur die land gereis. Hy was ook stizterslid van die Kweekskoolkoor onder leiding van prof Gawie Cilliê. Vir sy MTh-graad was die tema van sy verhandeling: `Darwinisme in engere sin – ‘n kritiese benadering van die biologiese en paleotologiese steun daarvoor aangevoer.’ Hieruit het sy waag¬moed en lojaliteit aan die kerkleer reeds geblyk.

Op 26 Maart 1949 is hy as leraar van die NG Gemeente Kensington in Port Elizabeth bevestig. Dieselfde aand het hy verloof geraak aan mej Elsa Carstens, onderwyseres van die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch. Kensington was ‘n bedrywige en veeleisende gemeente waar hy vrugbaar gewerk het en waar die jong prop Mias de Klerk as medelaraar by hom aangesluit het. S o het ‘n jare lange kameraadskap, wat later aan die Teologiese Fakulteit van die UOVS voortgesit is, ontstaan. Op 8 Augustus1953 het hy leraar van die pasgestigte NG Gemeente Brandfort-Oos geword. Hy het ook verder studeer en die BA- (Hons) en MA-grade verwerf – albei met lof. Die onderwerp van sy MA-verhandeling was: `Historiessosiologiese ondersoek van die kategese in die NG Kerk in die Oranje Vrystaat, gebaseer op sinodale en ringsbesluite.’

Hy het ses jaar in Brandfort-Oos gewerk en is daarna op 12 September 1959 in Hartbeesfontein in die Wes-Transvaal bevestig. In daardie stadium was sy proefskrif vir sy doktorsgraad in Sosiologie reeds ver gevorder en hy verwerf dit in 1961 met die titel: `Die huweliksvrugbaarheid van die blanke Suid-Afrikaner: ‘n prinsipiële histories-sosiologiese studie.’

Op 26 April. 1964 het hy leraar van die Moedergemeente op Stellenbosch geword waar hy ‘n vrugbare bediening gehad het deur getroue en sistematiese huisbesoek. In hierdie tyd is hy ook beroep as redakteur van Die Kerkbode, maar hy wys dit van die hand weens sy liefde vir die gemeentebediening. Hierna begin sy studie in die Kerkgeskiedenis en behaal hy ‘n tweede doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Die tema van die proefskrif was: `Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid Afrika 1795-1962. ‘

Sy volgende gemeente was die historiese Tweetoringkerk in Bloemfontein. Hier het hy vanaf 29 November 1969 met oorgawe gewerk terwyl hy terselfdertyd dosent aan die Bloemfonteinse Opleidingskollege was. Op 28 November 1976 het hy na die NG Gemeente Universitas gegaan. Diê gemeente het destyds uit 4 000 lidmate, insluitende 3 000 studente van die UOVS, bestaan. Hy het hom ook as kerkleier onderskei en het agtereenvolgens as assistent-skriba, aktuarius, moderator en assessor van die Vrystaatse Sinode gedien. Tydens die sitting van die Algemene Sinode te Bloemfontein in 1978 is hy tot moderator verkies. Hy het gevolglik in 1979 kerklike afvaardigings na Switserland, Duitsland en Nederland gelei en die sitting van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode te Nimes in Frankryk in 1980 bygewoon. Hy het ook voorsiter van die Hoofbestuur van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys geword.

Op 17 Augustus 1980 het ‘n nuwe hoofstuk in die lewe van Evert Kleynhans begin toe hy beroep is as een van die eerste ses professore aan die nuutgestigte Teologiese Falculteit aan die UOVS. Saam met prof Mias de Klerk, as die twee ringkoppe met ervaring en wysheid, verleen hulle ‘n eiesoortigheid aan die nuwe fakulteit en anker dit in die kleurvolle Gereformeerde tradisie. As eerste hoogleraar in die Ekklesiologie en meester in sy vakgebied, het hy die ideale klimaat vir verdere studie deur baie leraars geskep. Hy het uitgeblink as skrywer van talle aktuele artikels in kerklike- en ander tydskrifte, terwyl vyf preekbundels ‘ n wye leserskring gevind en verskeie herdrukke beleef het. As promotor het hy wye perspektiewe van die geheimenisse van die geskiedskrywing aan sy doktorale studente geopen. Hy het hoë wetenskaplike eise, intellektueel sowel as geestelik, hierin gestel. Hy het drie gedenkboeke oor gemeentes geskryf en sterf slegs weke na die voltooiing van ‘n manuskrip oor die NG Gemeente Christiana.

Benewens sy deeglik-voorbereide lesings in die Kerkreg, wat ook deel van sy opdrag was, het ‘n vierdelige standaardwerk van hom oor die Kerkreg verskyn. Dit het ook erkenning in die buiteland gevind. Gedurende sy tyd as professor, oorleef hy ‘n tweede ernstige hartaanval, maar herstel wonderbaarlik en emeriteer eers in Maart 1989. Sy gesondheid was goed tot in 1996, toe hy ‘n beroerteaanval gekry het. Hy het ook hiervan herstel en voortgegaan met sy arbeid. Die middag voor sy dood het hy nog pasiënte in die hospitaal besoek.

Hy het nie altyd saamgestem met die koers wat die Ned Geref Kerk sedert 1986 ingeslaan het nie. Hy het sy gewig ingegooi by die Afrikaanse Gereformeerde Bond wat as platform vir gesprek gedien het. So het hy by die Algemene Sinode van 1994 die saak van beswaarde lidmate aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake gestel. Niemand kon egter twyfel aan sy onkreukbare integriteit en lojaliteit aan die saak van die Here en die Ned Geref Kerk nie. Na sy dood het daar nog ‘n bydrae in Die Kerkbode verskyn waarin hy die Belhar-Belydenis as uitvloeisel van sy standpunt wat hy sonder skroom gestel het, verwerp het.

Toe hy vroeg die oggend van 16 Mei 1998 gesterf het, het hy pas van sy gereelde wandeling teruggekeer en was sy Bybel nog oop by sy gebedstoel in sy studeerkamer. Hy was ‘n gebedsmens en voorbidder, ‘n intersessor vir sy gesin, kerk en vriendekring. Hy en Elsa was byna 50 jaar getroud. Uit die huwelik is drie seuns en drie dogters gebore. Hulle huis het oopgestaan vir studente en ge¬meentelede. Hy is op 22 Mei 1998 vanuit die NG Gemeente Langenhovenpark in Bloemfontein begrawe. Die rede is deur sy skoonseun, ds Fanie Bergh, gelewer na aanleding van Fil 1:21.

Ons groet hom as ‘n ware kameraad, mentor en geestelike vader van baie, ‘n dienskneg van die Here in wie se voetspore baie sal volg en daardeur met ‘n lied in die hart moedig sal voortbeur ten spyte van teenkantings. – dr Gerdrie van der Merwe vir wie hy drie keer as promotor opgetree het. Effens verwerk deur Dirk Viljoen.