KINDERHAWE, OBSERVATORY, JOHANNESBURG

Op Woensdagmiddag 19 Februarie 1896 het in Braamfontein, nie ver van Fordsburg nie, ‘n verskriklike ontploffing gebeur. Later is vasgestel dat treinwaens vol dinamiet, bestem vir die myne, drie dae lank in die son op die stasie gestaan het en dat dit tot die geweldige ontploffing aanleiding gegee het. ‘n Gat van by die vier verdiepings diep is in die grond uitgehol. Huise op Vrededorp, Fordsburg en oral omheen is in puin gelê en ander erg beskadig. Maria Kloppers, indertyd ‘n werkster van die Vrouesendingbond in Fordsburg en later stigter van die Kinderhawe in Observatory, was net besig in die nuwe kerk om haar voor te berei op die biduur om drie-uur toe daar ‘n geweldige skok was en “die dak sak op my toe. Ek sukkel om uit te kom. ‘n Wonder dat iemand lewendig kon uitkom! Die deure en balke onder die vloer uitgedruk. Iemand roep: ‘Mej. Kloppers, leef jy nog? Ag, kom tog hierheen!’ Verwoesting, geklaag, geween, gejammer!”

Lyke het oral rondgelê, in baie gevalle so erg vermink dat hulle heeltemal onherkenbaar was. Van die beseerdes was ook onherkenbaar, maar kon darem hulle naasbestaandes herken. In ‘n skoolgebou het ‘n ry van hoofde van kinders en grootmense gelê om geëien te word. Onder die puin was onder andere ook ‘n menigte lede van die VSB se Sondagskool begrawe. Vier en twintig uur na die ontploffing is klein Francina (twee) in ‘n holte onder die puin van hul huis gevind, waar sy met ‘n emmertjie gespeel het met die geraamte van ‘n stoof oor haar. Sy was die eerste van dertien kinders wat die VSB se sendinghuis gebring is. Hieruit is later die Kinderhawe in Observatory gebore.

Die saal van die Kinderhawe

Die Kinderhawe is in 1906 deur die Vrouesendingbond gestig. Dit word oorgeneem deur die Transvaalse Sinode in 1912 en staan onder toesig van die Ring van Johannesburg. Alleen kinders onder drie maande oud word opgeneem. Die meeste kinders word later op aanvraag aan goedgekeurde peetouers uitgegee. Die wat na sewe jaar nog in die inrigting is, word na die Langlaagte-Kindertehuls gestuur. Die inrigting is gestig in gehoorsaamheid aan en vertroue op Gods voorsienigheid, en bestaan uitsluitlik op die gifte van vriende en gemeentes. In die reel tel die huishouding omtrent 80 siele. Veel meer aansoeke om opname word egter ontvang as wat kan toegestaan word.

Bronne:

NG Kerk Jaarboek 1952

https://af.wikipedia.org/wiki/Abraham_Kriel