Kemp , Richard Cutler Heathcote

Ds. en mev. R.C.H. Kemp

GEBORE

1 Jul. 1929

OORLEDE

11 Aug. 2010

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1958

standplase

1958 Port Elizabeth-Oos

1960 Warden

1966 Bothaville

1975 Meyerhof

EMERITEER

1994

Ds Richi Kemp (BA) 1 Julie 1929 – 11 Augustus 2010

Richard Cutler Heathcote Kemp is die aand van 1 Julie 1929 net na agtuur op Klerksdorp gebore, die seun vir Richard en Lottie Kemp van Leeudoringstad in die Wes-Transvaal. In die lente van 1929 word die doop in die mooi kerkgebou van Leeudoringstad aan hom bedien. Hy was die tweede kind, maar eerste seuntjie, ‘n bevoorregte posisie vir hom – hy was bederf. Sy pa, Richard Cutler Heathcote Kemp, was ‘n besigheidsman en het ‘n handelshuis besit; sy gesin het gemaklik geleef. Hy was van Engelse afkoms en was ‘n saggeaarde, stil man wat geleef het vir sy vrou en kinders. Ma Lottie was strenger, maar het met liefde opgetree. Na Richi het nog twee dogters bygekom. Hulle was ‘n hegte gesin.

Hy begin sy skoolloopbaan op Leeudoringstad en later aan Boys’ High School in Potchefstroom. Hieroor skryf sy seun, ds Richi Kemp: “Aanvanklik was die aanpassing vir hom baie swaar en op ‘n stadium wou hy met alle geweld skool los en in die winkel gaan werk. Hier het hy hom egter in sy pa vasgeloop, wat hom goed laat verstaan het dat hy eendag kan strate vee, maar dat hy dit sou doen met ‘n matrieksertifikaat. Miskien was dit omdat hulle geweet het hoe slim die seuntjie van hulle was. Al het hy nie besonder goed op skool presteer nie, was sy IK die hoogste wat nog ooit by die skool getoets is.” Later het hy baie geheg aan die skool geraak en was hy ‘n trotse “Old Boy”. In 1946 speel hy in die eerste rugbyspan, wat daardie jaar onoorwonne is.

Oor ds Richi se roeping skryf sy seun: “Iewers tussen die klomp Engelse het hy die roeping ontvang om ‘n NG predikant te word. Na matriek word hy student aan die Universiteit Pretoria en behaal die BA wat hom toegang gee tot die profeteskool in Pretoria.” Maar daar kom ‘n groot onsekerheid oor hom of hy nog predikant moet word en hy gaan werk vir ‘n tyd in die staatsdiens. Sy seun skryf: “In die tyd het hy een van sy groot talente verder ontwikkel, naamlik sy sang. Hy het die hoofrol vertolk in verskillende operas en mense het hom aangemoedig om sang sy toekoms te maak.”

Maar die Here los nie die jong Richi nie. Die roeping kom weer sterk na vore en hy besluit om in 1954 na Stellenbosch te gaan waar hy student word aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Dit was vier wonderlike jare en hy sing in die universiteits- en kweekskool koor. In 1955 tydens ‘n toer sing hulle op Tweeling in die Noordoos-Vrystaat waar hy sy toekomstige vrou, Nellie Murray, ‘n plaasmeisie van die distrik, ontmoet. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Ronelle (23 Mei 1960); Charline (6 Augustus1963); Richard Cutler Heathcote Kemp (3 Maart 1968).

Aan die einde van 1957 word hy as proponent gelegitimeer en hy ontvang ‘n beroep na die NG gemeente Port Elizabeth-Oos. Hy trou op 2 Maart 1958 en word op 24 Maart 1958 met handoplegging ontvang en bevestig. Aan die plegtige ordening neem die volgende leraars deel: ds Wessel Oosthuizen, ds JH Siebert, ds JA Jacobs, ds JWW Greeff, ds W Oosthuizen, en ds HJ Heymans. Na sy eerste ervaring van leraar wees in die Baai aanvaar hy ‘n beroep na die NG Gemeente Warden. Hier word hy op 2 Julie 1963 bevestig as medeleraar van ds JJ de Necker in een van die grootste kerkgeboue in die Vrystaat en in die land.

In sy kort dienstyd op Warden bedank hy tien beroepe na gemeentes. Hy neem die elfde een na die NG Moedergemeente Bothaville aan en word op 23 Julie 1966 daar bevestig. Ds Richi Kemp skryf: “Die ou stof dorpie het diep in sy hart in gekruip en hy sou uiteindelik ongeveer 42 jaar lank daar bly.” Hy word op 14 September 1975 die eerste leraar met die afstigting van die NG Gemeente Meyerhof op Bothaville. Hier werk hy totdat hy op 24 ApriL. 1994 sy emeritaat aanvaar.

Een van die wonderlikste dinge in sy lewe was die dag toe sy seun en naamgenoot, Richard Cutler Heathcote Kemp, as proponent van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat gelegitimeer is. Dit word versterk toe sy seun in sy voetspore volg en op 28 Januarie 1995 met handoplegging as predikant van die NG Gemeente Bothaville bevestig word. In 2008 verhuis ds en mev. RCH Kemp na Harrismith waar hulle seun Richi predikant is en hulle dogter Charline woon en hulle hulle vyf kleinkinders kan geniet. Hier sterf hy op 11 Augustus2010 en word op Harrismith begrawe.

Ds Richi Kemp skryf oor sy pa se bediening: “Hy was ‘n wonderlike predikant wat die gemeentes met sy gawes gedien het. Hy het pragtig gepreek en baie van sy kinderdienste kan mense tot vandag toe nog onthou. Hy was opreg lief vir mense en hy was ‘n wonderlike luisteraar wat tyd gemaak het om na mense te luister. Wat van hom as mens uitgestaan het was sy blymoedigheid. In ‘n tyd toe die kerk nog baie styf was, het sy lewenstyl gewys dat dit lekker is om die Here te dien.

“Sy geliefde Bybelboek was Filippense. Daar word 16 keer in die brief oor blydskap gepraat. Ons sal hom onthou as ‘n oop en eerlike mens, iemand sonder skadukolle of geraamtes. Op sy eerlike opregte, vrolike, Noordwes-Vrystaatse manier, het hy die heiligheid van die Here weerspieël.” Dr Gerdrie van der Merwe.