gebore
1 Januarie 1922
oorlede
30 Maart 2002
universiteit
Pretoria
gelegitimeer
1949
orden
1950
standplase
1950 Paulpietersburg
1954 Uit die bediening
1978 Piet Retief
1982 Kampersrus
emeriteer
30 April 1989
Ds. Julius James Rudolp Katzke se lewensberig het in die APK se Kerkjaarboek van 2002 verskyn. Die skrywer was dr. C.I. van Heerden.
“Julius is in Ermelo gebore – so op die nuwe jaar! ln Ermelo het hy ook gematrikuleer. Hy het sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria voltooi en is in 1949 gelegitimeer. ln 1949 is hy te Utrecht met Dina Uys getroud. Uit die huwelik is sewe kinders gebore. Dit was ‘n mooi Christelike en voorbeeldige en gelukkige gesin. Hy en Dina het vir meer as ‘n halfeeu gelukkig saamgeleef en mekaar enduit ondersteun. Ons eer hulle daarvoor!
“Julius het die volgende gemeentes bedien in die Ned. Geref. Kerk: Paul Pietersburg – 1950 Piet Retief – 1978 Kampersrus – 1982 ln 1995 het hy sy status by die AP Kerk gekry en die gemeente Hoedspruit bedien tot twee weke voor sy afsterwe.
“Julius was `n man met onweerstaanbare hartstog. Alles wat hy gesien, gehoor en beleef het, het hom ter harte gegaan. Hy was ‘n man met ‘n groot pastor-hart. Hy het vir almal alles geword. Hy kon deel in ander se hartseer en was delend in ander se vreugde. Hy kon die waarheid wat hom aangegryp het altyd aangee en daarmee beslag lê op ander se lewens. Ons sal hom altyd onthou as iemand met ‘n fyn sin vir humor en `n warm belangstelling in elkeen wat sy pad gekruis het.
“Ons geliefde vriend, geloofsgenoot, volksgenoot is nie meer met ons nie, maar daar is tog baie sigbare bouwerk wat sy arbeid in gedagtenis sal hou. Die jare in Hoedspruit was gelukkige en geseënde jare. Hy was ‘n getroue dienskneg van die Here – en behalwe vir sy dierbares was hy vir baie gelowiges ‘n minsame mens en predikant. Ons prys die Here vir wat Hy met en deur sy nederige dienskneg vir Kerk en Koninkryk gedoen het. Ons bid die vertroosting van die Heilige Gees toe vir Dina en haar kinders en sy gemeente.”