Joubert, Gideon Jacobus

 

GEBORE

19 Jul. 1946

OORLEDE

22 Mrt. 2001

UNIVERSITEIT

(BA, BTh)

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Gideon (Tubby) Joubert is op 19 Junie 1946 op Prins Albert gebore, waar sy vader, ds Unio Joubert, destyds predikant was. Die gesin het hulle vader op ‘n jeugdige ouderdom aan die dood afgestaan.

Gideon het in 1964 gematrikuleer en het eers vir ‘n paar jaar gewerk voordat hy na die Universiteit van Stellenbosch is om hom as predikant te bekwaam. Hy is in 1972 met Surita Badenhorst getroud, ook ‘n pastoriekind. Gedurende sy Kweekskool jare het hulle in die Paarl gewoon, waar Surita onderwyseres en orreliste was. Die gesin is later aangevul met drie kinders: Unio, Susan en Wounie.

Gideon is in 1975 gelegitimeer aan die Kweekskool op Stellenbosch en is vroeg in 1976 as predikant van die Kenhurstgemeente in Boesmanland bevestig. Hier het hy hom onderskei as prediker en pastor, en veral ‘n slag ontwikkel om met jongmense te werk. Hy kon intens meeleef met die lief en leed van lidmate, en word steeds onthou as iemand wat vroliker as die boere kon word as dit ‘n slag in die dorre Noord-Weste gereën het. Sy helder lag en kwinkslae het op baie plekke in die gemeenskap weerklink.

In 1980 het hy ‘n beroep na Oudtshoorn aanvaar waar hy tydens ‘n bediening van sewe jaar ‘n hart ontwikkel het vir die barmhartigheidsdienste van die kerk. Mense se nood en swaarkry het hom op ‘n besondere manier aangespreek en hy was betrokke by talle projekte en instansies om nood te verlig. Hy was ook in die tyd leier van die Suid-Kaap se jaarlikse skoolverlaters kampe.

Dieselfde bediening styl en voorliefde het hy uitgeleef in sy volgende gemeente, Robertson, waar hy van 24 Julie 1987 predikant was. Op 16 Junie 1990 het hy teruggekeer na die Noord-Weste en predikant op Vanrhynsdorp geword. Ook hier is sy bediening gekenmerk deur aktuele prediking, pastoraat, die versorging van noodlydendes en jeugwerk.

Hy het Huis Matzikamma, die huis vir bejaardes op Vanrhynsdorp, asook die plaaslike werksaamhede van die CMR op so ‘n unieke en suksesvolle wyse gelei dat hy as deskundige en ook verteenwoordiger van die streek in die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid (SKDB) gedien het. Sy bydrae op die uitvoerende komitee van die SKDB oor die laaste paar jaar was van groot waarde omdat hy die vermoë gehad het om in nuwe tye nuut en anders te dink. Hy was ‘n kern lid van die span by die SKDB, asook in die Ring van Clanwilliam wat samewerking tussen die NG Kerk en die Verenigende Geref. Kerk bevorder het.

In die laaste twee jaar van sy lewe het Gideon toenemend gesondheidsprobleme gehad, maar hy het ten spyte van verswakking en tye van siek verlof met sy bediening voortgegaan. Op 22 Maart 2001 is hy na ‘n ernstige beroerte in die Somerset-Wes-hospitaal oorlede. Op 24 Maart 2001 is ‘n roudiens op Vanrhynsdorp gehou waar familie en gemeente met hartseer van hom afskeid geneem het. Sy dogter, Susan, het hy die diens op treffende wyse aan hom hulde gebring. Mev. Joubert is onderwyseres op Clanwilliam, terwyl sy kinders verder studeer. – Ds CW Alheit.