GEBORE
28 Oktober 1942
ORLEDE
16 Augustus 2020
UNIVERSITEIT
BA BTh (US)
gelegitimeer
1967
ORDEN
1968
standplase
1968 Amandelboom
1972 Prieska
1976 Kameelboom
1982 Kimberley-Noord
1993 DRCB Sikwane
1998 De Aar
2007 Kameelboom
EMERITEER
2006
DS WILHELM JORDAAN (BA, BTh) 28 Oktober 1942 — 16 Augustus 2020
Wilhelm Francois Jordaan is op 28 Oktober 1942 gebore op Montagu. Hy is die tweede van vier kinders en word groot op die plaas Bordeaux buite Montagu. Wilhelm het sy lewe lank ‘n ontsaglik diepe verbondenheid met Montagu gevoel en dit was altyd ‘n bron van inspirasie in sy lewe. Sy vader is Paul Jacobus Jordaan, ‘n boer en sy moeder Gertruida Johanna van der Merwe, ‘n verpleegkundige. Sy grootouers aan vaderskant is Paul Jacobus Jordaan, boer, gemeenskapsleier en direkteur van die KWV en Helena Maria Brink, ‘n intelligente vrou en raakvatter. Sy grootouers aan moeders-kant is Willem Jacobus van der Merwe, boer te Hoeko in die distrik Ladismith (Kaap) en sy vrou Helena Maria de Witt is ‘n huisvrou.
Wilhelm het van kleins af geroepe gevoel vir die evangeliebediening. Hy skryf later: “As ek so op die plaas Bordeaux geloop en gespeel het, het ek dikwels daaroor gedag droom. Daar was nooit by my enige twyfel nie.” Hy begin met sy skoolopleiding in 1948 aan die Laerskool Montagu en is in 1953 en 1954 in die plaasskool Baden en in 1955 aan die Laerskool Ashton. Hy is van 1956-1957 leerling aan die Hoërskool Montagu en in 1958 aan die Hoërskool Grabouw. Hy keer in 1959 terug na die Hoërskool Montagu waar hy in 1960 matrikuleer en hoofseun van die skool is. Hy vertrek in 1961 na Pretoria, woon in die NG Kerk Jeugsentrum in Pretoria en werk as klerk by Doeane en Aksyns. Hy studeer buitemuurs en behaal in 1963 sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria.
In 1964 loop Wilhelm se pad na Stellenbosch waar hy student word aan die Fakulteit Teologie en hy verwerf in 1966 die BTh-graad. Hy spesialiseer in Sendingwetenskap met die skripsie: “Die invloed van drankmisbruik op die geloofslewe van NG Sendingkerk-lidmate”. In die Eikestad is hy leier van verskeie sendingwerkerskampspanne en word op 7 Desember 1967 gelegitimeer. Proponent WF Jordaan en sy vrou help enkele maande lank in die gemeentes Gobabis en Touwsrivier uit en word op 6 Mei 1968 in die NG Sendingkerk Amandelboom (Williston) met handoplegging ontvang en bevestig. Na ‘n besondere geseënde dienstyd word hy in 1972 sendeling in die NG Sendingkerk te Prieska, waar hy met twee vriende ou bande verstewig. Ds. Ben Smit was leraar te Copperton en ds. Kosie Botes in die NG Kerk. Ben was op Copperton en Kosie het van Malawi af teruggekom na die moedergemeente daar.
In 1976 neem ds. Wilhelm Jordaan ‘n beroep aan na Tosca, die dorpie waar die NG Gemeente Kameelboom in die Molopo geleë is. In die Moederkerk Tosca kon hy sy sendingroeping voort-sit omdat die sendingpos nie gevul was nie. Hy leef ook sy talent en stokperdjie uit om motors te herstel, want Tosca is meer as 160 kilometer sandpad van Vryburg. Ds. Wilhelm en Trienie bly dankbaar dat hulle kinders blootgestel kon word aan die ongerepte wêreld, waar hulle kon grootword en skoolgaan.
Op 27 November 1981 word ds. WF Jordaan bevestig in die NG Gemeente Kimberley-Noord, wat ‘n groot aan-passing geverg het vir die leraarspaar en hulle kinders. Hy bedien die gemeente tot in 1998. Hulle beleef besonderse tye in die Diamantstad en op sinodale gebied speel hy ‘n groot rol en dien ook op die moderatuur van die Sinode van Noord-Kaapland. Die laaste vyf jaar is hy deur Kimberley-Noord gestuur met ondersteuning van die sinode na ‘n gemeente van die DRCB Sikwane in Botswana. Dit is op die oostelike grens van die RSA, by die Derdepoort-hospitaal. Weens finansiële redes word die besondere band met die gemeente verbreek, maar die Here maak ‘n deur oop na De Aar.
Trudie van der Merwe skryf oor hulle bediening in Kimberley: “Hy was ‘n geliefde leraar en Trienie ‘n buitengewone lewensmaat, twee spesiale mense. Hulle het met hulle opregtheid en werklike belangstelling ‘n wesenlike verskil in die lewe van mense gemaak. Huisbesoeke en siekebesoek was ‘n prioriteit. Hy was ‘n gebedsmens met uitsonderlike menseverhoudings en sy lidmate se geestelike welsyn was vir hom baie belangrik.”
In 1998 word hy leraar van die NG Moedergemeente De Aar, waar hy ‘n besonder geseënde dienstyd beleef tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 26 Maart 2006. Die keuse van die teks met sy afskeidspreek is ‘n spieëlbeeld van sy bediening in die NG Kerk: “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35).
Na ds. Wilhelm en Trienie Jordaan se aftrede gaan woon hulle in Bloemfontein, waar hy in 2006 inskakel as prediker van die Bybelgenootskap in die Rosestad. In 2007 vertrek hy as leraar na ‘n vorige gemeente, Kameelboom te Tosca, waar hy in die wye Noordkaap werk tot hy in 2012 weer uitspan. Hy was ‘n keer ernstig siek, maar die Here het hom herstel en hy kon weer voort-gaan om in die Here se Wingerd te werk. In 2014 kom daar weer ‘n roepstem toe die NG Gemeente Sutherland hom opraap en hy ‘n besondere diens verrig in die Karoodorp tot hy in 2017 finaal die tuig neerlê en ds. Wilhelm en Trienie terugkeer na Bloemfontein.
Hy trou op 9 Desember 1967 met mej. Martha Catharina (Trienie) de la Rey, ‘n gekwalifiseerde onderwyseres en plaasdogter in die distrik Christiana aan die Vrystaatkant. Uit hulle huwelik is vier kinders gebore: Marita Skupin, tans kurator van ‘n kunsmuseum te San Diego in Kalifornië, VSA; Paul Jordaan, eienaar van ‘n bakkery en gastehuis in Barkly-Wes; Anida Marais is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres en woon op George; De la Rey Jordaan is ‘n onderwyser in Krugersdorp.
Ds. Wilhelm skryf met sy finale emeritaat: “Ek kyk terug met oneindige dankbaarheid. Vir die wonderlike vrou wat alles gegee het vir my werk. Dit was vir ons jare gevul met intense blydskap om soveel mense en gemeentes te bedien. Dankbaar dat ons vir mekaar gespaar is en nog geen kind of kleinkind verloor het nie.” Ds. WF Jordaan word in die grendeltyd ernstig siek aan Covid-19 en sterf op 16 Augustus 2020 in Bloemfontein. So word die slothoofstuk op aarde van ‘n waardige man, ‘n Godsman, geskryf. Dat hy waarlik ‘n kind van die Here en geroepe dienskneg was, is in al sy doen en late duidelik sigbaar. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 378)