Jordaan, Rudolph Philippus

 

GEBORE

13 Jun. 1934

OORLEDE

28 Sep. 2010

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1958

ORDEN

1959

standplase

1959 Sabie (opdrag sendingwerk)

1966 Mtubatuba

1969 Graskop

kpln  SAW: 1972 Voortrekkerhoogte

1976 Ladysmith

1980 Skanskop

1990 kpln-genl SAW

EMERITEER

1994

Ds Pierre Jordaan (BA, BD) 13 Junie 1934 – 28 September 2010

Rudolph Philippus Jordaan is op 13 Junie 1934 in Jeppe straat, Pretoria, gebore en het in Randburg grootgeword. Sy pa, Jakob Johannes van Zyl Jordaan, was ‘n letterse en sy ma, Alida Susanna Vermaas, huisvrou. Hulle het die Here gedien en hy het drie seuns met liefde grootgemaak.

Pierre het sy skoolopleiding in 1941 die Laerskool Fontainebleau in Randburg begin en in 1951 aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer. Op hoërskool het hy graag gelees en voordragte gelewer, tot groot verbasing van die ander seuns. Hy het die graad BA (Admissie) aan die Universiteit Pretoria verwerf en daarna, in 1955, aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch begin studeer. In 1958 het hy die graad BD verwerf. Sy skripsie tema was: “Glossolalie in Handelinge”. Dit was ‘n wonderlike vier jaar in Pierre se lewe en aan die einde van 1958 is hy as proponent gelegitimeer.

In 1959 het hy sendeling op Sabie geword, waar hy met handoplegging bevestig is. Hy het later vertel dit was ‘n besondere geleentheid en voorreg om die Sendinggemeente van 47 tot 495 lidmate op te bou. Pierre kon Fanagalô praat. Daarna het hy die gemeentes Mtubatuba (1966-1969) en Graskop (1969-1972) bedien. Aan die einde van 1972 het hy kapelaan van die SAW op Voortrekkerhoogte geword en in Oktober 1976 het sy pad na Ladysmith in Natal geloop. Aan die begin van 1980 is hy na Skanskop (Pretoria) beroep en as direkteur van die Kapelaansdiens van die Leër aangestel.

Later is hy oorgeplaas na die kantoor van die Kapelaan-Generaal en in 1990 is hy as die Kapelaan-Generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag aangestel. Op voetsoolvlak van die kantoor tot op die grens was hy ‘n ware ambassadeur, ‘n soldaat vir Jesus Christus. Na ‘n besondere tydperk in die pos het hy op 30 Junie 1994 afgetree en in Pretoria gaan bly. Daar kon hy gehaltetyd saam met sy kinders, kleinkinders en vriendekring deurbring. Hy was lief vir preek en is na verskeie gemeentes genooi. Na ‘n operasie het sy gesondheid versleg en is hy op 28 September 2010 in 1 Militêre Hospitaal oorlede. ‘n Dankdiens is op 1 Oktober 2010 gehou en ds Johan de Witt, ‘n jare lange vriend wat hom as Kapelaan- Generaal opgevolg het, het die diens gelei.

Op 11 Januarie 1958 is Pierre met Magreta Anna Cillie getroud. Hulle het ses kinders: Rinel Hugo (lid van die moderamen van die Algemene Sinode en voorsitter van die Wêreldbiddag vir Vroue in Suid-Afrika); ds Japie Jordaan (kapelaan in Gelofte, Ladysmith); ds Danie Jordaan, predikant van die NG Gemeente Ellisras-Wes, Pierre (in die staatsdiens); prof Andre Jordaan (van die Departement van Ekonomie aan die Universiteit Pretoria) en Lida (in die IT-bedryf.)

Ds Johan de Witt skryf: “In sy termyn as Kapelaan-Generaal is ‘n Christelike Adviesraad vir die Suid-Afrikaanse Weermag gestig wat later ook die SAPD, Korrektiewe Dienste en die Nasionale Intelligensie-agentskap ingesluit het. Hoewel die RSA nog in isolasie was, het Pierre kontakte opgebou met buitelandse Kapelaansdienste. Hy het groot moeite gedoen om met die verskillende kerke in Suid-Afrika te skakel. Vir hom was die Koninkryk van God die belangrikste. Hy het elke geleentheid benut om die evangelie te verkondig. Verskillende medaljes is aan hom toegeken asook die SSA Silwer deur die Staatspresident vir besondere diens gelewer.”

Rinel Hugo skryf oor haar pa: “Ek en my pa het ‘n besondere verhouding gehad en ek dink met dankbaarheid aan hom terug. Hy was vir my ‘n mentor en iemand vir wie jy altyd raad kon vra. Enkele dinge bly my by: Hoe ons ses kinders soggens by Ma en Pa se voete in die bed geklim het en huisgodsdiens gehou het. Hoe hy die mooiste Tarzan-stories of Ice station Zebra in Afrikaans vertel het. Hoe hy hom nooit deur die statusof belangrikheid van ‘n individu laat beïnvloed het nie en ‘n plat op die aarde dominee was met wie jy jou grootste probleem kon deel. Hoe lekker hy calamari of spaghetti voorberei het. Hoe hy ses kinders elk ‘n universiteitsopleiding op ‘n predikant salaris (met ‘n ma wat nie gewerk het nie) kon gee. Dit het groot opoffering gevra.

“Hy was ‘n voorbeeld van iemand wat die Here lief het en ons aan Jesusbekend gestel het. Hy is steeds ‘n bron van inspirasie en iemand in wie se spore ek wens ek kon loop. Alhoewel dit moeilik is, aanvaar ons dit en kan ons mos nie hartseer wees noudat dit gebeur het waaroor hy sy hele lewe gepreek het nie: Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins! ‘” -Dr Gerdrie van der Merwe.