Jordaan, Pieter Willem

 

GEBORE

21 Apr. 1912

OORLEDE

20 Okt. 1988

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1938

ORDEN

1940

standplase

1940 Lady Grey

1945 Sondagsrivier-Suid

1948 King William’s Town

1950 Tarkastad

1958 Bethlehem-Wes

1963 Harmonie

EMERITEER

Ds Pieter Willem Jordaan (21.4.1912 – 20.1O. 1988) is gebore op ‘n plaas in die distrik Delareyville, Wes-Transvaal. Hy ontvang sy skoolopleiding te Potchefstroon en sit later sy universiteitsstudie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (1931-1934) voort. Hy behaal die grade BA en MA met lof. Sy MA-skripsie is gedoen onder die titel: “Die Godsbegrip by Amma¬nuel Kant”. Hy studeer verder aan die Kweekskool te Stellenbosch en word hy en sy jeugvriend, Ds Kosie van den Berg, die eerste twee studente wat die graad BD behaal. Hy word tot die bediening toegelaat en gelegitimeer in 1938 nadat sy proefpreke in Afrikaans sowel as in Engels gelewer is. Hy trou op 2 Oktober 1939 met Mej Anna Olivier van Potchefstroom. Uit de huwelik is sewe kinders gebore , waarvan vier seuns en een dogter tans nog lewe. Pieter Jordaan ontvang reeds op hoërskool die roeping om ‘n Dienaar van die Woord te word. Hy bekwaam hom as ‘n predikant en dien as hulpprediker in verskeie gemeentes, waaronder in Suidwes-Afrika en Stilbaai. Hy word op 2 Oktober 1940 georden in die gemeente Lady Grey. Gedurende sy 39 jaar as Evangeliedienaar, bedien hy die gemeente Lady Grey, Sondagsrivier-Suid, King William’s Town, Tarkastad, Betlehem-Wes en die gemeente Harmonie-Pretoria. Hy ontvang op 26 Junie 1977 sy emeritaat. Hy dien op verskeie kommissies van die Kerk, maar bedien veral die Kommissie van Openbare Sedelikheid, waar hy as tydelike leraar in Sinodale Diens vir Openbare Sedelikheid, Transvaal optree vanaf 1973-1976. Hy dien vanaf 1947 op Anti¬kom waar hy die Kaapse Kerk verteenwoordig. Later dien hy as voorsitter. Hy word as ere-voorsitter aangewys, en dien in daardie hoedanigheid ook op die Raad van die Sentrum vir Reformatoriese en Kontemporêre Studies (SERKOS) tot 1987. Op die kultuurakker beywer hy hom vir die vestiging en uitbou van die Voortrekkerbeweging. Hy het dan ook die toekenning “Vriend van die Voortrekkers” ontvang. Hy was ook een van die Trekleiers van die Oos-Kaaptrek met die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria. Die opvoeding en onderwys het hom na aan die hart gelê, en hy beywer hom veral in die Oos-Kaap vir die vestiging van die Afrikaanse skool en Christelik-nasionale onderwys. Hy bevorder die Afrikaanse drama en debatte op die platteland deur aktief mee te werk deur die ondersteuning van NTO. In wese was Piet Jordaan, in sy hart en ook verstand ‘n Calvinis, en dien in die Vereniging vir die Bevordering van Calvinisme. Hy lewer diens in die Kerk deur ‘n studie te doen oor die posisie van die gegoede oue van dae, en rig die ouetehuis Harmoniehof op in die NG Gemeente Harmonie. Deur sy leiding is die Jeugtuiste en Harmoniehof ontwikkel tot instansies wat diens lewer aan die gemeente en aan die Kerk. ‘n Sendingpos aan Groothoeksendingstasie in Noord-Transvaal word deur hierdie instansies gedra. Na sy aftrede in 1977 dien hy nog deur prediking en op kommissies van die Sinode van Oos-Kaapland. Hy woon ook die Algemene Sinode in 1986, in Kaapstad, by. Sy bydrae by die Sinodes was gereken as komende van iemand met vaste beginsels en weldeurdagte oortuigings. Van hom is deur ‘n kollega gesê: ‘n Man uit een stuk”. Pieter Jordaan was gerespekteer as ‘n man van karakter. Hoewel hy vererings ontvang het, het hy nooit gehou van ‘n fanfare nie. Sy lewensleuse het bestaan uit dienslewering. Hy sou dan ook voortdurend sê: “Die beloning vir harde werk, is nie eer nie, maar meer werk en verantwoordelikheid”. Sy vriendekring het oor wye grense gestrek, selfs tot in die buiteland. Pieter Willem Jordaan sterf soos hy geleef het, stil en sonder enige fanfare. Hy word oorleef deur sy vrou en vyf kinders.