Jordaan, Johannes Petrus * 1934

 

GEBORE

22 Okt. 1934

OORLEDE

17 Jan. 1993

UNIVERSITEIT

B.A. (Hons.) (UOVS)

gelegitimeer

1964

ORDEN

1965

standplase

1965 Glencoe

1968 Lektor Durban-Westville en RAU

1971 Florida-Suid

EMERITEER

30 Okt. 1992

Ds Johannes Petrus Jordaan (BA Hons) (22.10. 1934 – 17.01.1993)

Ds Johannes Petrus Jordaan is op 17 Januarie 1993 in sy slaap oorlede. Hy het op 30 Oktober 1992 weens gesondheidsredes geëmeriteer. Hy was leraar in twee gemeentes: Glencoe, Natal (1965-1968) en Florida-Suid (1971-1992); In die tydperk 1968 -1971 was hy lektor aan die Universiteitskollege Westville, Durban, en aan die Randse Afrikaanse Universiteit waar hy filosofie gedoseer het.

Hy het hom onderskei as ‘n leergierige student met ‘n skerp verstand. Almal wat hom geken het, onthou hom hy elke argument versigtig en deeglik kon uitpluis en logies beredeneer. Die teologie en Christelike filosofie het hom na aan die hart gelê.

Gedurende sy studiejare in Bloemfontein het hy ‘n groot aandeel gehad in die opstel van ‘n memorandum wat aan die universiteitsowerheid voorgelê is vir die instelling van ‘n voltydse leerstoel in Hebreeus. Die leerstoel het geleidelik uitgebrei tot ‘n volwaardige departement in Semitiese Tale.

Om sy werk te evalueer, is moeilik. Hy was ‘n harde werker wat elke taak so deeglik as moontlik uitgevoer het. Afskeepwerk kon hy nie duld nie. As pastor het hy ‘n passie gehad om met mense oor hulle verhouding met die Here te praat. Dit het hom gekwel dat daar “baie lidmate in gemeente is wat deurgaan as vroom, maar wat nie daartoe kan kom om in woorde te sê dat Jesus Christus hulle persoonlike Saligmaker is nie”.

Met vrae het hy hulle gelei om self die antwoorde te ontdek en die begeerte te toon om hulle in geloof aan die Here oor te gee. “Wat ‘n wonderlike belewenis is dit nie”, skryf hy in ‘n verslag, “om, net soos wat dit die geval is met ‘n vroedvrou, teenwoordig te wees met ‘n geestelike geboorte! Dit het voortdurend aan my uitbundige blydskap in die Here verskaf

Vir sy vrou, Marie, was hy ‘n wyse eggenoot en vir sy kinders, Hendrik en Dorothea, ‘n geduldige raadgewer. Sy familie was vir hom belangrik. Sy vriende is dankbaar dat Jorrie hulle lewens kon verryk het.

Ten spyte van sy siekte, was hy blymoedig en het hy elke ding wat hy gedoen het, met hart en siel gedoen. Om bly te wees, was vir hom om uitbundig bly te wees, en om te glo, was vir hom om met hart, verstand en al jou krag die Here te dien. Hy wou hom na sy aftrede op skryfwerk toelê. Die Here het hom in die ouderdom van 58 jaar weggeroep om saam met ander verlostes die nuwe Halleluja in sy hemelse koninkryk te sing. (R J de Beer)