GEBORE
20 Feb. 1931
OORLEDE
29 Okt. 2009
UNIVERSITEIT
(BA, BTh)
gelegitimeer
–
ORDEN
–
standplase
1977 Boksburg
1 Augustus1980 Sinodale diens vir Nywerheidsbediening in Suid-Transvaal
EMERITEER
1990
Jan Abraham Jordaan is op 20 Februarie 1931 op Ceres (KP) gebore. Sy vader Adriaan en moeder Christina het op die plaas Rooifontein in die distrik Calvinia gewoon. Hulle het later na Slanghoek by Rawsonville verhuis, waar hy in standerd agt skool verlaat het. As jongman het hy as klerk by die SAS & H op Vishoek begin werk, en later na Claremont verhuis. Jan is op 22 Mei 1954 met Marie Coetzee van Calvinia getroud. Sy het hom getrou bygestaan, ook toe dit baie offers gevra het om predikant te word. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Marianne, Christelle, Adriaan, Erik, Ilse en Braham.
Aan die begin van 1961 het die gesin na Kempton park verhuis nadat Jorrie in diens van die Suid-Afrikaanse Lugdiens getree het. Toe hy reeds 46 jaar oud was en al drie kinders gehad het, het hy die roeping ontvang om predikant te word en teologie te studeer. Hy het eers matriek deur Sukses-korrespondensie kollege voltooi en vrystelling gekry om aan Tukkies te studeer. Hy het buitemuurs gestudeer en in 1972 die graad BA ontvang.
Aan die begin van 1973 het Jorrie by die Suid-Afrikaanse Lugdiens bedank en hom ingeskryf aan die Universiteit Pretoria se Teologiese Fakulteit. Hy het deeltyds gewerk as skriba en kassier by die NG Gemeente Birchleigh en waardevolle gemeentelike ervaring opgedoen. Dit was ‘n besondere tyd in sy lewe, maar ook vol spanning omdat hy geworstel het rondom die siekte van sy seun Braham. Daarom was sy skripsie tema aan die einde van sy proponentsjaar: “Etiek rondom Orgaanoorplanting.” Braham was sewe jaar oud toe hy ‘n nieroorplanting ontvang het. Die nier het twaalfjaar gewerk voordat dit verwerp is en hy ‘n tweede nier ontvang het, maar na die operasie het hy nooit volkome herstel nie. Braham is ses maande voor sy 21ste verjaardag oorlede.
Jorrie Jordaan is op 29 Januarie 1977 met handoplegging in die NG Gemeente Boksburg ontvang en bevestig. Hierna het sy pad teruggeloop na sy ou werksterrein by die SAS & H toe hy op 1 Augustus1980 predikant in Sinodale diens vir Nywerheidsbediening in Suid-Transvaal geword het. Hy het met groot vrug hier gewerk totdat hy in 1990 weens swak gesondheid emeritaat moes aanvaar.
Ds Jorrie Jordaan was ‘n toegewyde dienskneg van die Here. Sy vrou Marie skryf: Die wat Jorrie geken het, sal hom onthou vir sy Godvresendheid, opregtheid, doelgerigtheid en bo alles sy liefde vir die `under dog’, die nie-bevoorregtes.” – Dr Gerdrie van der Merwe.