gebore
2 Aug. 1955
OORLEDE
2 Jun. 2013
UNIVERSITEIT
BA, BTh, MTh (US)
gelegitimeer
1981
ORDEN
–
standplase
1984 Windhoek
1985 Pofadder
1989 Williston
2012 Mariental
EMERITEER
–
Jacobus Petrus Jooste is op 2 September 1955 in Windhoek gebore. Sy vader is Jaco Petrus Jooste, ‘n rekenmeester en interne ouditeur by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens in Windhoek. Sy moeder is Delila Johanna Smit, ‘n seketaresse en tikster by ‘n prokureur. Kobus begin sy skoolloopbaan in 1962 aan die Laerskool Dr Van Rhyn in Windhoek en hy is van 1969 tot 1973 ‘n leerling aan die Hoërskool Jan Mohr in Windhoek, waar hy matrikuleer. Hy speel rugby op skool, blink veral uit as langafstandatleet en neem deel aan redenaarskompetisies.
Kobus voel geroepe tot die bediening en vertrek in 1974 na die Universiteit Stellenbosch, waar hy aan die einde van 1977 ‘n BA (Admissie)- graad verwerf. Hy werk gedurende vakansietye as laaimeester by die Spoorvveë in Windhoek – en terwyl hy op Kweekskool was, het hy gedurende die kwartaal skoolbus in die Eikestad bestuur.
In 1978 word hy ‘n student aan die Fakulteit Teologie, waar hy ‘n BTh graad verwerf en in November 1981 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer word. Op Kweekskool het hy ‘n beroering veroorsaak toe hy geweier het om ‘n onderneming te teken dat hy as student aan diê inrigting nie sou dans nie. Niê omdat hy so graag gedans het nie, maar omdat hy baie vriende en ander Kweekskoolstudente geken het wat graag gedans het – dit was dus nie vir hom eties korrek om so ‘n dokument te onderteken nie.
Na sy legitimasie doen proponent Kobus Jooste militêre diensplig. Op 15 Desember 1979 trou hy met Jacoba Anna (Annette) Nieuwoudt – dogter van dr MM (Thys) Nieuwoudt, wat as predikant diep spore in die kerklike lewe in Suidwes-Afrika trap. Uit Kobus en Annette se huwelik is daar twee seuns gebore Jakobus Petrus Nieuwoudt (op 6 Mei 1984) en Matthys Michiel Nieuwoudt (op 10 Junie 1986).
Op 16 April 1983 keer prop Kobus Jooste terug na Windhoek, toe hy op 16 April 1984 in die NG Gemeente Windhoek bevestig word. Hierdie eerste ervaring in die gemeentebediening bring besonderse ervaringe mee, en dit rus die egpaar toe vir hulle verdere dienstyd in die Koninkryk. In Windhoek dien Kobus op die sinode se Kommissie vir Leer en Aktuele sake.
Op 14 September 1985 word hy herder en leraar by die NG Gemeente Pofadder, in die hart van die Boesmanland. Tydens sy dienstyd daar vind die 75-jarige feesviering van die NG Gemeente Pofadder plaas. In die laat jare tagtig beleef die Noordweste en Boesmanland een van die grootste droogtes in menseheugenis.
Dieselfde tipe droogte tref die Groot Karoo in die vroeë jare negentig, toe Kobus leraar op Williston is. Dit alles rus hom toe om in 1995 ‘n Meestersgraad in die Teologie aan die Universiteit Stellenbosch te behaal met onder meer ‘n proefskrif oor: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die 1933-droogte, met besondere verwysing na die Noordweste.”
Vanaf 18 Maart 1989 is Kobus en Annette die leraarspaar by die NG Gemeente Williston – ‘n gemeente met ‘n eie manier van dink en doen. Kobus en Annette het hulle voluit in die gemeente en in die gemeenskap uitgeleef; hulle was ‘n baie gelukkige gesin.
As man van God het Kobus onbevrees sy roeping uitgeleef. Hy was ‘n mens met sterk innerlike oortuigings, ‘n absolute perfeksionis, ‘n briljante prediker. Hy was ‘n baasstorieverteller, ‘n eietydse legende tussen sy kollegas in die Sinode van Noord-Kaapland. In sy dienstyd begin Williston met ‘n reuse gemeentebasaar saam met die NG Gemeente Strooidakkerk in die Paarl. Dit het ‘n fenomenale jaarlikse spanpoging van die Willistoniers gevra, maar dit was keer op keer ‘n groot sukses in geen geringe mate nie te danke aan die Joostes se visie, ywer, toewyding en deursettingsvermoë.
Gussie Kühn, ‘n boorling van Williston en gemeentelid, het ‘n treffende boek oor die dorp en distrik se mense geskryf. Oor ds Kobus Jooste, wat die gemeente 23 jaar lank bedien het, skryf sy onder meer: “Hy was ‘n onverskrokke profeet en worstelaar. Hy het deur die week in sy studeerkamer geworstel met God, met sy omstandighede, met die nood van die kerk en sy gemeentelede. En Sondae kon ons in sy gebede en prediking hoor waarmee God hom getroos het. Sy toegewydheid aan die Woord en sy roeping het hom in staat gestel om volledig mens te wees – en daarom kon hy goeie rooiwyn, sy vetplante, sy antieke motors en die jaarlikse Dakar-tydrenne geniet.”
Aan die einde van 2011 aanvaar ds Kobus Jooste ‘n beroep na die NG Gemeente Mariental in Namibië, waar hy op 1 Januarie 2012 bevestig word. Hier sterf hy skielik op Sondagoggend, 2 Julie 2013, kort voor die erediens, aan ‘n hartaanval. Hy laat sy vrou, Annette, en die twee seuns agter. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM