gebore
01 Mrt. 1929
OORLEDE
28 Aug. 2006
UNIVERSITEIT
BA, BD, MA, (UP); ThD, (VU); DTh (h.c.)
gelegitimeer
1955
ORDEN
1955
standplase
1955 Johannesburg-Wes
1958 Potchefstroom-Noord
1962 Johannesburg
1965 Fakulteit Teologie, Universiteit van SA
1966 Johannesburg-Oos
1968 Theologische Hogeschool, Kampen
1971 Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch
EMERITEER
1992
Prof Willie Jonker (BA, BD, MA, ThD, DTh (h.c.) (01/03/1929 – 28/08/2006)
Willem Daniël Jonker is op 1 Maart 1929 op die plaas Kinkelspruit naby Biesiesvlei in die distrik Lichtenburg gebore. Sy grootouers was boere uit die omgewing van Uniondale in die Langkloof, stoere kerkmense wat die Here gedien het. Willie se ouers was Willem Daniël Jonker en Martina Phippina Gerber, diep gelowige ouers wat na hulle troue in 1917 te Uniondale na die Transvaal trek en hulle as boere naby Biesiesvlei vestig. Hy was benewens boer ook ‘n bouer en skrynwerker, iemand wat hard kon werk en na die beste van sy vermoë vir sy groot gesin gesorg het. Reeds voor Willie se geboorte bewaar die Here se sorgsame hand van liefde die klein seuntjie, ook tydens die moeilike geboorte wat hy byna nie oorleef nie. Tant Maraai van der Walt, erkende vroedvrou in die omgewing, was ‘n instrument in die hand van die Here wat gehelp het dat hy bly leef. Daar is gebid en gepleit dat die Here moeder en kind moet spaar, selfs die vader het met die lang bevalling sy vrou moed ingepraat en gesê dat dit miskien ‘n klein predikantjie is. Dit was profetiese woorde, want die seuntjie was bestem om die Koninkryk van God in Suid-Afrika op ‘n besondere wyse te dien. Daar was nooit van kindsbeen af by Willie Jonker enige twyfel dat hy predikant sou word nie, die Here het hom in sy moederskoot geroep en aangeraak soos vir Jeremia van ouds.
Willie se vader het gereeld huisgodsdiens gehou. Sy ouerhuis was gevul met liefde en vertroue wat hom tot geloofsekerheid help. Sy moeder was ‘n sober en nougesette mens, iemand met diep godsdienstige oortuigings wat ingestel was om korrek op te tree. Sy was ‘n diep gelowige mens wat haar kinders van kleins af leer bid het en maak Willie as haar “Samuel” groot. Toe Willie nog jonk was het hy agter ‘n paraffienkissie gestaan en met groot ems gepreek, geklee in ‘n donker baadjie om sy skouers en ‘n wit doek as bef om sy nek. Hy begin in 1936 op sewejarige ouderdom sy skoolloopbaan aan die Laerskool Biesiesvlei, maar wen twee jaar omdat die skoolhoof, mnr Hennie van Wyk, hom twee standerds laat spring. Dit was destyds gebruiklik by briljante kinders. Hy word in 1942 leerling aan die Hoërskool Lichtenburg waar hy einde 1945 matrikuleer.
In 1946 word Willie student aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA-graad in 1948 verwerf en toegang verkry tot die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan Tukkies. Sy beste vriende in die tyd was Deon de Villiers, Andrew Hofmeyr, Murray Janson, Gert Erasmus, Carel Struwig en in die besonder Carel Boshoff. In sy BD-jare aan die fakulteit doen hy en Johan Heyns altyd saam mondelinge eksamens. Op universiteit neem hy aktief leiding en is voorsitter van die VRS en SSR. Hy is ook redakteur van Die Perdeby en Trek. In 1951 behaal Willie die BD- en in 1952 die MA-graad. Hy ontvang ook ‘n eremedalje vir kulturele en ander bydraes tydens sy universiteitsjare. Na sy legitimasie in 1956 vertrek hy na Nederland waar hy drie jaar lank aan die Vrije Universiteit in Amsterdam onder leiding van prof GC Berkouwer studeer. Hy promoveer op 1 April 1955 in Amsterdam met die proefskrif: “Mistieke liggaam en Kerk in die nuwe Rooms-Katolieke Teologie”, waarna hy na Suid-Afrika terugkeer en in Junie 1955 as proponent van die NG Kerk in Pretoria gelegitimeer word.
Proponent Willie Jonker ontvang na sy terugkeer beroepe na die NG Gemeentes Potchefstroom, Pretoria-Noord en Johannesburg-Wes. Hy voel geroepe om die beroep na Johannesburg-Wes te aanvaar waar hy op 20 Augustus 1955 bevestig word, ‘n ware leerskool in die bediening. In 1957 tydens die verlof van prof AB du Preez help dr Willie met lesings in kerkreg by die Fakulteit in Pretoria, ‘n eerste tree op akademiese gebied op eie bodem. In 1958 word hy studenteleraar in die NG Gemeente Potchefstroom-Noord, ‘n veeleisende maar stimulerende tydperk in sy bediening. In 1959 word hy aktuarius van die Sinode van Noord-Transvaal, wat hom op ‘n nuwe wyse met die binnekant van die kerklike lewe in aanraking bring.
In 1961 keer hy terug na die Rand as predikant van die NG Gemeente Johannesburg, in die omgang bekend as Braamfontein. Hy het al hoe dieper betrokke geraak in die kerklike problematiek van sy tyd. Sy opregte en eerlike standpunte laat hom die pyn van verwerping smaak. Daar was geweldige druk van familie en vriende dat hy nie teen die teologiese stroom van destyds moes swem nie, maar hy bly getrou aan homself. Dr Willie betaal ‘n duur prys vir sy standpunt dat die NG Kerk oop is vir almal en nie net ‘n instelling vir Afrikaners is nie. In die winter van 1965 aanvaar dr Willie Jonker ‘n pos as professor aan die Fakulteit Teologie by Unisa in Pretoria, maar sy hart bly steeds in die gemeentebediening. In die herfs van 1966 word hy beroep as leraar na die NG Gemeente Johannesburg-Oos (Irenekerk); ‘n wonderlike beskikking van die Here wat hom terugbring binne in die kerk wat hy liefhet en met soveel oorgawe dien.
In 1967 kom ‘n skerp draai op dr Willie Jonker se lewenspad, maar dit bring nuwe uitdagings en stuur hom en sy gesin in ‘n verrassende nuwe rigting. Hy word deur die “Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland” benoem as professor in Amptelike vakke (praktiese teologie) aan die Theologische Hogeschool in Kampen. Na ‘n sielestryd bedank hy die beroep, ter wille van sy gehegtheid en liefde vir die NG Kerk en wy hom verder met hart en siel aan die Irenekerk in die Goudstad. Maar die kerkmanne in Nederland wou nie kop gee nie en hou aan. In die winter van 1968 word hy ‘n tweede keer benoem en die keer kon hy nie die Masedoniese roepstem van die hand wys nie. Dr Willie en sy vrou Bettie met hulle kinders word gul ontvang in Nederland, terwyl hy met sy kenmerkende oorgawe hom aan sy lewenstaak wy. Waar hy in Suid-Afrika as liberaal geëtiketteer is, is hy in Nederland as uiters behoudend beskou.
Na die aftrede van prof JCG Kotze in 1969 word hy beroep as professor na die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof Willie Jonker was diep in sy hart steeds gebonde aan sy geestelike moeder, die NG Kerk in Suid-Afrika. Hy wou graag die beroep aanvaar, maar na ‘n intense worsteling met die Here soos Jakob by Pniël (Gen 32:30); bedank hy die beroep na Stellenbosch. Maar die NG Kerk in Suid-Afrika wou nie vergeet van prof Willie Jonker nie, want na die vertrek van dr Johan Heyns word hy weereens beroep, hierdie keer as hoogleraar in Dogmatiek, wat hy aanvaar. Hulle keer terug na hulle Vaderland in die winter van 1971 en prof Willie neem sy plek in by die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Prof Willie het maklik aangepas op Stellenbosch. Hy het altyd vertel dit het gevoel hy het tuisgekom. Alhoewel hy en sy kollega, prof FJM Potgieter, teologies soms diep verskil het, was daar wedersydse agting en respek vir mekaar, so eie aan hierdie twee hoogleraars se nederige en toegewyde lewens. Later sou geestelike sielsgenote en kollegas soos proff Flip Theron en Dirkie Smit kosbare kamerade wees op weg met die NG Kerk se teologiese pad. Prof Willie Jonker beklee die leerstoel in Dogmatiek op Stellenbosch tot hy in 1992 sy emeritaat aanvaar.
Die verantwoordelikheid vir die NG Kerk en sy teologie het swaar op prof Willie Jonker gerus, daarom kan baie oor hom as eietydse profeet in die NG Kerk geskryf word. Maar ons moet halt roep en net hoofmomente aandui wat by ‘n “In Memoriam” tuishoort. Hierdie kerkman en groot geleerde speel ‘n unieke rol in die lang en moeisame proses om die NG Kerk te bevry van ‘n teologiese regverdiging van apartheid. In sy boek Selfs die Kerk kan verander, skryf prof Willie sy verhaal as lidmaat, predikant en teoloog. Hoe die NG Kerk in die laat jare tagtig begin luister het na sy profetiese stem, die Algemene Sinode van 1986 en die verhaal van sy opspraakwekkende belydenis by Rustenburg.
Prof Willie Jonker se invloed op ‘n nuwe geslag predikante is onberekenbaar groot, daarvan getuig hulle geestelike waagmoed, intense gehoorsaamheid aan die Here van die Woord en verbondenheid aan die Skrif en liefde vir die drie-enige God. Tot die einde toe was die gereformeerde karakter van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch vir prof Willie Jonker van groot belang, hierin was hy getrou, ook met die daarmee ge-paardgaande spiritualiteit.
Prof Willie Jonker is op 2 September 1952 getroud met Bettie Rossouw en uit die huwelik is vier kinders gebore. Hulle is almal getroud en is Sabet van der Westhuyzen en Ria Smit van Stellenbosch; Martina Viljoen van Bloemfontein en Willie Jonker van Kaapstad. Prof Willie en Bettie Jonker was ryklik geseën met sewe kleinkinders.
Eregrade is aan hom toegeken deur die Universiteite van Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein. Hy was die outeur van 13 boeke en het ook talle kleiner publikasies die lig laat sien. Vanaf 1974 tot 1992 het hy die weeklikse rubriek in onder meer Die Burger geskryf, waardeur sy geestelike diepgang die gewone leser op voetsoolvlak gevoed het. In die skrywer en in baie teoloë se geheue sal prof Willie Jonker afgeteken bly as die effens geboë figuur, die houding van ‘n dienende dienskneg van sy God.
Die laaste 18 maande van sy lewe het ‘n slepende, ja slopende siekte sy tol begin eis. Sedert einde 2003 is hy ‘n inwoner van Benadiehof in die Strand, waar hy met liefde versorg word en op 28 Augustus 2006 sterf hy in die ouderdom van 77.
Dr KobusGerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, reik op 28 Augustus 2006 die volgende persverklaring uit na sy dood: “Die NG Kerk het vanmiddag met pyn kennis geneem van die dood van professor Willie Jonker, emeritusprofessor en -dominee van die NG Kerk. Professor Jonker sal onthou word as een van die NG Kerk se briljantste akademici asook as een van die kerk se grootste profete in die tyd toe hierdie land vas-gevang was in ‘n sisteem van diskriminasie en onreg. In sy sagte, innige en glashelder manier van praat het die studente en die kerk en die samelewing gehoor hoe God aan die woord kom deur die gestalte van ‘n dienskneg. Hy het gereformeerdheid ‘n dinamiese en lewende werklikheid laat word.
“Baie mense sal Willie Jonker sekerlik die beste onthou vir sy waagmoed om tydens die eerste Rustenburgberaad namens die NG Kerk skuld te bely en vergifnis te vra. Hierdie optrede het gehelp om die gety in Suid-Afrika te laat draai. Hy laat ‘n oneindige groot leemte in die NG Kerk se teologiese kringe, maar laat ook ‘n oneindige groot erfenis agter in die lewens in wie hy ‘n verskil gemaak het en met dit wat hy op skrif gesit het.
“Die Moderatuur van die NG Kerk bid sy gesin en familiekring die Here se rykste vertroosting toe. Ons dank God dat Hy Willie Jonker aan die NG Kerk geleen het.”