Jonker, Matthys Jacobus

 

gebore

19 Apr. 1926

OORLEDE

02 Jul. 2007

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1951

ORDEN

1952

standplase

1952 Brandvlei

1958 Wittedrif

1962 Calitzdorp

EMERITEER

Ds Thys Jonker (B Admin) (19/04/1926 – 02/07/2007)

Matthys Jacobs Jonker is op 19 April. 1926 op Willowmore in die Karoo gebore, die oudste van drie kinders met die familienaam. Sy grootouers aan albei kante was boere, diep gelowig en kerklik meelewend. Thys se vader was ‘n motorwerktuigkundige met ‘n eie besigheid wat jong manne op Molteno opgelei het. Hy was diep gelowig en wou graag predikant word, maar het die stem van die Here duidelik gehoor: “Nie jy nie, maar jou seun.” Hy het daarby berusen die NG Kerk ‘n leeftyd lank as ouderling en superintendent van die Sondagskool gedien. Thys se moeder was ‘n huisvrou wat nie net ‘n wonderlike tuiste vir die gesin geskep het nie, maar ook vir seuns wat nie ‘n ander heenkome het nie.

Thys Jonker begin sy skoolopleiding in 1933 en is tot 1940 ‘n leerling aan die Laerskool Innes op Uitenhage. In 1941 word hy leerling aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage, maar verlaat die skool einde 1943 toe hy in standerd 9 was om ‘n vakleerling by die destydse SAS en H te word. Hy wil geld spaar om te begin studeer, lewer onder meer koerante af om geld te maak. Hy probeer matriek slaag deur ‘n korrespondensie-kollege, maar is verplig om in 1945 terug te keer na Hoërskool Willowmore waar hy matrikuleer.

Van kindsbeen af voel hy geroep om voltyds vir die Here te gaan werk. Dit word versterk tydens sy jare in die laerskool. Tydens sy hoërskooljare roep die Here hom tydens ‘n erediens om sendeling te word, ‘n roeping wat hom ‘n leeftyd inspireer om alles vir die Koninkryk te gee. Hiema loop Thys se pad na die Hugenote-Universiteitskollege op Wellington, waar hy ook aan die Sending-Instituut studeer om aan die einde van 1951 as sendeling gelegitimeer te word. “Sy studiejare was moeilike jare aangesien hy erg aan asma gely het en Wellington se klimaat die siekte vererger het. Dit het meegebring dat hy een jaar in die Karoo op Prins Albert moes studeer met studiemateriaal wat goedgunstig aan hom voorsien

Thys ontvang ‘n beroep na die NG Sendingkerk op Brandvlei, waar hy op 26 Januarie 1952 met handoplegging ontvang en bevestig word. Na ses wonderlike jare in die wye gebied rondom Brandvlei, word hy in 1958 sendeling op Wittedrift, waar hy diep spore in die Koninkryk van die Here trap. Op 26 Januarie 1963 word hy sendeling op Calitzdorp in die Klein-Karoo, tot met sy vertrek in die winter van 1967 na die sendingkerk op Zoar (Ladismith KP); Hier doen hy uitstekende werk tot ‘n roepstem kom na die NG Moedergemeente op Calvinia, waar hy op 4 Maart 1972 ontvang en bevestig word.

Hier op Calvinia in die Hantam word die sirkel voltooi, hy is terug naby die buurgemeente Brandvlei waar hy twintig jaar vantevore as sendeling begin het. Op Calvinia werk hy 18 jaar en 6 maande, waar hy op 17 Junie 1990 sy emeritaat aanvaar en hulle op Ceres vestig. Hy help in verskeie gemeentes met Woordbediening – ‘n taak wat hy met oorgawe vervul. Hierdie dienskneg van die Here sterf op 2 Julie 2007. Een van sy kollegas skryf: “Wat ‘n voorreg was dit nie om hom te kon ken, eers as medestudent en later as kollega in die bediening. Sy fyn humorsin en onnutsige laggie het daartoe bygedra dat hy so bemind was onder almal.”

Thys trou op 25 Desember 1951 met mej Christi hennah Steyn van Prins Albert, met wie hy meer as 55 jaar lank getroud was. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Marieta, ‘n wiskundeonderwyseres in die Paarl. Annette, ‘n makelaar op George. Matthys Jacobus, sy pa se naamgenoot, ‘n weerwaarnemer by die Durban Intemasionale Lughawe.

Met sy begrafnisdiens is in dankbaarheid hulde gebring: “Ons onthou hom as fondsinsameling in die arm gemeentes, as knap administrateur wie gemeentefondse kon bestuur. Ons onthou hoe hy die breër kerk gedien het op ring- en sinodale vlak en sy kennis en toepassing van die Kerkwet. Ons onthou hom as ‘n jagter met ‘n groot liefde vir die Kalahari. Hy was ook ‘n liethebber en versamelaar van gewere. Ons onthou sy belesenheid en hoe hy byna elke denkbare stokperdjie kon bemeester, met houtwerk as sy groot liefde. Ons onthou hom vir sy hegte vriendskap met minder gewilde lidmate vir wie hy die pad wou wys. Hy was ‘n goeie gesinsman en liefdevolle vader, met ‘n goeie sin vir humor en ‘n sterk mening van sy eie. Ons bring hulde aan God die Heer vir sy lewe en diens en gun hom ‘n welverdiende rusby ons hemelse Vader.