De Clerk, Andries Jonathan

 

Gebore

24 Februarie 1942

OORLEDE

3 Mei 2013

UNIVERSITEIT

BA (UOVS), Dipl. Teol (UP)

gelegitimeer

1971

ORDEN

1971

STANDPLASE

1971 Hartbeeshoek 

1975 Waterkloof

1979 Thabazimbi

EMIRITEER

1 Maart 1997

Andries Jonathan de Clerk is op 24 Februarie 1942 in Kimberley gebore. Sy ouers was AJ (John) de Clerk en EJ (Lizzie) de Clerk. Laasgenoemde is nou 96 jaar oud en woon op Malmesbury.

Ds Johnnie is vernoem na sy oupa, en dit was later as predikant vir hom ‘n voorreg om sy kleinkind en naamgenoot te doop, die vyfde in ‘n ry. Hy is die oudste van vier kinders, waarvan twee jonger broers, Nico en Pieter, en enigste suster, Dinie.

Johnnie was ‘n baie bedrywige  seuntjie, met ‘n ryke verbeeld wat van jongs af vir die hoenders gepreek het! Sy vrou Magda skryf: “Dit is tekenend van sy twee liefdes, diere en die prediking.”

Johnnie se De Clerk-ouma het 104 jaar oud geword en was ‘n formidabele vrou, boervrou en onderwyseres. Johnnie se pa John was sy lewe lank verbonde aan die SA Spoorweë en Hawens. Hy was ‘n perfeksionis en toegewyd aan sy werk. Hy en sy vrou, Lizzie, was twee termyne lank burgermeesterspaar van Bloemfontein.

Johnnie het begin skoolgaan in Kimberley en het in 1959 aan die Hoërskool Diamantveld gematrikuleer. Hy was ‘n goeie sportman en speel in die eerste rugbyspan.

Johnnie het sy liefde vir diere en boerdery by oupa Paai van Rensburg geleer en behaal na skool ‘n diploma in Landbou in Pretoria. Hy doen sy prakties by die proefplaas Koopmansfontein in die Noord-Kaap.

Intussen het die roeping om predikant te word, so sterk geword dat hy in 1964 BA (admissie) aan die UOVS in Bloemfontein begin studeer het. Hy werk deeltyds as opnameklerk by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. In die tyd oefen prof Koos (Calvyn) Lombard ‘n geweldige invloed op Johnnie se lewe en dogmatiese denke uit.

In 1968 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria en was in sy finalejaar redakteur van Deo Gloria, jaarblad van die fakulteit.

Hy word einde 1971 gelegitimeer in die historiese kerkgebou van Pretoria-Oos. Hy ontvang die aand van sy legitimasie ʼn beroep na NG gemeente Hartbeeshoek by Pretoria-Noord, en word op 18 Desember 1971 deur prof. HDA du Toit in die gemeente bevestig.

Hy werk vier jaar lank met oorgawe in die gemeente en is in die tyd verantwoordelik vir die reëlings rondom die Jeug-tot-Jeugaksie 1974 in Pretoria en omgewing. Dit  is ‘n belewenis wat ‘n diep indruk op sy menswees maak. In hierdie tyd is hy betrokke in ringsverband en daar ontstaan ‘n besondere verhouding tussen hom en ds. Dirk Viljoen.

Op 14 Maart 1975 word De Clerk leraar van die NG gemeente Waterkloof in Pretoria. Prof Johan Heyns was lidmaat hier en het sy ondersteuning en lojaliteit baie waardeer. In hierdie gemeente was ds. Johnnie verantwoordelik vir die jeug, ‘n terrein wat hy met oorgawe en vaardigheid hanteer het.

Op 3 Augustus 1979 word ds. De Clerk as leraar van die NG gemeente Thabazimbi bevestig — ‘n gemeente wat hy 19 jaar lank met oorgawe en liefde tot sy vervroegde emeritaat bedien. Voor sy koms, het die gemeente spanning en stryd rondom medeleraarskap beleef, maar met ds. Johnnie se koms is die skade herstel. Die gemeente het bestendig gegroei en daar was groot seën op sy werk. In sy tyd word ‘n saalkompleks gebou wat met reuse-basaars betaal is. Daar was ook twee groot skoolkoshuise op Thabazimbi, en hy kon hom uitleef in jeugbediening, met ongeveer 60 kinders jaarliks in die belydenisklas.

Op 1 Maart 1997 gaan Johnnie met vervroegde pensioen om aandag te gee aan sy ander liefde, boerdery. Sy vrou Magda skryf: “Hy het met ‘n melkery begin op ons plot net buite Thabazimbi. Hier produseer hy melk, kaas, joghurt, Amsi en ander produkte. Hy was altyd bereid om plotboere te help met KI (kunsmatige inseminasie). Waar die geleentheid hom voorgedoen het, preek hy in gemeentes, en is lank as emeritus-leraar in die NG gemeente Steenbokpan. In die nuusbrief van die Noordelike Sinode lees ons: “As emeritus het hy steeds ‘n waardevolle rol in die ring gespeel en gemeentes soos Limpopo, Dwaalboom en Northam kan getuig van sy liefdevolle bediening in die Koninkryk van die Here.”

Johnnie was 45 jaar lank gelukkig getroud met Magda Coreejes, ‘n maatskaplike werker. Vier kinders is uit die huwelik gebore, twee dogters en twee seuns. Die oudste dogter en haar gesin woon al agt jaar lank in Australië en die jongste seun en sy gesin 16 jaar lank in Amerika. Ds Johnnie was bevoorreg om agt van sy elf kleinkinders te doop, en hy hanteer self twee van sy kleindogters se voorbereiding vir belydenisaflegging in Australië.

Op 15 Maart 2011 is kolonkanker in ‘n gevorderde stadium by hom gediagnoseer. Hy bly op sy geliefde plot waar sy vrou hom met liefde versorg en hy op 4 Mei 2013 sterf. ‘n Roudiens is op 10 Mei 2013 in die NG gemeente Thabazimbi gehou. Die prediker was ‘n goeie vriend, ds. Cassie Carstens van Pretoria.

Magda skryf oor haar man: “Johnnie was ‘n vrolike, belangstellende gelowige vir wie die lees van die Bybel, teologie, goeie literatuur en enigiets oor die natuur, ‘n groot heerlikheid was. Hy was ook baie lief vir klassieke musiek en ‘n ywerige `gaarder’ ! Hy het seëls en munte versamel en geniet om daarmee te werk. Hy was baie lief vir aalwyne wat hy versamel, seker die Noord-Kaapse invloed op sy menswees.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM