gebore
18 Jul. 1928
OORLEDE
23 Mei 2002
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1952
ORDEN
1953
standplase
1953 Primrose-Heuwel
1957 Heilbron
1959 Vereeniging-Suid
1962 Lynnwood
EMERITEER
–
Prof William John Murray Janson (BA, BD, DD, HONS Sielk., MA Sielk.) 18/07/1928 – 23/05/2002
Die man met die goue stem preek nie meer nie, want sy stem het stil geword; die man met die fluweel-pen skryf nie meer nie, want sy pen lê stil op sy lessenaar, die “sielkundige van die volk” gee nie meer raad nie, die teoloog wat die Jesusvan die Skrif so vurig verdedig het, se geloof het in vervulling gegaan. Hy het die goeie wedloop afgelê, die wenstreep bereik en gelowig enduit volgehou. Die oorwinnaarskroon is reeds syne. Murray Janson is dood.
Adrio Konig skryf van hom: “Murray Janson was waarskynlik die grootste prediker wat die NG Kerk tot dusver opgelewer het. Hy het ‘n buitengewone preekstyl gehad wat gekenmerk is deur verrassende wendings en toepassings. Hy het die evangelie van genade en vergifnis gepreek, op die kansel en in sy studeerkamer. Talle en talle mense het wonderlike bevryding onder sy bediening beleef.”
Murray Janson was algemeen bekend weens sy rubriek “Sake van die Hart” wat dertig jaar lank in die gesinstydskrif Huisgenoot verskyn het. Hy was besonder diensbaar en was ‘n bekwame akademikus, skrywer, pastorale raadgewer en veral prediker.
Murray is op 18 Julie 1928 op Bijhrmansdrif in die destydse Wes-Transvaal gebore. Sy vader, Charles Alfred Janson, het eers geboer en later ‘n kateloppasser aan ‘n goudmyn geword. Sy moeder was Aletta Johanna Rossouw. Hy het die Bijhrmansdrif-laerskool (1934 tot 1939); die Pam Brink-laerskool op Springs (1940) en die Hugenote Hoërskool op Springs (1941 tot 1943) bygewoon en in 1945 aan die Hoërskool Lichtenburg gematrikuleer.
Hy het in 1947 ‘n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, die BD-graad in 1952 en in 1965 die DD-graad aan die Universiteit van Guttingen in Duitsland voltooi.
In 1974 het hy weer begin studeer en ‘n honneursgraad in Sielkunde aan Tukkies voltooi, en in 1976 ook ‘n MA-graad in Sielkunde verwerf. Hy het al sy grade met onderskeiding geslaag. As student het hy ook leiding geneem op kultuurgebied en was hy redakteur van die studentekoerant, Die Perdeby, en ook redakteur van die kampusse letterkunde-blad, Trek. Hy het ook as sekretaris in die huiskomitee van die Sonop-tehuis gedien, was lid van die studenteraad en voorsitter van die teologiese vereniging Deo Gloria. Vakansietye het hy in die myn op Springs gewerk.
In 1952 is ds Janson gelegitimeer en in 1953 in sy eerste gemeente, Primrose-Heuwel, bevestig. Terwyl hy in hierdie gemeente gedien het, het hy getrou met Retha Botha. Hulle het vier dogters, Charlotte, Alta, Marietjie en Heidi. Daar is reeds 11 kleinkinders.
In 1957 is hy in sy tweede gemeente, Heilbron, bevestig. Twee jaar later het hy ‘n beroep na Vereeniging-Suid aanvaar. Hier het hulle twee hartseer gebeurtenisse beleef: die Coalbrook-mynramp waarin 400 mynwerkers dood is en die Sharpvilleopstand wat ongeveer 3 kilometer van die pastorie af plaasgevind het. In hierdie gemeente het hy ook gehelp met die bou van ‘n kerk.
Sy vierde gemeente was Lynnwood in Pretoria waar hy in ApriL. 1962 bevestig is. Hy meld in sy biografiese vorm dat sy preek op 17 Februarie 1974 oor 1 Kor. 11 daartoe gelei het dat vroue nie meer hoede in die erediens gedra het nie. Hy het ook die sogenaamde “oliekolle-preek” hier gelewer wat gelei het tot die opening van die kerksaal vir swart lidmate.
Van 1963 af was hy vir agt jaar lank deeltydse dosent in Bybelkunde aan Tukkies. In 1972 is hy as skriba van die Sinode van Noord-Transvaal verkies. In hierdie tyd was hy so besig dat hy selfs by die groen tafel tydens die sinodesitting briewe van Huisgenoot-lesers beantwoord het. In 1999 is hy weer verkies as lid van die Moderamen.
Op 13 Februarie 1977 het hy emeritaat aanvaar om senior lektor by die Universiteit van Suid-Afrika te word, en in dieselfde jaar is hy aangestel as professor in Praktiese Teologie.
Hy het ook lesings voor CAPS (Christian Association for Psychological Studies) in Atlanta, Amerika, gelewer en het in April. 1984 lewenslange erelid van CAPS geword. In 1998 is hy benoem tot redaksielid van die tydskrif Journal for Psychology of Religion in Amerika en het hy verskeie artikels daarin gepubliseer. Hy het vyf artikels gelewer vir die Dictionary for Pastoral Care and Counselling wat in 1990 verskyn het by Abingdon Press in Nashville onder redaksie van prof Rodney Hunter.
In 2000 het hulle afgetree en in die Willow Haven-aftreeoord gaan woon. In hierdie tyd het hy ‘n pastorale spreekkamer vanuit sy huis behartig en talle kere in Afrikaanse TV- en radioprogramme opgetree. Hy het ook vir vier jaar lank ‘n weeklikse rubriek oor Radio Jakaranda aangebied.
Sedert sy studentedae was hy ‘n vrugbare skrywer oor verskeie onderwerpe. Sy BD-verhandeling het gegaan oor “Die verskynsels van duiwelbesetenheid in die lig van die Nuwe Testament”. ‘n Spoedskripsie vir sy DD het gegaan oor: “‘n Histories-kritiese verhandeling oor die Ordnungsteologie”, terwyl sy DD-proefskrif gehandel het oor: “Die bestaan van God: ‘n beoordeling van die huidige teologiese debat.” Vir sy MA-graad in Sielkunde was sy verhandeling oor: “Psigoterapie ten opsigte van ‘n a-tipiese geval van Annorexia Nervosa.”
Hy het ook talle populêre en teologiese boeke geskryf. Een van die eerstes wat hy geskryf het, was ‘n dun boekie Sodat ons weer waarlik kerk kan wees. Hierdie boek het groot invloed in die kerk gehad. En teen die einde van sy lewe het hy ‘n ander boek geskryf wat sekerlik nog lank ‘n groot invloed sal hê, Op soek na die ware Jesus. Twee boeke waaraan hy gewerk het tot voor sy dood, verskyn in 2002. Een daarvan is ‘n lewenskets wat eers voltooi is nadat hy in die hospitaal opgeneem is.
In 1993 is kanker by hom gediagnoseer en is hy twee keer daarvoor geopereer. In Oktober 2001 het hy egter gehoor dat hy terminaal siek is. Vir meer as ses maande het hy ‘n merkwaardige getuienis gelewer van ‘n Christen wat elke dag en elke uur met dankbaarheid leef. Sy geloof en berusting het die land aangegryp. Kersfees 2001 skryf hy dat hy die dag ten volle wil geniet saam met sy familie aangesien dit sy laaste Kersfees sal wees.
Op 23 Mei 2002 is hy oorlede in die Wilgers-hospitaal. Sy familie was by hom. Sy begrafnisdiens is deur prof Adrio Konig, ‘n jare lange vriend en kollega, gelei in die Lynnwood-gemeente. Murray Janson was ‘n mooi mens: uiterlik en innerlik. Hy was nederig en “soft spoken”, altyd hoflik en vriendelik. Hy kon om verskoning vra, selfs al was dit nie nodig nie. Die invloed van sy lewe, sy geskrifte en optredes het ‘n onuitwisbare indruk gemaak op duisende mense – veral omdat hy in die aangesig van die dood en in groot beproewing steeds juigend oor die Here getuig het en geleef het wat hy verkondig het. (Dirk Viljoen, as vriend en na aanleiding van sy biografiese vorm wat hy ingevul het op 22/02/2000, sowel as sy talle boeke en rubrieke en ‘n huldeblyk van Adrio Konig in Die Kerkbode.)