Jansen van Vuuren, Marthinus Gerhardus

 

GEBORE

8 Januarie 1950

ORLEDE

8 Februarie 2021

UNIVERSITEIT

BMil, BA, BDiv (SAW, US)(UP)

gelegitimeer

1993

ORDEN

1994

standplase

1994 Ventersdorp 

2013 Ruyterwacht

 EMERITEER

DS THINUS VAN VUUREN (BMil, BA, BDiv) 8 Januarie 1950 — 8 Februarie 2021

Marthinus Gerhardus Jansen van Vuuren is op 8 Januarie 1950 gebore in Pretoria. Sy ouers was Christoffel Johannes Janse van Vuuren en Maria Magdalena Janse van Vuuren. Thinus matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Jan Mohr in Windhoek en werk later as administratiewe klerk by die Vrystaatse Departement van Onderwys in Bloemfontein. Hy begin ‘n loopbaan as soldaat in 1970 by die SAW en studeer aan die Universiteit Stellenbosch van 1972 tot 1974 by die Militêre Akademie in Saldanhabaai waar hy die BMiI-graad verwerf.

Thinus trou op 17 Januarie 1976 met Marina van Vuuren, ‘n lewensmaat wat hom in sy weermagdae, studietyd en gemeentebediening in die NG Gemeentes Ventersburg en Ruyterwacht bystaan. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Arno, Janine, Mariette en Jaco.

Michael Beukes, jeugwerker en prediker by Goodwoodpark, skryf oor ds Thinus: “Voor hy begin swot het vir predikant, het hy altyd self gesê: Ek was ‘n gewone voetsoldaat in die SA Weermag. God het my geroep tot die bediening toe ek ‘n voltydse soldaat was en ek is die geleentheid gegun om getrou aan God se roepstem te swot terwyl ek ‘n soldaat was.” In 1987 word hy weer student toe hy aan die Universiteit van Pretoria studeer en na sy voorstudie toegang kry tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies waar hy die BD i v-graad verwerf en aan die einde van 1993 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer word.

Prop MG Jansen van Vuuren ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Ventersdorp in die Wes-Transvaal, waar hy in die lente van 1994 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy is nie ‘n jong student wat afgestudeer het en vir die gemeentebediening gereed is nie, maar ‘n hardebaard proponent met die regte agtergrond en ervaring vir die gemeente in die dorp Ventersdorp. Die dorp is oor die land heen bekend vanweë die regse politieke sentiment en ook die Slag van Ventersdorp. ‘n Paar jaar tevore het regse inwoners op 9 Augustus 1991 tydens ‘n besoek van president FW de Klerk, slaags geraak met die Polisie en in die skermutseling het mense gesterf. Ventersdorp is beskou as die hoofkwartier van die AWB en hulle leier Eugene Terreblanche.

Ds Thinus van Vuuren het sy roeping as bedienaar van die Goddelike Woord in die NG Gemeente Ventersdorp ernstig opgeneem en het die lig van die evangelie brandend gehou. Met oorgawe en volharding het hy sy pad geloop en as man van God was hy gedissiplineerd, lojaal en pligsgetrou aan die roeping van die Here om as dienskneg die gemeente en gemeenskap te dien. Ds Thinus was nederig, gestruktureerd, netjies en passievol in alles wat hy gedoen het. Sy energie vir sy passie het nooit opgeraak nie en hy kon aanhou en aanhou werk. Daar word vertel dat hy op die kansel van die kerk op Ventersdorp ‘n hartaanval gekry het, maar steeds aangehou het om te preek. Dit was tekenend van ds Thinus van Vuuren. Op Ventersdorp het hy alle kerklike seisoene beleef en die Here beskik dat hy twintig jaar lank die gemeente bedien tot met sy vertrek in 2013.

‘n Roepstem kom na die NG Gemeente Ruyterwacht in die Kaapse Skiereiland, vroeër bekend as die gemeentes Epping en Epping-Wes. Die gemeente beleef ‘n krisistyd in sy bestaan en met die bevestiging van ds Thinus van Vuuren op 1 Junie 2013 begin ‘n nuwe hoofstuk in die gemeente se geskiedenis. Met sy menslikheid en vlymskerp onderskeidingsvermoë staan ‘n nuwe gemeente uit die stof op.

Ds Thinus het op voetsoolvlak mense nadergetrek om deel te wees van ‘n liefdesgemeenskap en word later bekend as die Rooimat-gemeente waar almal belangrik is. Jesus se laaste opdrag om die evangelie na al die nasies te verkondig en te bemagtig, is die hoofstroom van sy bediening Dit word mettertyd ‘n gemeenskapskerk, waaroor Michael Beukes skryf: “Thinus het mense bemagtig om God te dien, maar as daar ‘n vloer was om gevee te word of ‘n kommissie om te bestuur tot daar ‘n geskikte persoon was, het hy self ingestaan. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy en sy vrou Marina het die gemeente Ruyterwacht opgebou uit die as. Hy was ‘n man wat ek met die woord `bou’ assosieer. Hy het God se koninkryk gebou in Ruyterwacht.”

Ds Thinus sterf skielik op 8 Februarie 2021 aan ‘n aneurisme, wat die gemeentelede van die “Rooimat-gemeente” stom gelaat het. ‘n Begrafnisdiens word op 17 Februarie 2021 in die Covid-19-tyd gehou waar afskeid geneem word van ‘n unieke man van God. Die pamflet met sy foto op lees: “Lig, lag, leef. Vandag celebrate ons ‘n officer and a gentleman.” Ds Kobus Schoeman lei die roudiens en ds Gerhard van der Merwe lewer ‘n huldeblyk. Sy vrou Marina en kinders onthou: “My man, ons pa en oupa Thinus was een van die min mense wat hulle woorde uitgeleef het. Sy woorde: Bring liefde waar jy ookal gaan. Wees lig waar ookal die donker is. Laat seëninge agter waar ookal jy was. Wees goed en gaaf waar ookal jy is. Hy was goed, gaaf, liefde en ‘n seën in ons almal se lewe.” Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 410)