Janse VanResnburg, Frank

gebore

12 Sep. 1933

OORLEDE

16 Des. 1994

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Frank Janse Van Rensburg is op 12 September 1933 op Groot-Brakrivier gebore as die jongste van drie kinders – die enigste seun van oom Frank en tant Dorothy. Sy twee susters Eunice en Desere oorleef hom.

Nadat hy aan die Hoërskool Outeniqua op George matrikuleer het, studeer hy aan die Sendinginstituut. Hy was ‘n kranige rugby- en hokkiespeler en daarby ook ‘n knap student. Aan die einde van 1957 word hy tot die bediening toegelaat.

Sy eerste gemeente is ‘n kombinasie Sendinggemeente Oos-Londen-Komgha-King Williamstown (KWTOWN); Hy tree in dier huwelik met Huliette Duckitt, wat ook op Wellington gestudeer het as onderwyseres. Hulle volgende gemeente was Grabouw. Twee kinders word uit hulle huwelik gebore, naamlik Frank en Caena. Daar is ook een kleinkind Frank, die seuntjie van Frank en Sandra.

Vanaf Grabouw verskuif hulle na Eendekuil voordat hy in 1970 ‘n beroep na die Moedergemeente op Keetmanshoop aanvaar het. Van daar verskuif hy in 1975 na Bethanie waar hy tot met sy aftrede weens oogprobleme op 1 Desember 1991 sy eintlike groot werk in diens van die Here verrig.

Frank was ‘n uiters begaafde prediker, Hy het die vermoë gehad om mense se behoeftes te peil en die Woord van God te gebruik om juis daardie behoeftes aan te spreek. Hy het veral ‘n besondere slag gehad om met jong mense te werk.

As medeleraar was hy ondersteunend en baie lojaal. In die diens van die Here was toegewyd en selfopofferend. Op die breër kerklike terrein het hy hom veral vir die sending beywer en was hy ‘n dryfkrag agter sendingaksies onder die Nama-bevolking in die Suide van Namibië. Hy was van mening dat plaaslik ‘n wye veld vir die sending braak gelê het. Onder sy leiding word die Gesamentlike Sendingkommissie in 1976 gestig om sending onder die Namas en Kleurlinge te doen.

Sy begenadigde egtheid en opregtheid en eenvoud het hom ‘n besondere persoon gemaak. Geliefd en geëerd in die omgang maar ook ‘n gedugte teenstander in sy verdediging van sy geloof en die belydendes. Die laaste jaar van sy bediening het sy oë hom baie probleme besorg – in so ‘n mate dat hy gedwing was om die tuig neer te lê in Desember 1991. Hy sou Mei-maand 1995 terugtrek na sy geliefde Groot Brakrivier waar hy grootgeword het ..maar dit het sy Heer en Meester anders behaag.

Naas sy twee susters laat hy sy vrou, Huliette, kinders Frank en Carena, skoondogter, Sandra en kleinseun, Frankie, na.

Sy laaste preek het hy op 11 Desember 1994, vyf dae voor sy dood, gelewer, toe hy ‘n dogter (Franette Minnaar) wat hy sewentien jaar tevore gedoop het, se belydenis van geloof behartig het. Sy teks by die geleentheid was Ef 2:4: `Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings saam met Christuslewend gemaak. Uit genade is julle gered!’ – Ds Pieter Franzsen.