gebore
28 Mrt. 1918
OORLEDE
05 Okt. 1997
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1947
ORDEN
1948
standplase
1948 Bethal
1948 Forest Hill
1956 Durban-Sending
1960 Cachet (Sendingopdrag Germiston)
1962 Cachet
1965 Trompsburg
EMERITEER
–
Ds. Roelof Johannes Janse Van Vuren (BA) 28/03/1918 – 05/10/1997
Roelf Van Vuren sal om baie redes nie gou vergeet word nie, maar veral sal hy onthou word vir sy minsaamheid en sy diens aan die sending, en dan veral as predikant in sinodale diens van die Sinode van Oranje-Vrystaat met opdrag: organiserende sendingsekretaris (waar hy saam met ds. David Snyman ʼn gedugte span gevorm het).
Roelf was die seun van Oom Roelf van Vuren van die plaas Bosmanskrans, naby Hendrina, distrik Ermelo waar hy ʼn ge¬siene boer en lojale lidmaat was en wat 100 jaar oud geword het. Roelf was reeds. die vyfde geslag met dieselfde doopname en hy laat ʼn seun en ʼn kleinseun agter wat ook Roelof Johannes heet. Op die plaas het hy van vroeg af Swazi en Zoeloe leer praat. Hy het eers na ʼn plaasskooltjie `De Wittekrans’ (*1926-1928) en later Estancia (distrik Ermelo) se laerskool (*1928- 1932) gegaan. Hy het sy hoërskooljare (*1933-1937) op Ermelo deurgebring. Na sy matriek is hy eers na die Universiteit van Pretoria (*1938-1941) waar hy sy BA- graad in 1941 behaal het. Om finansiële redes het hy eers in die Staatsdiens, in die Departement Volkswelsyn en as Staatsvertaler (*1942 – 1943); gaan werk. Terwyl hy by Tukkies studeer het, het hy in die bestuur van die Sosiologiese Vereniging en is redaksielid van die studenteblad gedien. In 1944 is hy na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, en in 1947 is hy gelegitimeer.
Op 1 Januarie 1948, net voordat hy na sy eerste gemeente gegaan het, is hy met Johanna Isabella Barnard (Hanneke) getroud. Op 20 Maart 1948 is hy op Bethal georden en bevestig. Hy het egter nie lank in hierdie gemeente gebly nie, want hy het ʼn beroep na die NG Gemeente Forest Hill in Johannesburg ontvang, wat in daardie stadium reeds. dertien maande vakant was en hy was die sesde persoon wat beroep is. Aangesien dit nog ʼn nuwe gemeente was wat geen kerkgebou gehad het nie, en hulle in ʼn stadium in die Gereformeerde kerkgebou dienste gehou het, is dadelik begin met die bou van ʼn kerksaal wat op 10 Oktober 1949 in gebruik geneem is. Aangesien hulle aanvanklik in ʼn huurhuis moes woon, is ʼn pastorie ook hier opgerig. Na agt jaar is ʼn besondere werkkring aan hom toevertrou, naamlik die Sendinggemeente van Durban, waar hy bruinmense, Indiërs en swartmense moes bedien. Die gemeente het die hele kusgebied ingesluit asook die bearbeiding van gevangenes. Terselfdertyd washy studenteleraarby die Universiteit van Natal. In daardie tydhethy ookdeeltydse Zoeloe-klasse by die Natalse Tegniese Kollege aangebied. Hy was die eerste sendeling wat in Durban woonagtig was en was ook assessor van die Sinode van die NGKA in Natal vanaf 1959 tot 1960 sowel as lid van die Eksamenkommissie vir evangeliste in Dingaanstat.
Vanaf hierdie werkkring het hy op 16 April 1960 na die Sendinggemeente van Germiston gegaan. In hierdie tyd het hy die kerkgebou en pastorie help oprig vir die NGKA-gemeente Thokoza in Alberton. Na drie jaar het hy ʼn beroep na die NG Gemeente Trompsburg aanvaar (7 Augustus 1965); Hier het hy ook diep spore getrap en onder andere in die Sinodale Sendingkommissie van die Oranje-Vrystaat gedien. Hy was ook voorsitter van die skoolraad van Fauresmith en hulle wou selfs ʼn skool na hom vernoem, maar hy het dit afgewys.
Na vier jaar is hy terug na die Rand (26 September 1969) toe hy na die NG Gemeente Turffontein in Johannesburg be¬roep is. In Suid-Transvaal het hy in die Dagbestuur van die Randse Armesorgraad, die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid, die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake, die Sinodale Jeugkommissie en ook as redaksielid van die Die Voorligter gedien. Hy het ook, op versoek van die Sinodale Sendingkommissie, ʼn reeks van vier preekbundels in Zoeloe vertaal, naamlik `Die Lewende Woord’ of `Izuwi Eliphilayo’ .
Sy taalvaardigheid, sy kennis van die kultuur van die swartmense, sy duidelike sendingywer en bekwaamheid is deur die kerk raakgesien en daarom is hy deur die Vrystaat benoem as organiserende sendingsekretaris, ʼn pos waarin hy op 1 Januarie 1973 begin werk het. In hierdie tyd het hy onberekenbare werk in belang van die koninkryk gedoen. Hy word onder andere vir twee maande gesekondeer om te help met die Christelike Lektuurfonds. (CLF); Hy het ook in talle gemeentes van die kerk dienste gehou om die CLF, wat baie na aan sy hart was, te propageer. Hy het ʼn groot sukses gemaak van sy werk as sendingsekretaris en was ʼn gewaardeerde lid van die Algemene Sendingkommissie.
In al hierdie bedrywighede het sy eggenote, Hanneke, hom getrou bygestaan. Hulle het vier seuns, naamlik Roelof, Johannes, Carel en Louis, gehad. By sy heengaan was hulle al vier reeds. getroud en in goeie poste gevestig. Daar was al 14 kleinkinders. Terwyl hulle nog in Bloemontein gewoon het, het Hanneke in 1978 siek geword aan kanker van die pankreas en hy moes haar tot in 1981 versorg toe sy op 9 Junie 1981 oorlede is.
Sy lewe het egter weer na normaal teruggekeer toe hy met Hyla Levina Wessels, dogter van ʼn boer van Ladysmith, op 3 Augustus1982 in die huwelik getree het. Laasgenoemde huwelik was ook baie gelukkig en sy het hom tot die einde toe bygestaan en gelukkig gemaak.
Roelf van Vuren emeriteer op 30 November 1984, maar dit het glad nie beteken dat hy gaan stilsit het nie. Hulle het eers in Bloemfontein gewoon en daar was hy voltydse hospitaalleraar tot in 1987. Daarna het hy nog afloswerk as hospitaal-leraar tot in 1991 gedoen. In die NG Gemeente Heuwelsig was hy leierouderling en voorsitter van die Sendingkommissie, dien in die Dagbestuur van die Sinodale Sendingkommissie en in die Ringsendingkommissie. Hulle het in 1991 na Wapadrand in die NG Gemeente Tygerpoort, Pretoria, verhuis en hier was hy ook voorsitter van die Sendingkommissie tot in 1994.
Hy was geseënd met ʼn opgewekte lewenslus en het nog op 79-j arige leeftyd op 31 Augustus1997 sy laaste oortuigende sendingpreek gehou oor `Is sendingwerk die moeite werd?’ in die gemeente Valhalla-Suid. Sestien dae rth hierdie preek het hy onverwags sy eerste hartaanval belewe en tydens die ondersoek, ʼn massiewe beroerte. Na nierversaking is hy op 5 Oktober stil oorlede.
Roelf was ʼn rustige, fyn-opgevoede en beminlike man, groot in voorkoms en in persoon. Hy het opreg in sy medemense belanggestel en na hulle uitgereik. Hy het ʼn fyn humorsin gehad en het nie net in die ernstige dinge belang gestel nie, maar ook in sport, veral rugby. Hy het vir een van Stellenbosch se spanne gespeel en ook die Hoërskool Falckel in Johannesburg se skoolspan afgerig. Tot op 50-jarige ouderdom was hy skeidsregter en hy het tot op 75-j arige ouderdom gholf gespeel. Hy was ʼn wonderlike pa en oupa wat baie trots was op sy familie.
Hierdie waardige dienskneg van die Here word beslis hier op aarde gemis, maar in die hemel is daar blydskap oor sy tuiskoms en hy het sekerlik gehoor: `Mooi so, goeie en getroue dienskneg – Dirk Viljoen, na aanleiding van ds. Van Vuren se biografiese vorm, wat deur sy eggenote, Levina, voltooi is. Sy het hom ook van ander waardevolle informasie en stukke voorsien.