Janse Van Vuuren, Roelof Jakobus

 

gebore

17 Des. 1922

OORLEDE

24 Jun. 1992

UNIVERSITEIT

BA (Honns), BD

gelegitimeer

1961

ORDEN

1962

standplase

1962 Sterkstroom

1966 Touwsrivier

Queenstown

Colesberg

EMERITEER

Ds. Roelof Jakobus Janse Van Vuuren, BA (HONS); BD, (17.12.1922-24.06.1992); Op 24 Junie is ds. Roelof van Vuuren, ʼn bekwame, toegewyde en beminde dienskneg van die Here, op 70-jarige leeftyd oorlede.

Roelof Jakobus Janse van Vuuren, ʼn Karooseun van geboorte, het hom aanvanklik as onderwyser bekwaam. Nadat hy etlike jare lank onderwys gegee en ook in die Rietbron-distrik geboer het, word hy deur die Here geroep om bedienaar van die Woord te word. Nadat hy sy teologiese studies met onderskeiding voltooi het, word hy in 1962 in die gemeente Sterkstroom in Oos-Kaapland georden. Vervolgens bedien hy die gemeentes Touwsrivier, Queenstown en Colesberg. In 1986, kort voordat hy sou emeriteer, het hy ʼn ernstige beroerte-aanval gehad waarna bykans ses jaar van lyding gevolg het.

Ds. Van Vuuren was ʼn veelsydige mens. Hy was geseënd met ʼn geniale verstand en ʼn helder insig. Daarby was hy bekend vir die pligsgetrouheid waarmee hy sy roeping vervul het, asook vir die feit dat hy nie vir uitdagings teruggedeins het nie.

Hy was selfs “die vlieënde dominee” genoem aangesien Die Burger van 30.1O. 1969 berig het dat hy al meer as 120 vliegure voltooi het.

In 1982 het hy ook sy B.Proc-graad verwerf.

En tog sal hy ook onthou word vir sy beskeidenheid. Hy wou nooit dat die lig op homself val nie, alleen maar op sy Here. Sy vroom, toegewyde lewenswandel en sy minsame omgang met mense het eweneens na Christus gewys.

Tereg is by sy begrafnis die opmerking gemaak: “Elke gemeente waar hy gestaan het, sal moet erken dat daar ʼn profeet in hulle midde was.” (- dr Christie Stodart)

Die In Memoriam-stukke is byeengebring deur ds. D J Viljoen. (Jaarboek 1993).