Janse Van Vuuren, Pieter Petrus

 

gebore

9 Jul. 1954

OORLEDE

1 Mrt. 1989

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1982

ORDEN

1983

standplase

1983 Randfontein-Wes

Apr. 1986 Petrus Steyn

EMERITEER

Ds. Pieter Petrus Janse Van Vuuren (9.7.1954-1.3.1989) is in Oos-Londen gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Dr Malan, op Meyerton waar sy vader prokureur en L P R was. Nadat hy sy diensplig voltooi het, begin hy regte studeer aan die Universiteit van Pretoria. Hy verander egter sy kursusna twee jaar na BA Admissie om hom vir die evangeliebediening voor te berei. Hy verwerf die grade BA en BD en die Nagraadse Diploma in die Teologie aan Tukkies. Hy word in 1982 gelegitimeer. Op 23 Januarie 1983 word hy in die gemeente Randfontein-Wes ontvang waar hy gearbei het tot April 1986 toe hy die beroep na PetrusSteyn aanvaar het. Dis veral op PetrusSteyn waar hulle besonder gelukkig was en waar die Here hom met groot vrug gebruik het. Ds. Van Vuuren het in die RKAE en RJK gedien. Hy was ook die skriba van die Ring van Heilbron. Verder was hy primariuslid van die ring in die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake. Die ring sal hom onthou as ʼn lojale en minsame kollega wat op sy stil manier ʼn groot krag was. Benewens sy werkywer, kon hy ook volkome ontspan. Hy was ʼn kranige voetslaner en het menige roete afgestap. Daarby het hy ʼn besondere voorliefde vir die Drakensberge gehad en het in elke moontlike weersomstandigheid die uitdaging wat die berg ingehou het, aangepak. Ds. Van Vuuren was ʼn sportman en het hom voorberei vir ʼn driekamp; draf, fietsry en roei toe hy op 1 Maart 1989 verdrink het, nadat sy kano omgeslaan het in die Liebenbergsvleirivier wat in vloed was. Van hom kan gesê word dat hy voluit gelewe het. Wat hy wou gedoen het, het hy gedoen toe hy kon. Hy word oorleef deur sy eggenote, Hantie de Klerk, en drie kinders. (Jaarboek 1990).