Janse Van Vuuren, Johannes Gerhardus

 

gebore

18 Jun. 1920

OORLEDE

19 Sep. 2001

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1944

ORDEN

1945

standplase

 1945 Kaapstad

1954 Caledon

1963 Kaapstad

EMERITEER

1986

Oom Jan van Vuuren (soos hy later jare bekend was) is op 18 Junie 1920 op Kruisrivier in die Uitenhage-distrik gebore. Hy het in 1937 matriek aan die Engelse hoërskool op die dorp geslaag.

Jan het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en die BA-graad verwerf, en is in 1944 na studie aan die Kweekskool op Stellenbosch gelegitimeer. Hy was ʼn ywerige sportman en was onder andere kaptein van Maties se hokkiespan.

Tydens sy studiejare het hy vir Marie (Maria Magdalena) de Villiers ontmoet wat in 1943 ʼn BA-graad in Maatskaplike Werk voltooi het. Haar eerste pos was op Malmesbury by die ACVV en Child Life. Daarna het sy as rondreisende sekretaresse van die ACVV in die Paarl gewerk voor hulle in 1945 getroud is. Marie van Vuuren was later voorsitter van die Vroue-Sendingbond in die Wes-Kaap en het in die beheerrade van Bybelkor, die Hugenote-Kollege en die Minnie Hofmeyr-Kollege gedien.

Jan en Marie het vyf kinders gehad: Helize (ʼn bekende akademikus); Pieter (ʼn predikant in Harare); Dawid (ʼn landboukundige en boer van Kakamas); Johan (‘ n geoktrooieerde rekenmeester) en Gerrit (ʼn prokureur op Ceres); Daar is ook agt kleinkinders.

Behalwe vir ʼn onderbreking van nege jaar toe hy in Caledon gewerk het, het ds. Van Vuuren sy hele bediening in die Groote Kerk, Kaapstad, deurgebring. Hy is in Augustus 1945 in Kaapstad georden en bevestig nadat hy sedert April in die gemeente uitgehelp het. Na nege jaar het hy ʼn beroep na Caledon aanvaar, waar hy op 17 Julie 1954 bevestig is. Op Caledon het ds. Van Vuuren gehelp met die bou van die kerk en was hy in 1961 voorsitter van die 150-jarige fees van Caledon. In 1963 het Groote Kerk se kerkraad hom terugberoep. Hy was vir ʼn verdere 23 jaar in die gemeente totdat hy in 1986 emeritaat aanvaar het.

Ds. Van Vuuren het huisbesoek met sy bromponie gedoen en was ʼn bekende gesig in die omgewing. Daar is selfs ʼn foto waar hy die gerespekteerde dr AJ van der Merwe agter op sy bromponie vervoer het. Sy preke was eenvoudig, maar mense het dit jare daarna nog onthou.

Hy het die vermoë gehad om te kon onderskei tussen dit wat belangrik, en dit wat nie so belangrik was nie. Hy het ook die insig gehad om sy tyd goed te benut. Vir ds. Van Vuuren was dit baie belangrik dat gelowiges vrug gedra het wat by hulle bekering pas. In sy afskeidsboodskap aan die gemeente het hy gesê hy sal bid vir “wat nog nie tot geloof gekom het nie”. Hy het ook gereeld boodskappe oor die radio gelewer. As toegewyde gemeenteleraar het hy veral die belange van werkende jongmense en bejaardes op die hart gedra.

Sy plaasskoling in die laaste jare van die depressie en droogte in die jare dertig het hom handvaardig gemaak. Hy het feitlik eiehandig sy strandhuis op Franskraal gebou, en was ook betrokke by sportafrigting, tennis, hengel, jag en rolbal.

Hy het goed met sy kollegas klaargekom. Onder hulle was dr AJ van der Merwe, di Jac Conradie, Kobus van der Westhuyzen en Johan Botes. Hy het die gawe gehad om dinge maklik te laat lyk. Sy uitbundige lag het die duiwel sommer met ʼn hele klomp moeilikheid op die vlug gedryf. Sy positiewe en blymoedige geaardheid en sy optimisme en ondeundheid het van hom ʼn uitstekende vriend en pastor gemaak.

Sy kleurryke geaardheid en onkreukbare optrede het gemaak dat van hom geskryf is: “Johannes Gerhardus Janse van Vuuren was deel van die Kaap en die Groote Kerk, net soos die nat en die wind deel van die Kaap is”.

Hy was onder andere voorsitter van die Ringskommissie, die Skoolraad, die SAUK se Kerkdienstekommissie, die Sinodale Radiokommissie en die Inligtingskommissie. Hy het ook in die Kommissie vir Toesig en Kontrole van die Sinode gedien.

Na sy aftrede het hy en sy vrou hulle in die Strand gevestig. Nadat Marie siek geword het, het hulle na die Altena-aftreeoord verskuif. Marie is in 1996 oorlede en kort daarna het Jan beroerte gehad. Dit was vir hom ʼn aanpassing om met ʼn rolstoel oor die weg te kom. Oom Jan is op 10 September 2001 oorlede.

Die herinnerings aan hierdie veelsydige mens sal nog lank by die NG Kerk bly. (Dirk Viljoen, aan die hand van verskillende huldigingstukke oor hom en ʼn CV voorsien deur Johan van Vuuren.) (Jaarboek 2002).