Hugo, Gideon Jozua

Ds GJ Hugo

gebore

18 Nov.1864

OORLEDE

29 Jul. 1933

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1889

ORDEN

1890

standplase

 Sutherland

1895 Riebeek-Wes

1903 Vredenburg

1908 Colesberg

1915 Tulbagh

1921 Porterville

1930 Vandermerwe

EMERITEER

1933

Ds. GJ Hugo + 29/7/1933 * 18/11/1864 ds. Gideon Josua Hugo werd op 18 November 1864 in Dal Josafat gebore. Toe hy die matrikulasie-eksamen in 1884 aan die Jongenskool op Wellington en twee jaar later die Admissie-ekamen op Stellenbosch afgelê het, is hy aan die Kweekskool tot die evangelie-bediening opgelei. Na volbragte studie is hy op sy verjaarsdag in 1889 gelegitimeer en onmiddellik daarna het hy ‘n beroep aangeneem na Sutherland, waar hy op 18 Januarie 1890 bevestig is. Hy het vyf jaar op Sutherland gearbei en toe agtereenvolgens die volgende gemeentes bedien: Riebeek-Wes (18951903); Vredenburg (1903-1909); Colesberg (1909-1915); Tulbagh (1915-1921); Porterville (1921-1929); en Vandermerwe (1929-1932); Dit was almal ou gevestigde gemeentes, behalwe Vredenburg en die laasgenoemde, waarvan hy die eerste predikant was. Terwyl hy op Riebeek-Wes staan het die Anglo-Boere Oorlog gewoed en as gevolg daarvan het ‘n aantal Transvaalse burgers na Portugal uitgewyk waar hulle onder internasionale wet beskerming geniet het en toe is Ds. Hugo gevra om hulle daar te gaan besoek en bearbei, wat hy ses maande lank gedoen het. In die tyd het hy heelwat Europa gereis, wat vir hom uit die oogpunt van ondervinding baie beteken het. Algaande het Ds. Hugo deur ‘n ernstige evangelieprediking, ‘n waardige wandel en getroue arbeid vir homself, sonder dat hy dit gesoek het, ‘n invloed verower wat in die Sinode van 1928 uitgeloop het op sy verkiesing tot Moderator – die hoogste en eervolste betrekking wat die Kerk hom kon aanbied. Reeds lank tevore was sy waarde en betekenis ingesien en opgemerk, waarvan as bewys genoem kan word sy benoeming as lid van die belangrikste kerklike kommissies soos bv.: Die Kuratorium van die Teologiese Seminarie, Raad van die Kerke, Kerkbode kommissie, Kerkkantoorkommissie, Armsorg, Arbeidskolonie, Hulpbehoewende Gemeentes. En dat hy in 1932 deur die Sinode as Moderator herkose is, bewys dat die vertroue wat die Kerk in hom gestel het, nie misplaas was nie. In al sy menigvuldige werksaamhede is hy op ‘n waardige en getroue wyse ondersteun deur sy eggenote, geb. Neethling, wat hom na ‘n gelukkige egverbintenis van meer as veertig jaar ontval is op 30 Januarie 1932. Die volgende jaar het hy sy emeritaat aanvaar en op 29 Julie 1933, onder blyke van hartlike belangstelling op Ceres, hertrou met Mevr. Wed. H. E. Steyn: dog hierdie troudag was ook sy sterfdag, want dieselfde aand is hy plotseling op Gordonsbaai as gevolg van hartverlamming ontslape en sy ewige rus ingegaan. Ds. Hugo was ‘n gawe van God aan die Kerk ‘n man wat aan buitengewone talente van gesonde verstand en heldere deursig innige godsvrug en ‘n mensliewende karakter gepaar het. Hierdie talente het veral tot openbaring gekom tydens sy herhaalde Moderatorskap, toe die Kerk in een van die moeilikste periodes van sy geskiedenis behoefte gehad het aan duidelike leiding en kalme dog besliste voorligting. Die Heer het aan die ontslapene in hierdie tydsgewrig groot genade verleen om met gematigheid en tog ook met beslistheid op te tree, waardeur hy dan ook die agting van alle gelykgesindes in ruime mate verwerf het.