gebore
12 Jun. 1927
OORLEDE
13 Des. 1996
UNIVERSITEIT
BA; BD (US)
gelegitimeer
1952
ORDEN
1953
standplase
1953 Warmbad, S.W.A.
1958 Greyton
1962 Sendingkerk: Windhoek-Walvisbaai-Gobabis Kombinasie
EMERITEER
20 Junie 1992
Ds George Euvrard Hugo BA, BD 12.06.1927 – 13.12.1996
Op 12 Junie 1927 aanskou George Euvrard die eerste lewenslig op Worcester as die middelste van drie seuns.
Na voltooiing van sy teologiese opleiding werk hy as proponent in die gemeente Namakwaland (in Springbok) voordat hy in 1954 in die destydse Suidwes-Afrika in die gemeente Warmbad georden word. Hier sou hy vier jaar werk voordat die bedieningspad hom na Greyton lei vir die volgende hoofstuk van sy lewe wat vier jaar sou duur.
In 1962 aanvaar ds Hugo ’n beroep na die voormalige Ned Geref Sendingkerk se gemeente-kombinasie Windhoek-Walvisbaai. Tot in 1976 was hy ook verantwoordelik vir die gemeente Gobabis. Gedurende die veertien jaar werk hy letterlik van die oosgrens van Suidwes-Afrika tot aan die wesgrens by die see. Vanaf 1981 tot met sy emeritaat in 1992 het hy die bykomende verantwoordelikheid van die Okahandja-gemeente ook bygekry.
Op 20 Junie 1992 sluit ds Hugo ’n ryk en vol bediening van 39 jaar af met die aanvaarding van sy emeritaat. Vir hierdie bykans vier dekades het hy slegs vier jaar buite Suidwes-Afrika (tans Namibië) deurgebring.
Ds Hugo het Maretha Conradie (dogter van ds WS Conradie) reeds in haar Standerd 9-jaar ontmoet.
Ds Hugo tree op 8 Mei 1953 op Stellenbosch met Maretha in die huwelik. Saam het hulle agt kinders grootgemaak: vier seuns en vier dogters. Die eerste drie kinders (Daniel, Willem en George) is tydens die dienstyd in Warmbad gebore. Karen (nou Minnaar) en Pieter is tydens die Greyton-jare gebore. Dit is ook hier (in 1961) dat Yvonne Esbach (net voor haar 14de verjaarsdag) in pleegsorg geneem is. Nog twee dogters, Margaretha (nou Barnard) en Heloïse (nou Labuschagne) is in Windhoek gebore.
In 1977 loop die Hugo’s ’n swaar pad met die afsterwe van George junior.
Ds Hugo was met ’n pragtige sangstem geseën. Hierdie talent leef hy met oorgawe uit deur sy lidmaatskap van nie net sy gemeente se kerkkoor nie, maar ook van die Cantare Audire-koor in Windhoek.
Sy besondere leierskap-eienskappe en bereidheid om te dien, is spoedig deur die gemeenskap raakgesien. Gedurende sy lang verblyf in Windhoek dien hy in die komitees van Ehafo (’n vereniging vir gestremdes); die Namibiese Bybelgenootskap, die Khomasdal-Welsynsvereniging en AD (’n alkoholiste vereniging).
Vir die Afrikaanse taal was ds Hugo hartstogtelik lief. Geen wonder nie dat hy ook meester was van die gebruik daarvan. Die Afrikaanse Radiodiens van die Namibiese Uitsaai-korporasie het hom sedert sy aftrede meermale ingespan. Vroeg op ’n Sondagmôre het hy met ’n stemmingsprogram van Skriflesings en musiek ’n kragtige bydrae gelewer om ’n rustigheid in die luisteraar se gemoed te bring. Sy liefde vir sy taal het ’n hoogtepunt bereik in sy aktiewe meewerking aan die stigting van ’n Afrikaanse Taalvereniging in Windhoek. Van hierdie vereniging sou hy die eerste voorsitter word – ’n posisie wat hy met onderskeiding beklee het tot enkele maande voor sy dood.
Sedert sy aftrede het sy kerklike betrokkenheid nie uitgebly nie. In die gemeente waar hy dertig jaar predikant was, het hy diens gelewer as registerhouer en vir die NG Kerk het hy op ’n deeltydse grondslag gehelp met die ordening van die Sinodale Argief. Stilsit het George Hugo nie geken nie.
Op 13 Desember 1996 word George Euvrard Hugo gehaal om intrek te neem in die Vaderwoning met die baie kamers. Hy sterf in Kaapstad tydens ’n hartomleidingsoperasie. Hy laat sy eggenote Maretha, sewe kinders en sewe kleinkinders agter. – (Ds Clem Marais en met aanvullings deur Karen Minnaar).