Hofmeyr, Adriaan Jacobus Louw

gebore

13 Apr. 1854

OORLEDE

1 Mei 1937

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1879

ORDEN

1881

standplase

1881 Willowmore

1883 Prins Albert

1895-1899 Wynberg

1926 Heilbron (Hpr.)

1928 Kuruman

EMERITEER

1933

Ds. Adriaan Jacobus Louw Hofmeyr, B.A., was ‘n seun van ds. (later Prof.) N. J. Hofmeyr, wat toe die seun op 13 April 1854 op Calvinia gebore is, daar predikant was en ook die plaasnaam so na Calvyn genoem het waar dit vroeër Hantam geheet het. Hy het sy opleiding onder sy vader en Prof. John Murray op Stellenbosch ontvang en het die volgende gemeentes bedien Willowmore (1881); Prins-Albert (1883); Wynberg (1895-99) en Kuruman (1928); Jare lank het hy gedien as ringskriba en eksaminator by die Admissie-eksamen. In 1933 het hy emeritus geword en op 1 Mei 1937 is hy op Bellville sy ewige rus ingegaan.

Ekstra:

Ds. A.J.L. (Attie) Hofmeyr, ’n geliefde maar omstrede NG predikant, bekend as een van die Kerk se welsprekendste en boeiendste leraars asook ’n politieke agitator, is op hierdie dag in die pastorie op Calvinia gebore as ’n seun van ds. (later prof.) N.J. Hofmeyr en Maria Magdalena, een van sewe Louw-susters van die Paarl wat met ’n predikant getrou het.
In ds. Hofmeyr se meer as halfeeu lange maar onderbroke dienstyd as predikant het hy net vier gemeentes bedien: Willowmore, Prins Albert en Wynberg (tot 1899), en daarna eers weer van 1928 tot 1933 Kuruman. Vandat hy in 1881 in sy eerste gemeente ontvang is tot hy 52 jaar later sy emeritaat aanvaar het, het hy langer buite die Kerk se diens gestaan as binne.
Dié lang onderbreking was te wyte aan twee beweerde “onfatsoenlike” verhoudings met vroue, waarvan die eerste betreklik gou in die kiem gesmoor is danksy streng optrede deur die Ring van George, maar die tweede, wat ernstiger van aard was, daartoe gelei het dat hy die Kerk se diens van 1899 tot 1928 moes verlaat ná ’n bittere twis, waarskynlik juis oor sy onbetaamlike optrede, tussen hom en die kerkraad van die NG Gemeente Wynberg.
Van sy vroeë potensiaal om, net soos sy vader en ander gesiene Hofmeyr-familielede in diens van die evangelie, ‘n leidende rol in die NG Kerk te speel, het dus niks tereggekom nie. Sy broer Jan is in 1887 as predikant geskors nadat hy bedank het, ook weens onsedelike gedrag.
Toe ds. Adriaan Hofmeyr eindelik in 1933 aftree as predikant van die NG Gemeente Kuruman was hy die leraar in die NG Kerk met die langste diens, hoewel hy toe ‘n betreklik onbekende predikant van ‘n verafgeleë gemeente was. Nietemin het sommige Afrikaners hom vir altyd gebrandmerk as ’n volksverraaier omdat hy tydens die Tweede Vryheidsoorlog as agent van die Britse regering die Boere wou omhaal om die wapen neer te lê.
In Die Kerkbode van 8 November 1933 skryf ds. N.E. Nel van die NG Gemeente Daniëlskuil oor dié naweek in Oktober toe swak gesondheid ds. Hofmeyr gedwing het om sy emeritaat te aanvaar:
“Sondagmôre ná die bediening van die nagmaal en ná ‘n hartroerende gebed by die tafel van die gryse leidsman tot sy gemeente, het hy in die teenwoordigheid van ongeveer 600 mense demissie ontvang. Dit was ‘n plegtige en indrukwekkende gebeurtenis toe die byna 80-jarige ou vader voor die kansel verskyn vir die losmaking.”
Met die gemeentekonferensie die Sondagaand deel “hierdie prins van die predikers van die Ned. Geref. Kerk, met sy welluidende sterk stem, iets aan die gehoor mee van sy eie lewenservaring: ‘Een maal het ek skipbreuk gely, maar God het my lewe gered; een maal was ek so siek dat vyf geneeshere vir my geen hoop gehad het nie, maar die Heiland het my weer herstel; twee maal het mense my met rewolwers bedreig omdat ek vir my land en volk gepraat het, maar die Here het my beskerm, sodat ek nou kon aftree, op vyf maande na 80 jaar.'”
Ds. Hofmeyr lewer eers op 17 Desember 1933 sy afskeidspreek en verlaat die gemeente. Minder as ‘n week voor sy dood in 1937 het hy nog ‘n feesboodskap met die oog op die gemeente se kwarteeufeesviering in 1941 geskryf. Hy het kort hierna in Bellville in die Kaapse Skiereiland ontslaap. (Geskryf deur Morne van Rooyen).