Heyman, Heinrich Franz

 

gebore

10 Jul. 1920

OORLEDE

24 Jul. 1986

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1946

ORDEN

1947

standplase

 1947 George

1951 Misgund

1952 Port Elizabeth-Wes

1958 Rouxville

1961 Murray (De Doorns)

1964 Drakenstein-Paarl

EMERITEER

Ds Heinrich Franz (Hein) Heymann (10.7.1920 – 24.7.1986); van wie daar gesê is dat die prediking sy vreugde was en dat dit, saam met sy opregte medemenslikheid, van hom ‘n baie besondere leraar met ‘n pragtige eie stempel gemaak het, is deur die toenemende verswakking van sy gesondheid verplig om op 18.3.1979 vervroegde emeritaat te aanvaar. Hy en sy gade vestig hulle toe in Bloemfontein en daar gaan hy stil in sy slaap heen. Hy is op Heilbron in die Noord-Vrystaat gebore, maar hy groei in die aangrensende distrik PetrusSteyn op waar sy vader voor sy vertrek na Oos-Londen geboer het. Sy skoolloopbaan strek van ‘n plaasskool in Petrus Steyn se distrik tot by die Grens-Hoërskool in Oos-Londen waar hy matrikuleer, terwyl hy sy universiteits- en teologiese opleiding op Stellenbosch geniet. As student is hy o.a. voorsitter van die CSV-tak. In 1946 tot die bediening toegelaat, word hy op 14.6.1947 met oplegging van hande bevestig as leraar saam met twee ander – van die groot gemeente George met sy oor die 4 000 belydende lidmate. In sy dienstyd word in Junie 1950 twee gemeentes, George-Suid en Outeniqualand, van die moedergemeente afgestig en net na sy vertrek nog een, Blanco. Die gemeente Misgund waar hy in Junie 1951 bevestig word, is pas sewe maande vantevore tussen Uniondale en Joubertina afgestig en daar moet hy dusdadelik sy aandag o.a. aan die oprigting van ‘n plek van aanbidding wy. Slegs 16 maande later vertrek hy egter uit die landelike gemeenskap van die Middel-Langkloof om bogenoemde ds Fick se opvolger in die stadsgemeente Port Elizabeth-Wes te word. Daarna, bedien hy eers Rouxville (1958) in die Oos-Vrystaat en toe die twee Bolandse gemeentes Murray (De Doorns) (1961) en Drakenstein-Paarl (1964); voordat hy in 1971 weer Oos-Kaapland toe gaan waar hy in Somerset-Oos (1971) geen opoffering te groot ag as dit by die uitvoering van plig en naastediens kom nie. Nog ‘n gemeente, die keer in Transvaal, geniet die voordeel van sy arbeid, naamlik Bronberg, Pretoria, van 1976 af tot sy aftrede. In Oos-Kaapland dien hy as voorsitter van die Sinodale Sendingkommissie en in Wes-Kaapland vir ‘n aantal Jare in die beheerraad van die skole vir dowes en blindes op Worcester. Hy was ‘n ernstige prediker en die sending het na aan sy hart gelê. (Deur sy grootmoeder van vaderskant was hy ‘n agterkleinseun van eerw F A Schmidt wat in ‘n moeilike tyd in die bestaan van die Berlynse Sendinggenootskap se stasie Amalienstein daar ‘n groot taak verrig het.) Daarby was hy ook herder by uitnemendheid. In Die Kerkbode verskyn daar meermale artikels en preke van hom. As betreklike jong man doen hy ‘n seldsame siekte op wat ook sy voorkoms aan¬merklik verander, maar dit verryk sy geestelike lewe verder en gee hom ‘n nog groter begrip vir ander beproefdes en ‘n innige meegevoel vir siekes en bejaardes waaraan hy tot die einde toe prakties uitvoering gee. In sy bediening maak hy altyd tyd vir huisbesoek, sowel as vir besoeke aan almal vir wie hy ‘n boodskap van liefde en hoop kan bring. ‘n Week voor sy dood bring hy nog een van sy gereelde besoeke aan die Lofdalwonings vir afgetrede leraars. Vir ‘n baie wye kring was hy ‘n opregte vriend en talle van sy vriende het hy altyd met sy besoeke en in sy briewe van sy belangstelling en voorbidding verseker. In die dae van sy aktiewe bediening was dit sy lusom so dikwels en waar enigsins moontlik die Woord te verkondig, ook toe dit vir hom onmoontlik geword het om ander werk te doen. Sy verlange om in die nuwe kerk van die jong gemeente Pellissier, Bloemfontein, waar hy en sy gade in die laaste deel van sy lewe gewoon het, op te tree, is nie verwesenlik nie omdat die gebou met sy heengaan nog nie ingewy was nie, maar sy begrafnis was die eerste uit die kerk. As egte vaderlander was hy steeds trots op die groot dade van hulle wat ons land gedien het en vol bewondering vir die suksesverhale van leiers, maar dan ook diep begaan oor wantoestand en dreigende gevare. Nogtans het die ondertoon van kinderlike vertroue op die God van ons Vaders wat oor al ons lotgevalle beskik, in sy gesprekke oor die onderwerp nooit ontbreek nie. Selfs in die jare van sy latere siekte en kennelike veroudering, toe hy baie moeisaam en met behulp van twee kieries geloop het, was hy steeds ‘n voorbeeld. Sonder om ooit te kla, wou hy ten alle koste sy selfstandigheid behou en nog altyd diensbaar bly. Hy was `meer as godsdienstig – hy was vroom – ‘n kinderlike vroom man – ‘n opregte kind van God!’