Hay, Francois Jacobus

Ds. Hay Francois

.

gebore

17 Des. 1899

OORLEDE

30 Sept. 1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1938

ORDEN

1940

standplase

Gobabis

1945 Stilbaai

1949 Paul Roux

1961 Klipplaat

EMERITEER

1965

Ds Francois Jacobus (Frans) Hay (17.12.1899 – 30.9.1985) het, nadat hy eers op 39-jarige leeftyd tot die bediening toegetree het, ‘n dienstyd van ruim ‘n kwarteeu in vier gemeentes een elk in SWA en die OVS en in Wesen Oos-Kaapland gehad. Hy is aan hart en nierversaking oorlede in die hospitaal op Uitenhage waar hy na sy aftrede op 31.1.1965 gaan woon het. Uit Jansenville gebore, slaag hy st. 5 op Uitenhage. Daarna werk hy 15 jaar lank in ‘n drukkery in Port Elizabeth, voordat hy op 30 jaar weer skool toe gaan. In 1930 begin hy met st. 9 aan die Hoër Jongenskool op Stellenbosch waar hy met die blymoedige offervaardigheid van sy vrou en die skoolhoof, die bekende mnr Paul Roos, se voortdurende aanmoediging, die volgende jaar matriek slaag. Na drie jaar se volhardende studie lê hy einde 1934 die toelatingseksamen tot die Teologiese Seminare af en aan die einde van die Voortrekker-eeufeesjaar, 1938, word hy gelegitimeer. In sy huis in die Eikestad, sowel as in sy gemeentes, maak sy natuurlike opgewektheid, sy opregte godsdienssin en sy gawe om die klavier en die konsertina te bespeel en hartlik tot lof van God te sing, van hom vir sy kollegas ‘n aangename broer en vir sy gemeentelede ‘n gewilde leraar. Hoewel sy eerste eggenote en hy kinderloos was, munt hy met sy kinderdienste uit en maak hy baie kindervriende. Hy staan agtereenvolgens in Gobabis (18.5.1940 georden en bevestig); Stilbaai (1945); Paul Roux (1949) en Klipplaat (1961); Hy was die eerste eie leraar van Gobabis wat pas in November 1939 van Windhoek afgestig is en toe hy na ‘n besonder vrugbare dienstyd van vyf jaar van die gemeente afskeid neem, is daar juis ‘n mooi pastorie in aanbou. Ook in Stilbaai, waar die gewilde strande steeds groter getalle vakansiegangers – op sigself ‘n arbeidsveld – gelok het en waar die vormingsjare van die gemeente nog nie agter die rug was nie, gebruik die Here hom, soos sy voorganger, ds H E du Toit, om die gemeente steeds van krag tot krag en van oorwinning tot oorwinning te lei. Uit die teks 2 Kor. 3 v 18 – wat hy vir sy proefpreek gebruik het, het reeds sy een groot doelwit en die swaartepunt van sy voorneme as leraar geblyk: om aan die beeld van Christusgelyk te word en sy heerlikheid meer en meer uit te straal. Na sy heengaan getuig een van sy klasmaats: `Uit die ligstreep wat hy agterlaat, skitter sy laaste boodskap aan ons in ons stryd: Ons is in ‘n proses om soos Jesus te word.